Inflasie en/of groei

In Suid-Afrika was ons bekommerd toe die inflasiekoers in Mei maand 5,2% was. Maar daarna het pryse stadiger toegeneem. Die koers was 4,9% in Junie en gister het ons gehoor dit was 4,6% in Julie. Die oorsake van daardie skerp stygings was grootlik die stygings in die olieprys vanaf baie lae vlakke in 2020. Die olieprys is steeds hoog, maar die koers van stygings is nou laer. Die ander groot drywer van inflasie is voedselpryse. Daar is darem aanduidings dat dit ook teen ʼn stadiger koers kan styg in die tweede helfte van die jaar.

Teen 4,6% is die inflasiekoers naby aan die middelpunt van die Reserwebank se teikenband van 3 to 6%. Die Monetêre beleidskomittee het al ʼn paar keer hierdie jaar gesê dat hulle kyk verby tydelike stygings in pryse en gaan probeer om die repokoers vir so lank as moontlik laag te hou om die herstel van die ekonomie te ondersteun.

Dit klink soos goeie nuus, en dit is, maar dit is belangrik om te besef dat ons graag twee teenstellende dinge wil hê: ons wil graag hê die ekonomie moet vinnig groei en werkskep, maar ons wil ook lae inflasie hê. Dit gebeur gewoonlik nie saam nie. Maar wanneer die ekonomie vinnig groei neem dit oormaatkapasiteit op en later begin insette relatief skaar raak en kostes en pryse styg. So hoewel ons dankbaar is dat inflasie laag is (en rentekoerse ook), is die lae kern-inflasiekoers, wat nou weer teruggesak het na 3%, ʼn aanwyser dat die ekonomie nog nie vinnig genoeg groei om druk te plaas op pryse nie. En dit is kommerwekkend.

Lewer kommentaar