Suid-Afrika se werkloosheidskoers het ʼn nuwe hoogtepunt bereik van 34,4%. In die tweede kwartaal het die aantal mense wat in die formele nie-landbou sektor indiensgeneem is met 375 000 afgeneem. Ons kan lank gesels oor hoeveel hiervan toegeskryf kan word aan die wisselvallige herstel van die ekonomie, inperkings, en beurtkrag. Ons weet dat om werk te skep behoort ons enkele grootste prioriteit te wees, en almal wag vir daardie strukturele hervormings. Maar vandag wil ek skryf oor die aard van die werkloosheid, en of dit iets sê oor die maniere om dit te verminder.
Prof Frederick Fourie het al in 2011 ʼn artikel gepubliseer wat al die navorsing oor werkloosheid in Suid-Afrika probeer saamvat. Dit is omvattend, met baie wat mens daaruit kan neem. Ek wil probeer om van sy belangrikste gevolgtrekkings te noem:
- Eerste, het die toename of afname in werkloosheid wat te doen het met die groei van die ekonomie (die skiliese deel) kleiner geword oor tyd, want ons werkloosheid is hoofsaaklik struktureel.
- Die struktuur is dat ʼn groot deel van landbou, mynbou en nywerheidsproduksie kapitaal-intensief is. Vir elke 1 persent ekonomiese groei het indiensname in die verlede met 0,5% gegroei. So selfs al groei die ekonomie, skep dit nie baie werk nie, en die werke wat wel geskep word vereis vaardighede.
- Onderwys maak dus saak. Om matriek te hê is een van die groot verskille tussen die wat werk het en die wat nie werk het nie.
- Dan is daar is ʼn negatiewe verwantskap tussen indienname en lone. Stygende lone het tot gevolg dat daar nie baie nuwe werk geskep nie.
- Meeste werklose mense het die eienskappe van ontmoedigde werkers. ʼn Groot deel van hulle het nog nooit ʼn werk gehad nie. Die mate waartoe hulle gemarginaliseerd is maak dit moeilik om werk te soek en te kry: hulle het min vaardighede en bied hande-arbeid aan in hulle plaaslike arbeidsmark wat reeds baie hoë werkloosheid het, vir baie is die vervoerkoste om werk te soek te duur, hulle het nie die sosiale kapitaal en netwerke wat kan help werk soek nie, hulle het nie die finansiële kapitaal om self ʼn mikrobesigheid te probeer nie.
Is daar ‘n oplossing? Die staat kan nie volhoubaar werk te skep nie, die privaatsektor moet werk skep. Ek dink nie die ekonomie kan nou op ʼn arbeidsintensiewe manier groei nie – besighede besef dat om deel te wees van wêreldwye waardekettings vereis die produktiwiteit van kapitaal en arbeid met hoë-vaardigheid, en vakbonde hou van “goeie” werke wat goed betaal. Om met ons model aan te gaan beteken dat die ekonomie vir lank baie vining sal moet groei om werkloosheid te verminder en ook dat ons deur onderwys en opleiding werkers sal moet toerus vir die werke wat so geskep word. Ons sal die armste mense moet bemagtig om daardie werke te soek en te kry. Dan is die vrae, wat sal die ekonomie so vinnig laat groei, hoe moet onderwys en opleiding hervorm word, en wat maak ons met almal wat ons nie kan toerus vir hierdie wêreld nie?
Die ekonomie kan net vir lank vinnig groei deur uit te voer. Om internasionaal mededingend te wees vereis daardie hervormings waarvan almal praat – die investering in spoorlyne en hawens, die elektrisiteitsekerheid, verkies van meer hernubare bronne, die breëbandspektrum, beleidsekerheid en so voorts. Maar die konsensus bou en stadige vordering van die laaste hoeveel jaar gaan nie goed genoeg wees nie. Ek wil radikale hervorming voorstel. Hervorming wat alles privatiseer en so min as moontlik reguleer. Vergeet die vennootskappe met die staat, die meesterplanne en die teikens vir plaaslike inhoud. Stel die klein ondernemings vry van kollektiewe bedinging en hou op om te dink die informele sektor moet ingetrek word by die formele sektor. Laat die staat net probeer om eiendomsreg te verseker, wet en orde te handhaaf, en om sosiale toelae te betaal. Amper alles anders kan oop gegooi word vir mededinging.
As dit onmoontlik klink, en ons hoop is om dit wat ons nou doen net so bietjie beter en meer effektief te doen, is dit maklik om te raai wat volgende kwartaal en volgende jaar se werkloosheidskoers gaan wees.