Tag Archives: ekonomiese groei

As die wêreld-ekonomie stadiger groei

Die vorige inskrywing het verduidelik hoe mens kan dink oor die werking van die ekonomie. Nou kan jy vra: wat is die impak op die Suid-Afrikaanse ekonomie as die wêreld-ekonomie stadiger groei?weoinfo_0116

Die nuutste vooruitskattings dui daarop die die groeivooruitsigte vir die wêreld-ekonomie maar gedemp is. Die IMF se World Economic Outlook skat 3.4% groei vir 2016 en hulle infografika som die risiko’s mooi op.

Hoe ons by die punt gekom het is ‘n ander storie – dit gaan oor die sg. “great moderation” en vinnige groei van die jare 2000, die finansiële krisis en “great recession” van 2009 en die nadraai van “deleveraging”, “QE”, “austerity”, die “global savings glut”, die transformasie van die Sjinese ekonomie en ‘n klomp ander terme wat ekonome graag gebruik om die storie te vertel. Mike Schussler verduidelik die stadiger groei in terme van ‘n kommoditeite super-siklus. Maar hierdie redes is iets vir ‘n ander inskrywing – nou is die vraag, wat is die impak op die Suid-Afrikaanse ekonomie?

Lees voort

Nuutste Ekonomiese Navorsing – Die ekonomiese stelsel van Apartheid

EOAwbTwintig jaar na die einde van die apartheidstelsel kan daar geen twyfel wees nie dat sy nalatenskap aanhou om die Suid-Afrikaanse samelewing te affekteer. Inderdaad, politici noem gereeld dat die ruimtelike patrone van apartheid aanhou om in ons dorpe en stede uitgespeel te word, en dat die kultuur van geweld wat tans in Suid-Afrika voorkom sy wortels in die verlede het.

Akademiese navorsing bevestig ook dat dit die geval is, met armoede onder die swart bevolking steeds baie hoog, terwyl daar ook ʼn algemene traagheid is in die standaard van opleiding. Werkloosheid onder die swart bevolking is ook steeds ʼn probleem, en daar bly ʼn element van wantroue en nie-samewerking. Lees voort

Handige Suid-Afrikaanse data

GDP growth by BERAs jy opsoek is na lekker grafieke van die nuutste ekonomiese data moet jy die Buro vir Ekonomiese Ondersoek se maandelikse “Economic snapshot” in die hande kry.

Laai Februarie se verslag hier af.

Dit gee al die nuutste hoogtepunte:

  • Verbruikersprysinflasie is bietjie laer en op 5.3% (jaar-tot-jaar) in Desember 2014.
  • By die Januarie vergadering van die Monetêre beleidskomittee is die repo-koers onveranderd gelaat.
  • Die staafgrafiek van die ekonomiese groeikoers wys dat in 2014 het netto-uitvoer nie veel van ‘n bydra gemaak tot groei nie.

Daar is afdelings vir die besigheidsomgewing, arbeid en finansiële markte.

Sekulêre stagnasie

Sekulêre stagnasie – niks te doen met kerk of politiek nie – maar eerder die idee dat die ontwikkelde wêreld vir die langtermyn moontlik beperk gaan wees tot ʼn volgehoue lae groeikoers.

Rentekoerse van die sentrale banke van die VK, VSA en EU.

Rentekoerse van die sentrale banke van die VK, VSA en EU.

Meeste mense het nog nooit iets gehoor van ‘Sekulêre stagnasie’ nie – beslis nie as jy in Suid-Afrika grootgeword het nie – totdat Larry Summers (van Harvard Universiteit) by ʼn IMF-toespraak in November 2013 die woord weer wakkergemaak het. Hy het aangevoer dat sedert die resessie van 2008, het die ‘nul grondvloer’ op rentekoerse ʼn algemene gebeurtenis geword; toe meeste ekonome eintlik verwag het dat dit net tydelik sou wees.

Rentekoersʼn Lae rentekoers is veronderstel om te maak dat mense minder geld wil spaar (hoekom sal jy geld in die bank spaar as jy geen/baie min rente daarop trek nie?) en meer geld sal spandeer/belê in besighede (dit raak ‘goedkoop’ om geld te leen).

Inteendeel, in die huidige ekonomiese omstandighede (veral in ontwikkelde lande soos die VSA, VK en EU) is mense en besighede bang om geld te spandeer en nuwe projekte aan te pak, ten spyte daarvan dat dit nou so goedkoop is. Die ISI-groep, ʼn firma wat beleggingsadvies aan besighede gee, het opgemerk dat sedert 2008 meeste besighede in die VSA, die EU en Japan, netto spaarders eerder as netto leners geword het. Al is dit nou so goedkoop om geld te leen, doen besighede dit nie!

Ekonoom se raadDit beteken dat die rentekoers wat deur die banke aangebied word, nie laag genoeg is nie! Dit moet minder as nul word – dit moet selfs negatief word sodat diegene wat klomp spaargeld het dit sal begin spandeer eerder as om meer en meer weg te sit. Maar, die rentekoers kan nie onder nul gaan nie. Dink net wat sal gebeur – mense sal hulle geld uit die banke uithaal (waar bêre jy dit dan? Onder jou bed, in jou kas?) Ook, hoe sal dit nou werk as jy vir iemand R100 leen en hy hoef jou net R95 terug te betaal?

So dit is die groot probleem wat Summers aanvoer tans die ontwikkelde ekonomieë van die wêreld in die gesig staar. En hy dink dit gaan nog vir ʼn lang tydperk aanhou, en daardeur die groeikoers van ontwikkelde lande belemmer.

Mense moet geld spandeer vir besighede en lande om te kan groei. Besighede moet geld belê in byvoorbeeld nuwe iPhones en Smart watches, en dan meer en meer van daardie nuwe produkte verkoop sodat hul uitsette verbeter (maak meer goed), produktiwiteit verhoog (maak meer goed met minder goed) en uiteindelik meer mense kan aanstel en werk gee.

BBP groeikoerse van die VK, EU, VSA en China. Let op dat die groeikoers in ontwikkelde lande is laag.

BBP groeikoerse van die VK, EU, VSA en China. Let op dat die groeikoers in ontwikkelde lande is laag.

Vir ekonomiese groei moet die bevolking van die land aanhou toeneem en groei (elke nuwe baba kort kos, klere en ʼn fopspeen wat musiek kan maak), of produktiwiteit moet aanhou toeneem. In ontwikkelde lande het die bevolkingsgroeikoers baie gedaal, soveel so dat die verhouding tussen werkers wat onder 64 is, en dié wat ouer as 65 is, elke jaar verminder (kyk na hierdie Economist artikel). Nou is daar minder werkers om op staat te maak (tensy ontwikkelde lande hul immigrasiebeleide verander; klomp mense wil VSA toe trek…) en enige ekonomiese groei moet kom uit produktiwiteitsverbeterings. Maar, vir produktiwiteitverbeterings, moet besighede geld belê! Ongelukkig kan die rentekoerse nie laag genoeg daal om besighede en mense aan te moedig om meer geld te leen en te belê of spandeer nie, so daar gaan in die toekoms minder nuwe innoverende produkte wees (geen persoonlike huisrobotte nie L) en die BBP-groeikoers gaan maar laag moet bly.

Tensy iets anders gedoen kan word om mense en besighede aan te moedig om geld te spandeer. (Kan jy aan ʼn voorstel dink? Reply…)

Summers het ʼn omstrede oplossing: Laat mense toe om geld te leen op ʼn roekelose manier. Enige iemand en elke iemand – selfs mense wat nie die geld sal terug kan betaal nie – moet dit kan leen en gebruik (sal dit nie lekker wees as die banke net geld uitdeel vir almal nie – “no strings attached”!?) Maar, was dit nie die rede vir die ekonomiese resessie in die eerste plek nie?

Soos jy kan dink was daar nogal baie reaksie op hierdie oplossing. Party ekonome stem saam en sê dat die VSA nou ʼn nuwe era van ʼn lae groeikoers inbeweeg. Paul Krugman veral het saamgestem en gesê dat die VSA nou beslis in ʼn likiditeitsrisiko is (nominale rentekoers is baie naby aan nul) en dat terwyl “dit ʼn deug is vir ʼn individu om te spaar, is dit tans ʼn sosiale ondeug”.

Alternatiewe teorieë is ook voorgestel vir die lae groeikoers wat gesien word in ontwikkelde lande. ʼn Span bestaande uit die ekonoom Robert Gordon, belegger Peter Thiel, en populêre ekonomie-skrywer Tyler Cowen, stel voor dat die lae groeikoers eerder ʼn strukturele probleem is as gevolg van ʼn lae koers van tegnologiese onwikkeling. Meer beleggings in tegnologie gaan nie noodwendig lei tot meer vordering nie. Jy kan meer lees van hul idees in The Great Stagnation.

Ander mense sê dat dit eerder is as gevolg van slegte regeringsbeleide (John Taylor), of omdat ons die fundamentele limiet van menslike ekonomiese potensiaal bereik het (lees die Limits to Growth Hypothesis).

Tog, ten spyte van die storm na Summers se 2013-toespraak, het party mense al begin sê dat die sogenoemde ‘sekulêre stagnasie’ nie gaan plaasvind nie. Jari Stehn, ʼn ekonoom van Goldman Sachs, het ongeveer een jaar later weer na Summers se hipotese gekyk. Hy het aangevoer dat volgens die “Goldman Current Activity Indicator”, het die VSA se ekonomie 3% in 2014 gegroei. Daarom is die groeiprobleem in die VSA dalk meer siklies as sekulêr, alhoewel die situasie in die EU lyk asof dit dalk meer van ʼn langtermyn probleem gaan wees.

Marc Andreessen, ʼn bekende Amerikaanse entrepreneur, het ook op Twitter hom uitgespreek teenoor Summers. Sy redenasie is dat die VSA-ekonomie te veel kapitaal en te min geleenthede vir winsgewende beleggings het (miskien as gevolg van te veel rompslomp). Natuurlik het Larry Summers daarop gereageer.

summers-tweetDaar is baie meer wat gesê kan word, selfs ʼn gratis e-boek wat jy kan aflaai en lees vir al die nuutste navorsing en argumente oor die tema. Wat duidelik is, is dat daar ʼn lae BBP-groeikoers is in die ontwikkelde lande en dat sonder ʼn langtermyn oplossing vir die onderliggende demografiese probleem van lae populasiegroeikoers, gaan die produktiwiteitsgroei wat nodig is om die verlies/verlaging in werkers te verreken, dalk nie genoeg wees om die ontwikkelde lande vry te maak van ʼn langtermyn lae groeikoers nie.

Vooruitsigte vir die Suid-Afrikaanse ekonomie in 2015

Hierdie tyd van die jaar gee ekonome graag hulle mening oor die vooruitsigte vir die ekonomie en daar is nie ʼn tekort aan vraagstukke om te noem nie. Hierdie weblog gaan fokus op die vooruitsigte vir ekonomiese groei (ons los eers vir werkloosheid, ongelykheid en die ander uitdagings).

ekonomiese groeiMaar eers, wat presies bedoel ons met ekonomiese groei? Ja, dit is die groeikoers van die BBP en in die derde kwartaal van 2014 was dit 1.4%, maar wat is die aard van die groei, wat dryf die groei?

  • Groei kan gedryf word deur besteding, of totale vraag, in die ekonomie. As verbruiksbesteding, investering, owerheidsbesteding of uitvoer vinnig groei, dan groei die ekonomie.
  • Die potensiële groeikoers is so rondom 3.5% per jaar (lees die SARB navorsing hieroor). Dit is wat ons kan bereik met bestaande hulpbronne, maar soos wat fisiese, of menslike kapitaal, of tegnologie ontwikkel sal die ekonomie vinniger groei in die oorgang na die nuwe vlak van potensiële BBP (Dietz Wolrath het ‘n mooi verduideliking hiervan). Dinge wat die produktiewe kapasiteit van die ekonomie as geheel verhoog, dra dus ook by tot groei.

So hoe lyk die vooruitsigte vir hierdie vraagkant en aanbodkant drywers van groei? (Hier is ‘n seining uit 2014)

Verbruiksbesteding (C)

Ons weet dat verbruiksbesteding is ongeveer 60% van die waarde van BBP en faktore wat verbruikers positief beïnvloed sal dus ook bydra tot groei. Hier is die positiewe invloede die afname in die olieprys en laer voedselprysinflasie. Vanaf die middel 2014 tot vroeg in Januarie 2015 het die olieprys met 45% afgeneem. Die brandstof prys het met meer as R3 per liter afgeneem sedert Augustus 2014. Ekonoom Mike Schussler reken dat die gemiddelde motoris spaar R440 per maand, of ongeveer 4.5% van besteebare inkomste. Met ʼn goeie mielie-oes en laer brandstofpryse het wêreldwye voedselprysinflasie afgeneem na net 2.5% in November 2014. Dit beteken daar is meer geld in verbruikers se sakke. Huishoudings is ook in ʼn beter posisie om hulle skuld te diens. FNB se indeks wat huishoudings se risiko meet om nie hulle skuld te kan terug betaal nie, het in die derde kwartaal van 2014 afgeneem.

Uit ʼn makro-ekonomiese perspektief is daar redes om te glo dat rentekoerse onveranderd kan bly. As inflasiedruk minder is, het die Reserwebank minder rede om rentekoerse te verhoog. Die kans vir sogenaamde “tapering” in die VSA lyk ook klein. Onthou, “tapering” kan plaasvind as die Federale Reserwebank nie meer hulle uitbreidende monetêre beleid volg nie en rentekoerse verhoog – en dan sal Suid-Afrikaanse rentekoerse moet verhoog. Op die oomblik lyk dit of die VSA se ekonomie mooi herstel, maar daar is geen inflasiedruk wat hoër rentekoerse vereis nie. In die EU en Japan gaan uitbreidende monetêre beleid gevolg moet word. Die SARB het dus nie ʼn rede om koerse te verhoog nie.

Dit lyk dus of daar bietjie minder druk op huishoudings kan wees in 2015, maar ons moet nie op hulle reken dat net hulle verbruik die ekonomie vinniger sal groei nie. Dit is nog onduidelik of belastingverhogings aangekondig sal word tydens die begroting. Daar is argumente dat die Minister nie die volle voordeel van die brandstofprysverlagings aan die verbruiker moet deurgee nie, maar eerder die brandstofheffing moet verhoog om bykomende belastinginkomste te verdien. Net so kan verswakking van die wisselkoers beteken dat ingevoerde goedere heelwat duurder word en vir verbruikers minder ruimte in hul begrotings laat.

Investering (I)

Bruto vaste kapitaalvorming is ongeveer 19% van die waarde van BBP en ʼn moeilike een om vooruit te voorspel. Investering kan bevoordeel word deur die laer brandstofpryse en stabiele rentekoers-omgewing hierbo beskryf, maar daar is talle ander faktore wat ʼn negatiewe impak kan hê – die probleme by Eskom is seker die grootste. Besighede gaan nie sommer in nuwe kapitaal belê as die beskikbaarheid en koste van elektrisiteit in gedrang is nie. Daar is ook onsekerheid oor nuwe beleide en arbeidsverhoudinge, saam met stadige groei in die res van die wêreld-ekonomie wat investering sal wisselvallig maak. Daar is ook groot onsekerheid oor wat hierdie jaar op die aandelebeurs gaan gebeur.

Die owerheid (G)

Owerheidsbesteding is ongeveer 22% van die waarde van BBP en net so belangrike komponent van besteding. Streng gesproke gaan die owerheid ʼn bydra maak tot die groei van die ekonomie omdat daar ʼn begrotingstekort gaan wees (besteding meer as belasting). Hier is die uitdaging om die kapitaalmarkte (en graderingsagentskappe) wat dit moontlik maak om die tekort te finansier, te oortuig dat dit volhoubaar gedoen kan word. Die owerheid is die afgelope paar jaar onder druk om besteding meer effektief te maak en die tekort (en staatskuld) kleiner te maak. Die Davis kommissie is aangewys om belastingvoorstelle te maak om inkomste te verhoog. Owerheidsbesteding en belasting is nie die komponente van totale vraag wat ekonomiese groei gaan dryf in 2015 nie.

Die res van die wêreld (X-Z)

In die res van die wêreld lyk groeivooruitsigte vir uitvoerders ietwat beter as die laaste paar jaar, maar dit bly gedemp. Die VSA se ekonomie is darem nou aan die gang, maar in die EU en Japan is daar sprake van deflasie. Sjina is nie meer die enjin van groei wat dit oor die laaste dekade was nie en in Afrika lande se ekonomieë gaan swaarder trek met die laer kommoditeitspryse. Suid-Afrika sal dus moeilik uitvoer kan gebruik as ʼn dryfveer vir ekonomiese groei.

Alles saam is daar dus nie baie sterk drywers van ekonomiese groei nie.

Aanbodkantfaktore wat produktiewe kapasiteit verhoog

Mens kan lang stories skryf oor die positiewe en negatiewe skokke (ook beleidskokke) wat Suid-Afrika se potensiële BBP kan verhoog of verlaag. Die owerheid se infrastruktuur-investering kan byvoorbeeld produktiewe kapasiteit verhoog. Net so kan mens hoop dat nywerheidsontwikkelingsinisiatiewe, uitvoerbevordering of beleggings in wetenskap en tegnologie ʼn groot verskil kan maak. Aan die ander kant kan die agteruitgang van onderwys en opleiding, of ondeurdagte grondhervorming potensiële BBP ʼn knou toedien.

Nie een van hierdie voorbeelde gaan egter die groeikoers in 2015 direk beïnvloed nie. Die belangrikste bydrae kan moontlik vanaf die voltooiing van die Mdupi kragstasie kom. Daardie “ekstra” kapasiteit gaan egter baie gou opgeneem word deur ʼn stelsel wat onder druk is en gaan nie persentasiepunte by die groeikoers voeg nie. Dit beteken nie dat ons moet ophou om die regte goed te doen nie. Investering in infrastruktuur en mense-kapitaal is van uiterste belang, maar dit gaan groei dryf oor die baie lang termyn.

Bygewerk op 19/01: Prof Raymond Parsons gee ‘n goeie opsomming van die groei vooruitsigte in Business Day.

Om op te som:

Drywer Goed vir groei Sleg vir groei
Verbruikers
  • Laer brandstofprys
  • Laer voedselprysinflasie
  • Stabiele rentekoersomgewing
  • Dalk nie al die voordeel van die laer olieprys nie – brandstofheffing
  • Ander nuwe, of hoër belasting?
  • Swakker rand maak ingevoerde produkte duur
Investering
  • Laer brandstofprys
  • Stabiele rentekoersomgewing
  • Groei in enkele uitvoermarkte
  • Dalk nie al die voordeel van die laer olieprys nie – brandstofheffing
  • Ander nuwe, of hoër belasting?
  • Swakker rand maak ingevoerde insette duur
  • Probleme by Eskom
  • Onseker arbeidsverhoudinge en 2015 loononderhandelinge
  • Deflasie in die EU, Japan, stadiger groei in Sjina en Afrika
Owerheid
  • Daar sal ʼn begrotingstekort wees wat totale vraag verhoog
  • Nuwe of hoër belasting?
  • As die kapitaalmarkte en graderingagentskappe nie dink dat die tekort volhoubaar is nie, gaan die rentekoerse waarteen dit gefinansier word, styg
Die res van die wêreld
  • Herstel van die VSA se ekonomie, maar nie so dat hul uitbreidende monetêre beleid gou beëindig gaan word nie
  • Stadige groei orals anders
  • Onsekerheid oor ontluikende markte plaas druk op die wisselkoers

Hoe dink ons oor die werking van die ekonomie

Voor ‘n mens sinvol kan begin skryf oor watter invloed die olieprys, elektrisiteits-voorsieningsprobleme, groei in die VSA, of deflasie in die EU ekonomie, op ons kan hê, kan dit dalk help om te verduidelik hoe mens oor die Suid-Afrikaanse ekonomie kan dink.

ue strikes backJy kan natuurlik met die ekonomiese kringloop begin, of die nasionale rekeninge oopslaan en na die data begin kyk, maar wanneer enige ekonoom interpreteer wat hy of sy sien, is daar ook  ‘n groot deel Makro-ekonomie denkskool ter sprake. In sy boek, The undercover economist strikes back, verduidelik Tim Harford die basiese onderskeid. Aan die een kant is daar Keynesiaanse ekonome wat die ekonomie beskou soos ‘n motor-enjin wat af en toe deur ‘n werktuigkundige verstel moet word. Aan die ander kant is daar die neo-klassieke denkskool wat voel dat die motor-enjin werk altyd perfek en as iets skeef loop is dit waarskynlik die bestuurder se skuld! Hy verduidelik dit natuurlik baie mooier en in meer besonderhede. Hy maak dit duidelik dat die aard van die makro-ekonomiese probleem wat ondervind word (resessie, inflasie, deflasie), bepaal watter beleid toepaslik is. Dit is ‘n goeie boek, maar nog steeds ‘n vereenvoudiging ‘n komplekse debat in Ekonomie. Sedert die finansiële krisis van 2008/09 woed daar die sogenaamde “Macro wars” in ons veld. Om die resessie wat die krisis gevolg het teen te werk was daar monetêre uitbreiding (geldskepping en lae rentekoerse – “QE” en “operation twist”) en bekommernis dat dit nie gaan werk by die sogenaamde “zero-lower bound” nie. Ander het gevrees dat dit dalk kan lei tot hiper-inflasie. Daar was die argumente vir fiskale uitbreiding, teenoor die saak vir “austerity” en hewige debatte oor die “confidence fairy”. Daar is Keynesiane, Real Business Cycle (RBC) teorie, Dynamic Stochastic General Equilibrium (DSGE) modelle en ‘n klomp ander duistere terme genoem binne die econoblogosphere. Gevoelens is seergemaak. Die punt is egter dat dit is glad nie eenvoudig om te verduidelik hoe ekonome oor die ekonomie dink nie.

Vir die doeleindes van hierdie weblog wil ons graag die volgende skema voorstel.

Hoe dink ons oor die ekonomie

Al die elemente van hoe ons kan dink oor die ekonomie – geïnspireer deur ‘n aanbieding deur ‘n ekonoom van die Buro vir Ekonomiese Navorsing in Stellenbosch

Dit is nie ‘n model nie, maar ‘n visuele voorstelling van die dinge waaraan mens kan dink wanneer jy oor die ekonomie wil praat. Dit wys nie al die komplekse interverwantskappe nie, maar ons sal dit bespreek soos nodig. En jy kan dit laai met jou denkskool-idees, maar die skema gaan jou dwing om te sê watter aannames jy waar maak.

Nou kan die Grensnut weblog begin loop.