Waldo Krugell

Januarie 21, 2016

Ons koppel die nuutste ekonomiese nuus en data aan die Graad 10, 11 en 12 CAPS leerplan.

  • Jy kan volgens die leerplan se onderwerpe soek.
  • Of ‘n soektog probeer met die trefwoorde uit jou opdrag of taak.
  • Of stuur vir ons ‘n epos met jou Ekonomie-navraag: ekonomieblog@gmail.com

As jy Ekonomie wil studeer op universiteit, kyk gerus na die Skool vir Ekonomie by die NWU se Potchefstroomkampus en volg ons op Facebook.

Interessante nuwe belasting?

Die Minister van Finansies, Pravin Gordhan, het vanmiddag die Begrotingsrede in die Parlement gelewer en dit was ‘n interessante een. Daar is groot planne vir besuiniging, maar nie die verhogings in BTW of die belastingkoerse van top-verdieners wat baie ekonome verwag het nie. As jy meer wil uitvind oor wat die Minister alles gesê het, hoef jy nie bekommerd te wees nie – daar is baie goeie hulpbronne beskikbaar:

Een van die interessante elemente van die Begroting is die nuwe belastings wat die Minister aangekondig het op buitebande, ‘n verhoogde heffing op plastieksakke en ‘n belasting op gaskoeldrank.

Nie een van hierdie bied ‘n belastingbasis wat groot geld gaan inbring vir die owerheid nie. Hierdie is sogenaamde Pigouviaanse belastings wat daarop gemik is om mense te dwing om die eskterne koste van hulle optrede in ag te neem. Die besoedeling wat die ou motorbande of plastieksakke veroorsaak, of die gesondheidsprobleme wat al daardie suiker veroorsaak, behoort minder te wees as dit duurder is om dit te gebruik!

Onder die Graad 11 hulpbronne verduidelik ons wat navorsing oor die belasting op plastieksakke bevind het.

The Economist se Money Talks podcast het weer ‘n puik 2015 insetsel oor belasting op gaskoeldrank. Hulle verduidelik mooi dat dit ‘n groot besluit is want die belasting beïnvloed mense se gedrag, dit kan ‘n verskil hê in impak op ryk en arm.

Die 2016 Begrotingsrede

Pravin-Gordhan

Fiskale disipline in aksie: Minister Gordhan vlieg ekonomiese klas van die Kaap na Johannesburg na afloop van die Staatsrede

Woensdagmiddag lewer Minister Pravin Gordhan die Begrotingsrede in die Parlement en dit word alom beskryf as een van die belangrikste begrotings sedert 1994. Daar is baie sinvolle vooruitskouings en ontledings beskikbaar en ek wil nie weer dieselfde goed as almal anders sê nie – doen sommer net ‘n Google soektog vir “Budget speech” of “Begroting 2016”. Ek dink daar is ‘n behoefte aan ‘n Q&A wat so bietjie deur die klankgrepe sny.

Hoekom is die 2016 Begroting so belangrik?

Omdat die ekonomie baie stadig groei is die owerheid se finansies onder druk en die begroting is die een kans wat die Minister het om almal te oortuig dat daar ‘n plan is en dat dit weer sal goed gaan.

Onthou, die owerheid bestee meer as sy belastinginkomste en die verskil word geleen. Wanneer die ekonomie stadig groei is daardie belastinginkomste nog kleiner as beplan, want werkers kry nie verhogings  nie en ondernemings maak nie groot wins nie. Selfs al bly besteding dieselfde, moet daar dus meer geleen word. Daardie “almal” wat die Minister moet oortuig van sy plan is dus eerstens die beleggers wat staatskuld koop en die kredietgraderings-agentskappe. Hulle wil sien dat die owerheid se besteding en belasting volhoubaar is – dat hulle kan aanhou om vir ons geld te leen teen billike rentekoerse, want ons sal kan aanhou terugbetaal.

Om die staatsfinansies op ‘n volhoubare koers te hê beteken eenvoudig dinge soos:

  • besteding moet nie baie vinniger as belastinginkomste groei nie.
  • die rente op die staatskuld moet nie ‘n te groot deel van besteding word nie.
  • die owerheid moet  nie geleende geld gebruik om lopende uitgawes soos salarisse te betaal nie.
  • die begrotingstekort as persentasie van BBP moet nie te groot wees nie.
  • die staatskuld as persentasie van BBP moet nie groot wees nie.

Continue reading

Dinamiese pryse

In Ekonomie leer ons dat ‘n verandering in die prys lei tot ‘n verandering in die hoeveelheid gevra of die hoeveelheid aangebied. Teen ‘n hoë prys vra verbruikers min van ‘n produk, maar verkopers bied ‘n groot hoeveelheid aan as die prys hoog is.

VraagAanbodPryseDaar is ook ‘n klomp faktore wat kan lei tot ‘n verskuiwing van die hele vraagkromme of die hele aanbodkromme. In die grafiek hier aan die regterkant is daar ‘n toename in die hoeveelheid gevra teen elke prys – die hele vraagkromme skuif na regs. Die eindresultaat is dat die hoeveelheid aangebied ook toeneem en vraag en aanbod is weer in ewewig teen ‘n hoër ewewigsprys en -hoeveelheid.

In die praktyk is daar egter min voorbeelde waar hierdie proses vinnig en ooglopend plaasvind. Meeste pryse is stram / “sticky” en verander stadig in reaksie op veranderinge in vraag en aanbod. Die tipiese voorbeelde is van varsprodukte wat nie gestoor kan word nie, of dalk ander kommoditeite of aandele.

‘n Lekker praktiese voorbeeld vir die moderne era is die taxi-diens genaamd Uber.

“Uber is an app that connects passengers with drivers of vehicles for hire and ridesharing services”. Dit het in die VSA begin, maar jy kan nou ook Uber se dienste in Johannesburg en Kaapstad gebruik. Die pryse is gewoonlik tussen R50 en R70 vir ‘n rit, maar wanneer daar ‘n toename is in die vraag, skiet die pryse op. Uber noem dit “surge pricing”. Continue reading

Gaan die studie van Ekonomie jou selfsugtig maak?

dilemma

Op die Evonomics blog skryf Prof Adam Grant dat daar al hoe meer bewyse is dat die studie van Ekonomie jou meer selfsugtig maak. Hy gee ‘n klomp voorbeelde van studies wat bevind dat Ekonomie studente minder geneig is om saam te werk of vrywillige bydraes te maak. Moet jy bekommerd wees?

Ek dink nie so nie. Wat Prof Grant miskyk is dat Ekonomie studente opgelei word die speletjies wat in die navorsings gebruik word, te speel, en dus weet wat die “regte” ekonomie antwoord is. Hulle is nie meer selfsugtig nie, hulle verstaan net hoe mense tipies dink en gebruik dit tot hulle voordeel.

Dit gaan spesifiek oor die sogenaamde dilemma van die gevangenis uit die veld “spel teorie” / “game theory” wat deel is van Mikro-ekonomie. Die storie is dat twee vermeende inbrekers deur die polisie betrap word. Hulle is verdagtes, maar die polisie het nie genoeg bewyse dat hulle die skuldiges is nie. Nou word hulle ondervra (dink “good cop, bad cop”) en hulle opsies is in die tabel. Continue reading

‘n Klein, oop ekonomie

Die afgelope week was daar kommerwekkende nuus dat Suid-Afrika in 2015 minder toeriste ontvang het en ook minder buitelandse investering. Hoekom is dit ‘n probleem? Moet ons nie juis self-onderhoudend kan wees nie?

3 gapingsDie kort antwoord is nee. Suid-Afrika is ‘n klein, oop ekonomie met drie belangrike tekorte: ons investeer meer as wat ons spaar, die owerheid bestee meer as sy inkomste en ons voer meer in as wat ons uitvoer. Ons leef eintlik op skuld en ongeveer 10% van die BBP word gefinansier deur buitelandse beleggers. Of anders gestel, sonder hulle sal ons gordels 10% stywer getrek moet word.

So wat sê die UNCTAD verslag (soos RDM dit vertel)? Direkte buitelandse investering in Afrika het met 31% afgeneem in 2015. In Suid-Afrika het buitelandse investering met 74% afgeneem tot $1.6 miljard. Mosambiek het $3.8 miljard ontvang en Nigerië $3.4 miljard.

Continue reading

As die wêreld-ekonomie stadiger groei

Die vorige inskrywing het verduidelik hoe mens kan dink oor die werking van die ekonomie. Nou kan jy vra: wat is die impak op die Suid-Afrikaanse ekonomie as die wêreld-ekonomie stadiger groei?weoinfo_0116

Die nuutste vooruitskattings dui daarop die die groeivooruitsigte vir die wêreld-ekonomie maar gedemp is. Die IMF se World Economic Outlook skat 3.4% groei vir 2016 en hulle infografika som die risiko’s mooi op.

Hoe ons by die punt gekom het is ‘n ander storie – dit gaan oor die sg. “great moderation” en vinnige groei van die jare 2000, die finansiële krisis en “great recession” van 2009 en die nadraai van “deleveraging”, “QE”, “austerity”, die “global savings glut”, die transformasie van die Sjinese ekonomie en ‘n klomp ander terme wat ekonome graag gebruik om die storie te vertel. Mike Schussler verduidelik die stadiger groei in terme van ‘n kommoditeite super-siklus. Maar hierdie redes is iets vir ‘n ander inskrywing – nou is die vraag, wat is die impak op die Suid-Afrikaanse ekonomie?

Continue reading

Hoe dink ons oor die werking van die ekonomie?

Die laaste paar maande voel dit of ekonomiese nuus oral op die voorgrond is, ekonome gee daagliks opinies oor wat die impak van die droogte / die rand / die kredietgraderings-agentskappe op “die ekonomie” is. Om sin te maak van die nuuste syfers of opinies moet jy ‘n eenvoudige model hê van hoe die ekonomie werk. Hierdie eerste inskrywing van 2016 stel so manier van dink voor…

Continue reading