Entstof aansporings

Ek is een van daardie mense wat dink die entstof is die oplossing. Die entstof is die beste manier om te verseker dat minder mense ernstig siek word, in die hospitaal beland en doodgaan. As ons daardie slegste gevolge van die virus kan voorkom, kan ons die skole en kerke oop hou, vakansies bespreek, en leer om “normaal” met die virus saam te leef. Maar hierdie plan werk die beste wanneer meeste mense ingeënt is.

Eers was ons bekommerd oor hoe ons vir die entstof gaan betaal. Toe dat die regering dit te laat bestel het en te stadig uitgerol het. Nou dat daar al ‘n goeie klomp mense ingeënt is, en ‘n groot besending entstofdosisse oppad is, is ons bekommerd oor “vaccine hesitancy”, en die geld om die inentingsprogram te bemark het verdwyn in die Digital Vibes skandaal. Hoe nou gemaak? Dit lyk of dit meer as mooipraat gaan vereis deur Ministers en mediese kenners, maar dalk kan gedragsekonomie ‘n paar leidrade gee.

“Behavioural economics” is ‘n kombinasie van ekonomie en sielkunde en ondersoek mense se keuses en gedrag. Dit vind praktiese toepassing deur sogenaamde “nudges” – ‘n hupstoot om mense te kry om besluite te neem wat nie net goed is vir hulle self nie, maar ook vir die gemeenskap. Binne die veld is daar al baie navorsing gedoen oor of wortels of stokke beter werk en oor die algemeen reageer mense beter op ‘n aansporing as ‘n straf. En dit bring ons by die entstof.

Reg oor die wêreld word daar verskillende aansporings gebruik om mense te kry om ingeënt te word. In die VSA het President Biden plaaslike owerhede aangemoedig om mense aan te spoor met ‘n $100 betaling. In Moskou het hulle ‘n lotery met 5 karre per week as prys, in Kalifornië is daar ‘n lotto, in ‘n dorpie in die Filipyne kan jy ‘n sak rys kry, en in ‘n dorpie in Sjina ‘n lewendige hoender. Maatskappye gee ook verskillende aansporings, soos gratis koffie, of Crispy Creme.

Daar is ook al heelwat studies gedoen oor watter aansporing beter werk. Sekere mense word meer agterdogtig as hulle betaal moet word om die entstof te kry. Ander vind dit moeilik om te registreer op ‘n stelsel en om by ‘n sekere plek aan te meld, sodra die program oopgegooi word vir almal, en jy kan gaan op ‘n tyd en plek wat jou pas, dan gaan mense.

As die aansporings nie werk nie is daar plekke wat strawwe oorweeg. Mense wat nie ingeënt is nie kan toegang tot restourante en byeenkomste geweier word. As jy vir die regering werk in die VSA en nie ingeëent is nie moet jy twee keer ‘n week ‘n Covid toets doen en reise vir werksdoeleindes word beperk. Sommige lande praat van boetes en selfs tronkstraf.

My siening is dat net een plan nie in Suid-Afrika sal werk nie. Ons gaan ‘n paar benaderings nodig hê omdat ons eintlik twee lande in een is. Middelklas en welvarende mense wat in die formele sektor werk se werkgewers kan vir hulle aansporings aanbied, hulle kan dalk ‘n voordeel by hulle mediesefonds kry, of ‘n klein aftrekking van hulle belasbare inkomste. Hulle kan maklik deur ‘n huisdokter en plaaslike apteek bereik word. Die sogenaamde “tweede ekonomie” se mense werk in die informele sektor, of is werkloos, en gebruik die openbare gesondheidstelsel. Maar daar het Suid-Afrika eintlik kosbare ervaring van veldtogte teen TB en HIV/Vigs. Daar is gemeenskapsgesondheidswerkers wat mense op voetsoolvlak kan bereik.

Daar is nie tyd om te mors nie – maar die tyd is altyd reg om die regte ding te doen. Gaan kry jou inenting.

Lewer kommentaar