Tag Archives: wisselkoers

‘n Klein, oop ekonomie

Die afgelope week was daar kommerwekkende nuus dat Suid-Afrika in 2015 minder toeriste ontvang het en ook minder buitelandse investering. Hoekom is dit ‘n probleem? Moet ons nie juis self-onderhoudend kan wees nie?

3 gapingsDie kort antwoord is nee. Suid-Afrika is ‘n klein, oop ekonomie met drie belangrike tekorte: ons investeer meer as wat ons spaar, die owerheid bestee meer as sy inkomste en ons voer meer in as wat ons uitvoer. Ons leef eintlik op skuld en ongeveer 10% van die BBP word gefinansier deur buitelandse beleggers. Of anders gestel, sonder hulle sal ons gordels 10% stywer getrek moet word.

So wat sê die UNCTAD verslag (soos RDM dit vertel)? Direkte buitelandse investering in Afrika het met 31% afgeneem in 2015. In Suid-Afrika het buitelandse investering met 74% afgeneem tot $1.6 miljard. Mosambiek het $3.8 miljard ontvang en Nigerië $3.4 miljard.

Lees voort

Wisselkoerse en ondernemings

Ons het ‘n navraag gekry oor hoe wisselkoerse ondernemings beïnvloed en skryf graag ‘n kort antwoord.

Daar is baie en uiteenlopende navorsing oor wisselkoerse. ‘n Deel van die veld kyk na sogenaamde ewewigskoerse en of bv. die rand, oorgewaardeer of ondergewaardeer is relatief tot die ewewig (daar is al ‘n grensnut storie oor die Big Mac indeks). Ander studies kyk weer na hoe uitvoerders reageer op veranderings in die wisselkoers. Aan die invoerkant is daar ook studies wat kyk na hoeveel van ‘n appresiasie of depressiasie word deurgegee aan verbruikers (die term is “exchange rate pass through”). Maar kom ons praat net eers oor die basiese beginsels.

Die mate waartoe die wisselkoers ‘n invloed het op ondernemings hang af van van die mate waartoe die ondernemings se bedrywighede iets te doen het met internasionale handel.

As die onderneming uitvoer:

  • Dan maak die onderneming sy inkomste in dollar of euro, maar sy koste (betalings aan produksiefaktore) moet in rand gebeur. Dan is die wisselkoers baie belangrik. As die rand appresieer, met ander woorde sterker word teenoor die dollar, beteken dit dat jy minder rande nodig het om ‘n dollar te koop. Vir die uitvoerder beteken dit dat hulle minder rande kry wanneer hulle dollar inkomste die land in kom. ‘n Sterker rand is sleg vir uitvoerders se inkomste en sal dus hulle winsmarges en eindelik hulle hele besigheid onder druk sit.
  • Die omgekeerde is waar wanneer die rand verswak, of depresieer, teenoor die dollar. Die uitvoerder kry sy inkomste in dollar, maar ruil dit terug vir meer rande vir elke dollar. DIe onderneming is skielik meer winsgewend.

Daar is goeie Suid-Afrikaanse navorsing oor die makro-ekonomiese gevolge van veranderings in die wisselkoers. Edwards & Garlick se opsomming sê alles:

The exchange rate plays a central role in public debate around trade and trade policy in South Africa. The general view is that depreciation enhances export competitiveness, encourages export diversification, protects domestic industries from imports and ultimately improves the trade balance. This paper reviews the theoretical and empirical relationship between the exchange rate and trade flows in South Africa. Trade volumes are found to be sensitive to real exchange rate movements but nominal depreciations have a limited long-run impact on trade volumes and the trade balance, as real effects are offset by domestic inflation. Policy should not focus on the exchange rate, but on the fundamental determinants of the profitability and competitiveness of domestic exporters and import competing industries: productivity enhancement, infrastructure, constraints to business operations and production costs, including labour costs.

Die omgekeerde van die storie is waar wanneer die onderneming produkte invoer, of van ingevoerde insette gebruik maak.

  • As die rand appresieer teenoor die dollar, gee die onderneming minder rande vir elke dollar en ingevoerde produkte is goedkoper in rand-terme.
  • As die rand depressieer teenoor die dollar moet die ondernemning meer rande ruil vir elke dollar en die ingevoerde produkte word duurder.

Die punt van die storie is dat ‘n verandering in die wisselkoers sny altyd na twee kante toe. Iemand word tydelik bevoordeel en ‘n ander party tydelik benadeel.

Die Big Mac en die wisselkoers

Verlede week het The Economist hulle Big Mac Indeks vir 2015 bekend gemaak. Dit is gebasseer op die teorie van koopkragpariëteit: wanneer ‘n produk op wêreldmarkte verhandel word, behoort dit in elke land dieselfde prys (in dollar) te hê. The Economist gebruik dan McDonalds se Big Mac, wat ‘n feitlik identiese produk is, wat in baie lande beskikbaar is, om afleidings te maak oor wisselkoerse. Wanneer die prys van ‘n Big Mac in Suid-Afrika (uitgedruk in dollar) verskil van die prys in die VSA, het jy ‘n maatstaf van die moontlike oor- of onderwaardasie van die wisselkoers.

Big Mac IndexThe Economist gee ‘n mooi kaart, staaf- en lyn- grafiek wat wys watter lande se wisselkoerse oor- of onder-gewaardeer is teenoor die VSA dollar. Dit is interaktief, so gaan speel gerus op hulle webblad en vergelyk Suid-Afrika met ons mededingers in BRICS, of met die ander lede van die sg. fragile five.

In Suid-Afrika kos ‘n Big Mac R25.50, wat teen die “spot” wisselkoers van R11.48 per dollar dus omskakel na ongeveer $2.22. In die VSA kos ‘n Big Mac $4.79 en daarom is die rand volgens die indeks ongeveer 53% onderwaardeer [die berekening is eenvoudig (($4.79 – $2.22)/$4.79)*100 = 53%]. Ons wisselkoers “behoort” R5.32 per $ te wees om die dollar pryse van die Big Macs gelyk te stel.

Voor enige iemand te opgewonde raak oor die moontlikheid dat die wisselkoers gaan versterk (appresieer), is daar ‘n paar dinge om te verduidelik. Eerste is die teorie van koopkragpariëteit gebou op die idee dat die betrokke produkte internasionaal verhandel word en Big Macs word nie ingevoer of uitgevoer nie. Mens kan argumenteer dat die bestandele soos meel, vleis, tamaties ens. word internationaal verhandel en via die insette behoort die wet-van-een-prys te geld. Maar dit omvat natuurlik nie al die koste-elemente van ‘n Big Mac nie. Die arbeid om dit te maak, of die huur van persele op verskillende plekke word nie internationaal verhandel nie. Dan is daar natuurlik al die ander faktore wat lei tot verskille in pryse tussen lande wat ook nie in ag geneem word nie. Dit sluit in handelsversperrings soos tariewe en kwota’s, en onvolmaakte mededinging. Pakko & Pollard gee ‘n omvattende verduideliking.

Big mac grafiekDie tweede belangrike punt om te maak is dat die wisselkoers nie net bepaal word deur die handel van goedere en dienste nie. Finansiële vloeie is heelwat groter. Buitelanders wat in Suid-Afrika in aandele of staatskuld wil belê het ‘n vraag na rand en aanbod van dollar. Suid-Afrikaners wat oorsee wil reis of aandele in die buiteland wil koop het ‘n vraag na dollar en aanbod van rand. Dit alles kan ‘n invloed hê op die wisselkoers wat niks te make het met Big Macs nie.

As die mark alles in ag neem en die wisselkoers is vandag ongeveer R11.68 per dollar, moet ons vra hoekom is dit nie R5.32 per dollar nie? Wat beteken die swakker koers?

Dit beteken eenvoudig dat ons uitvoer produkte en finansiële bates nie mededingend is nie – nie in aanvraag is nie. Ons kry die goed net verkoop as dit vir buitelanders goedkoop is – as hulle min dollars gee vir elke rand. Die grafiek hierbo wys dat om ‘n koers van R5.32 per dollar te kry moet die aanbodkromme van dollars na regs skuif. Dit is dieselfde as om te sê die vraag na rand moet toeneem. Buitelanders moet op ‘n baie groter skaal rande vra en dollars aanbied om ons uitvoerprodukte en finansiële bates te koop.

Dit word dan ‘n baie groter vraag stuk – hoe kan ons mededingend produseer wat die wêreld wil koop, hoe maak ons die maatskappye op die effektebeurs goeie beleggings, hoe verseker ons ‘n veilige opbrengs op skuldinstrumente?

Die Big Mac indeks is interessant, maar moet met ‘n knippie sout geneem word.