Tag Archives: monetêre beleid

Die repo-koers is verhoog…

Maar was dit die regte besluit? SARB Transmission graph

Verlede week het die Reserwebank se monetêre beleidskomittee die repo-koers verhoog en ekonome het heelwat hieroor te sê.

Onthou, die SARB se mandaat is om inflasie naby die mikpunt te hou – in a and tussen 4% en 6%. Die repo-koers (die koers waarteen banke geld leen by die SARB) is die belangrikste instrument wat hulle het om dit mee te doen. Inkrimpende monetêre beleid beteken dat hulle die repo-koers verhoog, om inflasie te verlaag. Deur verskillende kanale wil hulle die totale vraag in die ekonomie, spesifiek verbruiksbesteding en investering, verminder.

Die kanale waardeur hierdie meganisme werk word in die figuur hierbo verduidelik.

  • Die een wat die maklikste is om te verstaan werk deur kommersiële rentekoerse. As die repo verhoog word, verhoog die prima uitleenkoers – dit word duurder om met skuld te koop en verbruikers bestee minder.
  • Dit is dan ook duurder om geld te leen vir investering en minder investering beteken minder uitbreiding van totale vraag en minder druk op pryse.
  • Die hoër rentekoerse beïnvloed ook die pryse van skuld-instrumente, aandele en eiendom en het ‘n balansstaat-effek or netto-waarde effek: As rentekoerse hoër is, is die pryse van skuld-instrumente laer; hoër rentekoerse demp ook die eiendomsmark. Die gevolg is minder besteding en minder druk op pryse.
  • Hoër rentekoerse behoort ook die wisselkoers te laat appresieer. Die skakels deur na infflasie behoort soos volg te werk: Hoe groter die rentekoersverskil tussen bv SA en die VSA, hoe meer aanloklik is dit vir buitelanders om in die Suid-Afrikaanse kapitaalmark te belê, eerder as in die VSA. Dit verhoog die vraag na rand. Die wisselkoers versterk, invoere is goedkoper (laer inflasie) en die totale vraag is laer, met minder druk op pryse.
  • Laastens gaan dit ook oor inflasie verwagtinge – as ondernemings wat pryse vasstel, of arbeiders wat onderhandel vir loonverhogings, verwag dat inflasie in die toekoms hoog gaan wees, dan bou hulle dit nou al in pryse en lone. Deur streng monetêre beleid te volg was die SARB dus dat hulle ernstig is oor lae inflasie en dat groot prysverhogings of groot looneise nie nodig is nie – hulle gaan sorg dat inflasie laag bly.

Daar is dus heelwat stappe tussen ‘n rentekoersverhoging en laer inflasie en min daarvan is onder die SARB se beheer. Hulle sal argumenteer dat verlede week se verhoging eintlik die inflasiekoers 18 tot 24 maande van nou af gaan raak.

Dit is juis hier waar die ekonome wat verskil se kritiek lê. Die storie hierbo gaan oor vraag-trek inflasie, maar hulle argumenteer dat opwaartse druk op pryse eerder koste-druk is. Hulle sê dat die inflasionêre druk wat wel bestaan (Junie se VPI inflasiekoers was 4.7%, op vanaf 4.6% in Mei) is vanaf sogenaamde geadministreerde pryse en nie van ‘n oormaatvraag van verbruikers nie. Dit is die koste van bv. elektrisiteitspryse wat styg en dit gaan nie minder wees omdat die repo verhoog word nie. Die hoër repo-koers kon ook nie die depresiasie van die rand stuit nie en ons het nou hoër invoerpryse en hoër rentekoerse.

Die Reserwebank voer weer aan dat hulle goeie rede het om bekommerd te wees oor looneise en inflasieverwagtinge. En hulle moet natuurlik vir die internasionale markte die sein stuur dat hulle ernstig daaroor is om by die inflasiemikpunt te hou.

Een manier om oor die hele storie te dink is dat inflasie is soos ‘n voertuigmotor wat oorverhit. Dit kan gebeur omdat jy te vinnig probeer ry en dan moet daar rem getrap word. Dit kan ook gebeur omdat daar nie water in die verkoeler is nie.

Op die oomblik is die inflasiedruk in die Suid-Afrikaanse ekonomie nie omdat verbruiksbesteding, investering of die ekonomie te vinnig groei nie. Verbruikers en beleggersvertroue is op laagtepunte en die ekonomiese groeikoers is baie laag. Tog trap die Reserwebank rem. Die eintlike probleme lê ver buite die invloed van die Reserwebank – dit is goed soos die geadministreerde pryse, ‘n hoë konsentrasie van eienaarskap en beperkte mededinging,  ‘n stram arbeidsmark en kollektiewe bedinging, lae produktiwiteit en ‘n ekonomie wat sukkel om internasoinaal mee te ding.

Dit is nie so maklik om te sê of die repo-koersverhoging die regte besluit was nie.

Inflasie – waar is jy?

Inflasie – waar is jy?

Dit mag dalk snaaks wees om te dink dat mens ooit na inflasie sal verlang. Hoe kan ʼn prysverhoging ʼn goeie ding vir verbruikers wees? Dit beteken my reeds klein maandelikse salaris kan nou net minder brood, melk of bier koop soos die jaar aangaan.

AFR InflasieInflasie is die koers waarmee die prys vir dienste en goedere vermeerder, en amper soos die lirieke van daardie bekende John Mitchell-lied, met inflasie “you don’t know what you’ve got ‘til its gone”.

Waarop spandeer mense geld?

Inflasie word uitgewerk deur ʼn gewig te gee aan die verskillende produkte en dienste wat huishoudings van gebruik maak.

Hier in Suid-Afrika het ons steeds inflasie. Pryse is tans steeds besig om maandeliks te verhoog, veral onder kositems (melk, eiers en kase se pryse het met 12% in 2014 gestyg), alkoholiese drankies (sterk alkoholiese drankies se pryse het met 10.9% gestyg), waterdienste (gestyg met 8.5%) en boeke (gestyg met 11.4% oor 2014)(vir meer inligting sien StatsSA). Maar vir ons is daar tans geen gevaar (beslis nie in die nabye toekoms nie) dat mnr Mitchell se lied gaan geld wanneer dit by inflasie kom nie. As gevolg van ʼn groeiende aanvraag vir goedere en dienste, ʼn afhanklikheid van invoerprodukte en dus ook ʼn swak rand, die wêreldwye verhoging in kospryse en ʼn bottelnek as gevolg van elektrisiteit en beperkings en ʼn tekort aan opgeleide werkers, kan ons eintlik maar verseker wees dat inflasie in SA vir nog ʼn heelwat langer tydperk by ons gaan wees. Maar, moenie te teleurgesteld wees nie – dink net bietjie aan wat alles kan gebeur wanneer inflasie, soos ʼn ou vriend, verdwyn.

Inflasiekoerse

Die inflasiekoers in die VSA, VK, EU en China sedert 2007.

Dit is tans die situasie wat ons sien in die ontwikkelde wêreld. In Europa, Brittanje en die VSA het inflasie stadig maar seker verdwyn. Vir ʼn lang tydperk het sentralebanke probeer om die inflasiekoers by ʼn mikpunt van 2% te hou deur die rentekoers te verander en daardeur mense aan te moedig om meer geld te spandeer of meer te spaar. Maar nou is die inflasiekoers onder hierdie mikpunt.

Hierdie lae inflasiekoers kan lei tot die gevaarlike moontlikheid van deflasie – wanneer pryse nie meer styg nie, maar daal. Dit klink miskien soos goeie nuus vir die verbruiker – dit is mos lekker as die nuwe kar wat ek wil koop nou minder geld gaan kos as wat ek verwag het? Maar dink net bietjie oor wat van die ander gevolge daarvan mag wees. As almal dink dat die pryse more, of volgende week gaan goedkoper wees as vandag, dan gaan almal wag voordat hulle enige iets koop (dit maak mos meer sin want dan spaar jy geld). Maar, as gevolg daarvan, begin besighede om minder produkte te maak, jou salaris hou op om te groei, belastinginkomste daal en die regte waarde van enige skuld groei. Dit is wat in Japan gebeur het sedert 1990.

Dit is ʼn skrikwekkende situasie – wanneer verbruikers en besighede meer onseker raak oor die toekoms, beteken dit dat die groeikoers gaan val, en werkloosheid vermeerder. Tog is daar soms tye wanneer deflasie ʼn resultaat is van goeie dinge wat in die ekonomie plaasvind. As besighede meer produktief word, beteken dit hulle kan meer produkte verskaf teen ʼn goedkoper prys, en dit beteken die regte/ware inkomste van verbruikers verhoog. Deflasie saam met ʼn meer produktiewe ekonomie met meer uitsette is ʼn goeie ding. Salarisse sal nie val nie en besighede raak meer optimisties oor die toekoms (meer mense sal bereid wees om geld te leen vir beleggings). Maar, dit is nie die situasie wat ons tans in die ontwikkelde wêreld nie sien.

Inteendeel, in daardie lande, as gevolg van ʼn verskeidenheid van redes wat ons laas week in die post oor Sekulêre Stagnasie behandel het, het die groeikoers gedaal as gevolg van ʼn tekort aan vraag in die ekonomie. Daar bestaan dus ʼn uitsetgaping – die ekonomie kan meer produkte en dienste verskaf as waarvoor daar aanvraag is op die huidige prysvlakke. Dit beteken besighede moet pryse en salarisse begin verminder – wat net die totale vraag verder verminder (as jou salaris gesny word, het jy minder geld om aan produkte en ander dienste te spandeer). Enige skuld wat jy het, maak net die situasie erger, want as pryse en inkomste val, word die ware skuld wat jy moet terugbetaal meer. Bv. jy skuld iemand R1 000, maar nou het jou salaris geval na R50, en daardie R1 000 raak moeiliker om af te betaal. So, mense sny terug op uitgawes sodat hulle hul skuld kan afbetaal. Maar, dan val pryse weer en die hele situasie word net erger!

DeflationarySpiralSo, wat is die oplossing? Omdat die rentekoers nie laag genoeg kan daal om mense aan te moedig om geld te spandeer of te leen nie, moet sentralebanke ʼn ander manier kry om die probleem te hanteer, anders is daar die risiko van deflasie. As jy enigsins bietjie nuus lees, sou jy al baie gehoor het van “Quantitative Easing” – een poging van die sentralebanke om meer geld in die ekonomie te sit en daarmee die prys van bates te verhoog. Die VK, VSA en EU het al “QE”-programme begin vanaf die begin van die resessie in 2007, maar die inflasiekoers is nou nog baie laag. Onlangs het die ESB (Europese Sentrale Bank) aangekondig dat hulle met ʼn nuwe QE-program gaan begin, en elke maand 60bn Euro-effekte koop tot en met September 2016.

ʼn Alternatiewe oplossing is dalk om eerder te fokus op die fiskale beleid. John Maynard Keynes het gesê dat wanneer daar ʼn vraagtekort is, is monetêre beleid minder effektief en die regering moet eerder intree en die totale vraag in die ekonomie probeer verhoog. Wanneer daar lae rentekoerse en lae inflasie is, dan moet die regering eerder die inisiatief neem, geld leen en begin spandeer. Dit is amper soos die “helicopter drop”-oplossing wat Milton Friedman ook genoem het – waar die regering geld moet druk en dan net deur middel van ʼn helikopter verprei oor die land. In vandag se wêreld kan die regering begin deur geld om nuwe infrastruktuur ontwikkelings te spandeer.

HKPolities is dit ʼn moeilike ding om te doen. Hoe kan ons die regering toelaat om hul skuld te vermeerder en meer geld te spandeer wanneer slegte skuld die rede was vir die ekonomiese resessie? In die VSA word enige idees van nuwe uitgawes sterk bestry deur die Republikeinse Party. In die EU kan kleiner lande ook nie bekostig om meer geld te spandeer nie, en groter lande wil ook nie.

So miskien is al oplossing vir die regerings in die ontwikkelde wêreld om aan te hou met hul monetêre beleid en probeer om uitgawes te stimuleer – maar, terwyl die demografiese probleem van ʼn lae populasiegroeikoers ʼn realiteit bly, gaan dit net beteken lae inflasie en ʼn lae groeikoers vir die toekoms. Die alternatief is vir die regering om geld te leen en te spandeer. As werkloosheid vermeerder, en inflasie laag bly, mag dit dalk die enigste opsie oor wees om totale vraag in die ekonomie te vermeerder.

Vir meer leesstof oor deflasie, kyk gerus na hierdie briljante artikel van die Economist.