Tag Archives: BBP

Hoe dink ons oor die werking van die ekonomie?

Die laaste paar maande voel dit of ekonomiese nuus oral op die voorgrond is, ekonome gee daagliks opinies oor wat die impak van die droogte / die rand / die kredietgraderings-agentskappe op “die ekonomie” is. Om sin te maak van die nuuste syfers of opinies moet jy ‘n eenvoudige model hê van hoe die ekonomie werk. Hierdie eerste inskrywing van 2016 stel so manier van dink voor…

Lees voort

Sekulêre stagnasie

Sekulêre stagnasie – niks te doen met kerk of politiek nie – maar eerder die idee dat die ontwikkelde wêreld vir die langtermyn moontlik beperk gaan wees tot ʼn volgehoue lae groeikoers.

Rentekoerse van die sentrale banke van die VK, VSA en EU.

Rentekoerse van die sentrale banke van die VK, VSA en EU.

Meeste mense het nog nooit iets gehoor van ‘Sekulêre stagnasie’ nie – beslis nie as jy in Suid-Afrika grootgeword het nie – totdat Larry Summers (van Harvard Universiteit) by ʼn IMF-toespraak in November 2013 die woord weer wakkergemaak het. Hy het aangevoer dat sedert die resessie van 2008, het die ‘nul grondvloer’ op rentekoerse ʼn algemene gebeurtenis geword; toe meeste ekonome eintlik verwag het dat dit net tydelik sou wees.

Rentekoersʼn Lae rentekoers is veronderstel om te maak dat mense minder geld wil spaar (hoekom sal jy geld in die bank spaar as jy geen/baie min rente daarop trek nie?) en meer geld sal spandeer/belê in besighede (dit raak ‘goedkoop’ om geld te leen).

Inteendeel, in die huidige ekonomiese omstandighede (veral in ontwikkelde lande soos die VSA, VK en EU) is mense en besighede bang om geld te spandeer en nuwe projekte aan te pak, ten spyte daarvan dat dit nou so goedkoop is. Die ISI-groep, ʼn firma wat beleggingsadvies aan besighede gee, het opgemerk dat sedert 2008 meeste besighede in die VSA, die EU en Japan, netto spaarders eerder as netto leners geword het. Al is dit nou so goedkoop om geld te leen, doen besighede dit nie!

Ekonoom se raadDit beteken dat die rentekoers wat deur die banke aangebied word, nie laag genoeg is nie! Dit moet minder as nul word – dit moet selfs negatief word sodat diegene wat klomp spaargeld het dit sal begin spandeer eerder as om meer en meer weg te sit. Maar, die rentekoers kan nie onder nul gaan nie. Dink net wat sal gebeur – mense sal hulle geld uit die banke uithaal (waar bêre jy dit dan? Onder jou bed, in jou kas?) Ook, hoe sal dit nou werk as jy vir iemand R100 leen en hy hoef jou net R95 terug te betaal?

So dit is die groot probleem wat Summers aanvoer tans die ontwikkelde ekonomieë van die wêreld in die gesig staar. En hy dink dit gaan nog vir ʼn lang tydperk aanhou, en daardeur die groeikoers van ontwikkelde lande belemmer.

Mense moet geld spandeer vir besighede en lande om te kan groei. Besighede moet geld belê in byvoorbeeld nuwe iPhones en Smart watches, en dan meer en meer van daardie nuwe produkte verkoop sodat hul uitsette verbeter (maak meer goed), produktiwiteit verhoog (maak meer goed met minder goed) en uiteindelik meer mense kan aanstel en werk gee.

BBP groeikoerse van die VK, EU, VSA en China. Let op dat die groeikoers in ontwikkelde lande is laag.

BBP groeikoerse van die VK, EU, VSA en China. Let op dat die groeikoers in ontwikkelde lande is laag.

Vir ekonomiese groei moet die bevolking van die land aanhou toeneem en groei (elke nuwe baba kort kos, klere en ʼn fopspeen wat musiek kan maak), of produktiwiteit moet aanhou toeneem. In ontwikkelde lande het die bevolkingsgroeikoers baie gedaal, soveel so dat die verhouding tussen werkers wat onder 64 is, en dié wat ouer as 65 is, elke jaar verminder (kyk na hierdie Economist artikel). Nou is daar minder werkers om op staat te maak (tensy ontwikkelde lande hul immigrasiebeleide verander; klomp mense wil VSA toe trek…) en enige ekonomiese groei moet kom uit produktiwiteitsverbeterings. Maar, vir produktiwiteitverbeterings, moet besighede geld belê! Ongelukkig kan die rentekoerse nie laag genoeg daal om besighede en mense aan te moedig om meer geld te leen en te belê of spandeer nie, so daar gaan in die toekoms minder nuwe innoverende produkte wees (geen persoonlike huisrobotte nie L) en die BBP-groeikoers gaan maar laag moet bly.

Tensy iets anders gedoen kan word om mense en besighede aan te moedig om geld te spandeer. (Kan jy aan ʼn voorstel dink? Reply…)

Summers het ʼn omstrede oplossing: Laat mense toe om geld te leen op ʼn roekelose manier. Enige iemand en elke iemand – selfs mense wat nie die geld sal terug kan betaal nie – moet dit kan leen en gebruik (sal dit nie lekker wees as die banke net geld uitdeel vir almal nie – “no strings attached”!?) Maar, was dit nie die rede vir die ekonomiese resessie in die eerste plek nie?

Soos jy kan dink was daar nogal baie reaksie op hierdie oplossing. Party ekonome stem saam en sê dat die VSA nou ʼn nuwe era van ʼn lae groeikoers inbeweeg. Paul Krugman veral het saamgestem en gesê dat die VSA nou beslis in ʼn likiditeitsrisiko is (nominale rentekoers is baie naby aan nul) en dat terwyl “dit ʼn deug is vir ʼn individu om te spaar, is dit tans ʼn sosiale ondeug”.

Alternatiewe teorieë is ook voorgestel vir die lae groeikoers wat gesien word in ontwikkelde lande. ʼn Span bestaande uit die ekonoom Robert Gordon, belegger Peter Thiel, en populêre ekonomie-skrywer Tyler Cowen, stel voor dat die lae groeikoers eerder ʼn strukturele probleem is as gevolg van ʼn lae koers van tegnologiese onwikkeling. Meer beleggings in tegnologie gaan nie noodwendig lei tot meer vordering nie. Jy kan meer lees van hul idees in The Great Stagnation.

Ander mense sê dat dit eerder is as gevolg van slegte regeringsbeleide (John Taylor), of omdat ons die fundamentele limiet van menslike ekonomiese potensiaal bereik het (lees die Limits to Growth Hypothesis).

Tog, ten spyte van die storm na Summers se 2013-toespraak, het party mense al begin sê dat die sogenoemde ‘sekulêre stagnasie’ nie gaan plaasvind nie. Jari Stehn, ʼn ekonoom van Goldman Sachs, het ongeveer een jaar later weer na Summers se hipotese gekyk. Hy het aangevoer dat volgens die “Goldman Current Activity Indicator”, het die VSA se ekonomie 3% in 2014 gegroei. Daarom is die groeiprobleem in die VSA dalk meer siklies as sekulêr, alhoewel die situasie in die EU lyk asof dit dalk meer van ʼn langtermyn probleem gaan wees.

Marc Andreessen, ʼn bekende Amerikaanse entrepreneur, het ook op Twitter hom uitgespreek teenoor Summers. Sy redenasie is dat die VSA-ekonomie te veel kapitaal en te min geleenthede vir winsgewende beleggings het (miskien as gevolg van te veel rompslomp). Natuurlik het Larry Summers daarop gereageer.

summers-tweetDaar is baie meer wat gesê kan word, selfs ʼn gratis e-boek wat jy kan aflaai en lees vir al die nuutste navorsing en argumente oor die tema. Wat duidelik is, is dat daar ʼn lae BBP-groeikoers is in die ontwikkelde lande en dat sonder ʼn langtermyn oplossing vir die onderliggende demografiese probleem van lae populasiegroeikoers, gaan die produktiwiteitsgroei wat nodig is om die verlies/verlaging in werkers te verreken, dalk nie genoeg wees om die ontwikkelde lande vry te maak van ʼn langtermyn lae groeikoers nie.

Hoe dink ons oor die werking van die ekonomie

Voor ‘n mens sinvol kan begin skryf oor watter invloed die olieprys, elektrisiteits-voorsieningsprobleme, groei in die VSA, of deflasie in die EU ekonomie, op ons kan hê, kan dit dalk help om te verduidelik hoe mens oor die Suid-Afrikaanse ekonomie kan dink.

ue strikes backJy kan natuurlik met die ekonomiese kringloop begin, of die nasionale rekeninge oopslaan en na die data begin kyk, maar wanneer enige ekonoom interpreteer wat hy of sy sien, is daar ook  ‘n groot deel Makro-ekonomie denkskool ter sprake. In sy boek, The undercover economist strikes back, verduidelik Tim Harford die basiese onderskeid. Aan die een kant is daar Keynesiaanse ekonome wat die ekonomie beskou soos ‘n motor-enjin wat af en toe deur ‘n werktuigkundige verstel moet word. Aan die ander kant is daar die neo-klassieke denkskool wat voel dat die motor-enjin werk altyd perfek en as iets skeef loop is dit waarskynlik die bestuurder se skuld! Hy verduidelik dit natuurlik baie mooier en in meer besonderhede. Hy maak dit duidelik dat die aard van die makro-ekonomiese probleem wat ondervind word (resessie, inflasie, deflasie), bepaal watter beleid toepaslik is. Dit is ‘n goeie boek, maar nog steeds ‘n vereenvoudiging ‘n komplekse debat in Ekonomie. Sedert die finansiële krisis van 2008/09 woed daar die sogenaamde “Macro wars” in ons veld. Om die resessie wat die krisis gevolg het teen te werk was daar monetêre uitbreiding (geldskepping en lae rentekoerse – “QE” en “operation twist”) en bekommernis dat dit nie gaan werk by die sogenaamde “zero-lower bound” nie. Ander het gevrees dat dit dalk kan lei tot hiper-inflasie. Daar was die argumente vir fiskale uitbreiding, teenoor die saak vir “austerity” en hewige debatte oor die “confidence fairy”. Daar is Keynesiane, Real Business Cycle (RBC) teorie, Dynamic Stochastic General Equilibrium (DSGE) modelle en ‘n klomp ander duistere terme genoem binne die econoblogosphere. Gevoelens is seergemaak. Die punt is egter dat dit is glad nie eenvoudig om te verduidelik hoe ekonome oor die ekonomie dink nie.

Vir die doeleindes van hierdie weblog wil ons graag die volgende skema voorstel.

Hoe dink ons oor die ekonomie

Al die elemente van hoe ons kan dink oor die ekonomie – geïnspireer deur ‘n aanbieding deur ‘n ekonoom van die Buro vir Ekonomiese Navorsing in Stellenbosch

Dit is nie ‘n model nie, maar ‘n visuele voorstelling van die dinge waaraan mens kan dink wanneer jy oor die ekonomie wil praat. Dit wys nie al die komplekse interverwantskappe nie, maar ons sal dit bespreek soos nodig. En jy kan dit laai met jou denkskool-idees, maar die skema gaan jou dwing om te sê watter aannames jy waar maak.

Nou kan die Grensnut weblog begin loop.