Waldo Krugell

Januarie 21, 2016

Ons koppel die nuutste ekonomiese nuus en data aan die Graad 10, 11 en 12 CAPS leerplan.

  • Jy kan volgens die leerplan se onderwerpe soek.
  • Of ‘n soektog probeer met die trefwoorde uit jou opdrag of taak.
  • Of stuur vir ons ‘n epos met jou Ekonomie-navraag: ekonomieblog@gmail.com

As jy Ekonomie wil studeer op universiteit, kyk gerus na die Skool vir Ekonomie by die NWU se Potchefstroomkampus en volg ons op Facebook.

Die repo-koers is verhoog…

Maar was dit die regte besluit? SARB Transmission graph

Verlede week het die Reserwebank se monetêre beleidskomittee die repo-koers verhoog en ekonome het heelwat hieroor te sê.

Onthou, die SARB se mandaat is om inflasie naby die mikpunt te hou – in a and tussen 4% en 6%. Die repo-koers (die koers waarteen banke geld leen by die SARB) is die belangrikste instrument wat hulle het om dit mee te doen. Inkrimpende monetêre beleid beteken dat hulle die repo-koers verhoog, om inflasie te verlaag. Deur verskillende kanale wil hulle die totale vraag in die ekonomie, spesifiek verbruiksbesteding en investering, verminder.

Die kanale waardeur hierdie meganisme werk word in die figuur hierbo verduidelik.

  • Die een wat die maklikste is om te verstaan werk deur kommersiële rentekoerse. As die repo verhoog word, verhoog die prima uitleenkoers – dit word duurder om met skuld te koop en verbruikers bestee minder.
  • Dit is dan ook duurder om geld te leen vir investering en minder investering beteken minder uitbreiding van totale vraag en minder druk op pryse.
  • Die hoër rentekoerse beïnvloed ook die pryse van skuld-instrumente, aandele en eiendom en het ‘n balansstaat-effek or netto-waarde effek: As rentekoerse hoër is, is die pryse van skuld-instrumente laer; hoër rentekoerse demp ook die eiendomsmark. Die gevolg is minder besteding en minder druk op pryse.
  • Hoër rentekoerse behoort ook die wisselkoers te laat appresieer. Die skakels deur na infflasie behoort soos volg te werk: Hoe groter die rentekoersverskil tussen bv SA en die VSA, hoe meer aanloklik is dit vir buitelanders om in die Suid-Afrikaanse kapitaalmark te belê, eerder as in die VSA. Dit verhoog die vraag na rand. Die wisselkoers versterk, invoere is goedkoper (laer inflasie) en die totale vraag is laer, met minder druk op pryse.
  • Laastens gaan dit ook oor inflasie verwagtinge – as ondernemings wat pryse vasstel, of arbeiders wat onderhandel vir loonverhogings, verwag dat inflasie in die toekoms hoog gaan wees, dan bou hulle dit nou al in pryse en lone. Deur streng monetêre beleid te volg was die SARB dus dat hulle ernstig is oor lae inflasie en dat groot prysverhogings of groot looneise nie nodig is nie – hulle gaan sorg dat inflasie laag bly.

Daar is dus heelwat stappe tussen ‘n rentekoersverhoging en laer inflasie en min daarvan is onder die SARB se beheer. Hulle sal argumenteer dat verlede week se verhoging eintlik die inflasiekoers 18 tot 24 maande van nou af gaan raak.

Dit is juis hier waar die ekonome wat verskil se kritiek lê. Die storie hierbo gaan oor vraag-trek inflasie, maar hulle argumenteer dat opwaartse druk op pryse eerder koste-druk is. Hulle sê dat die inflasionêre druk wat wel bestaan (Junie se VPI inflasiekoers was 4.7%, op vanaf 4.6% in Mei) is vanaf sogenaamde geadministreerde pryse en nie van ‘n oormaatvraag van verbruikers nie. Dit is die koste van bv. elektrisiteitspryse wat styg en dit gaan nie minder wees omdat die repo verhoog word nie. Die hoër repo-koers kon ook nie die depresiasie van die rand stuit nie en ons het nou hoër invoerpryse en hoër rentekoerse.

Die Reserwebank voer weer aan dat hulle goeie rede het om bekommerd te wees oor looneise en inflasieverwagtinge. En hulle moet natuurlik vir die internasionale markte die sein stuur dat hulle ernstig daaroor is om by die inflasiemikpunt te hou.

Een manier om oor die hele storie te dink is dat inflasie is soos ‘n voertuigmotor wat oorverhit. Dit kan gebeur omdat jy te vinnig probeer ry en dan moet daar rem getrap word. Dit kan ook gebeur omdat daar nie water in die verkoeler is nie.

Op die oomblik is die inflasiedruk in die Suid-Afrikaanse ekonomie nie omdat verbruiksbesteding, investering of die ekonomie te vinnig groei nie. Verbruikers en beleggersvertroue is op laagtepunte en die ekonomiese groeikoers is baie laag. Tog trap die Reserwebank rem. Die eintlike probleme lê ver buite die invloed van die Reserwebank – dit is goed soos die geadministreerde pryse, ‘n hoë konsentrasie van eienaarskap en beperkte mededinging,  ‘n stram arbeidsmark en kollektiewe bedinging, lae produktiwiteit en ‘n ekonomie wat sukkel om internasoinaal mee te ding.

Dit is nie so maklik om te sê of die repo-koersverhoging die regte besluit was nie.

Ekonomie in die derde kwartaal

Welkom terug in die tuig, Grensnut-lesers. Die derde kwartaal het vandag afgeskop en ons hoop die Ekonomie-blog gaan saam met jou daar wees vir die tweede helfte van die jaar se voorbeelde, toepassings en Ekonomie-bronne.

Euro Economist covers

En hierdie is uit die 2012 weergawe van dieselfde krisis!

Wat het jy dalk gemis in die Ekonomie-wêreld? Die groot storie is dié van Griekeland se skuldkrisis – as deel van die sg. besuinigingsmaatreëls het die BTW koers daar vandag verhoog van 13% na 23%! As jy vinnig op hoogte wil kom van die storie, lees Prof Johan Fourie van Stellenbosch se storie in gister se Rapport. Hy tref die vergelyking dat Griekeland teenoor sy skuldeisers staan soos ‘n seun op universiteit wat nie akademies so sterk vorder nie. Moet hy / hulle nog ‘n kans kry?

Die Grieke het nog ‘n kans in die vorm van ‘n reddingsboei van lenings met streng vereistes. Om Johan se beeld verder te neem wonder ek of hulle nie eerder die geld moes gebruik het om universiteit te los en ‘n klein besigheid te begin nie!

Nuutste Ekonomiese Navorsing – Die ekonomiese stelsel van Apartheid

EOAwbTwintig jaar na die einde van die apartheidstelsel kan daar geen twyfel wees nie dat sy nalatenskap aanhou om die Suid-Afrikaanse samelewing te affekteer. Inderdaad, politici noem gereeld dat die ruimtelike patrone van apartheid aanhou om in ons dorpe en stede uitgespeel te word, en dat die kultuur van geweld wat tans in Suid-Afrika voorkom sy wortels in die verlede het.

Akademiese navorsing bevestig ook dat dit die geval is, met armoede onder die swart bevolking steeds baie hoog, terwyl daar ook ʼn algemene traagheid is in die standaard van opleiding. Werkloosheid onder die swart bevolking is ook steeds ʼn probleem, en daar bly ʼn element van wantroue en nie-samewerking. Lees voort

Oormaatvraag

Ons het ‘n vinnige vraag gekry oor wat ‘n oormaatvraag in die ekonomie sal veroorsaak. Ek antwoord graag.

OormaatvraagOns neem meeste van die tyd aan dat ons werk met effektiewe vraag in ‘n volmaak-mededingende mark. Dit beteken dat as verbruikers ‘n behoefte na ‘n produk het en hulle is bereid om te betaal, sal verkopers die produk aanbied. Daar sal nie sommer ‘n surplus of tekort wees nie.

Soos die grafiek wys, is daar ‘n oormaatvraag teen pryse wat laer is as die ewewigsprys. As die mark egter werk behoort verkopers dadelik te besef dat hier is ‘n kans om geld te maak en hulle sal meer aanbied teen ‘n hoër prys. Die hoeveelheid gevra sal kleiner wees teen die hoër prys. Soos wat die pyle wys, beweeg die mark terug na die ewewigsprys en -hoeveelheid.

Die regte vraag om te vra is dus: wat kan veroorsaak dat die prys laer as die ewewigsprys is/bly? Dit kan veroorsaak word deur een of ander vorm van markmislukking.

  • Onthou dat een van die voorwaardes vir ‘n mededingende mark is dat almal alle inligting het. Daar kan tydelik ‘n oormaatvraag wees as verkopers nie besef daar is verbruikers wat hulle produk wil koop nie. Mense sou meer betaal om die produk in die hande te kry, maar die pryssein kom nog nie deur nie want meeste markte is nie ‘n veiling met direkte interaksie tussen kopers en verkopers nie. Daar kan ‘n oormaatvraag na ‘n populêre produk wees maar die prys word nie in die winkel op gebië nie – die produk word net vinnig uitverkoop en wanneer die rakke leeg staan besef die verkopers hulle kan meer verkoop teen ‘n hoër prys.
  • Ons neem ook aan dat al die produksie faktore volmaak mobiel is. Dit kan gebeur dat daar ‘n oormaatvraag na ‘n produk is en die verkopers besef dit, maar dit vat tyd om die produksiefaktore in die hande te kry, om meer van die produk te kan aanbied.
  • Dit kan ook natuurlik gebeur dat die prys op ‘n ander manier as net deur vraag en aanbod vasgestel word. Bv. die owerheid skryf ‘n maksimumprys / prysplafon voor, wat laer is as die ewewigsprys. Gewoonlik is daar dan ‘n tekort aan die produk teen die “amptelike” prys en ‘n onwettige swartmark waar dit teen ‘n hoër prys verhandel. Maar dit is nie net die owerheid wat pryse vasstel nie. Oppikoppie se organiseerders stel ‘n prys vas vir kaartjies, maar daar is baie meer mense wat graag die fees wil bywoon teen daardie prys. Dan is daar ‘n oormaatvraag.

Dit is nogals moeilik om prys vas te stel vir sulke produkte waar daar ‘n maksimum kapasiteit is – in flieks, konserte, sport arena’s. As jy meer wil leer, luister gerus hierdie NPR podcast oor hoe Kid Rock probeer het om die “scalpers” te wen.

Wisselkoerse en ondernemings

Ons het ‘n navraag gekry oor hoe wisselkoerse ondernemings beïnvloed en skryf graag ‘n kort antwoord.

Daar is baie en uiteenlopende navorsing oor wisselkoerse. ‘n Deel van die veld kyk na sogenaamde ewewigskoerse en of bv. die rand, oorgewaardeer of ondergewaardeer is relatief tot die ewewig (daar is al ‘n grensnut storie oor die Big Mac indeks). Ander studies kyk weer na hoe uitvoerders reageer op veranderings in die wisselkoers. Aan die invoerkant is daar ook studies wat kyk na hoeveel van ‘n appresiasie of depressiasie word deurgegee aan verbruikers (die term is “exchange rate pass through”). Maar kom ons praat net eers oor die basiese beginsels.

Die mate waartoe die wisselkoers ‘n invloed het op ondernemings hang af van van die mate waartoe die ondernemings se bedrywighede iets te doen het met internasionale handel.

As die onderneming uitvoer:

  • Dan maak die onderneming sy inkomste in dollar of euro, maar sy koste (betalings aan produksiefaktore) moet in rand gebeur. Dan is die wisselkoers baie belangrik. As die rand appresieer, met ander woorde sterker word teenoor die dollar, beteken dit dat jy minder rande nodig het om ‘n dollar te koop. Vir die uitvoerder beteken dit dat hulle minder rande kry wanneer hulle dollar inkomste die land in kom. ‘n Sterker rand is sleg vir uitvoerders se inkomste en sal dus hulle winsmarges en eindelik hulle hele besigheid onder druk sit.
  • Die omgekeerde is waar wanneer die rand verswak, of depresieer, teenoor die dollar. Die uitvoerder kry sy inkomste in dollar, maar ruil dit terug vir meer rande vir elke dollar. DIe onderneming is skielik meer winsgewend.

Daar is goeie Suid-Afrikaanse navorsing oor die makro-ekonomiese gevolge van veranderings in die wisselkoers. Edwards & Garlick se opsomming sê alles:

The exchange rate plays a central role in public debate around trade and trade policy in South Africa. The general view is that depreciation enhances export competitiveness, encourages export diversification, protects domestic industries from imports and ultimately improves the trade balance. This paper reviews the theoretical and empirical relationship between the exchange rate and trade flows in South Africa. Trade volumes are found to be sensitive to real exchange rate movements but nominal depreciations have a limited long-run impact on trade volumes and the trade balance, as real effects are offset by domestic inflation. Policy should not focus on the exchange rate, but on the fundamental determinants of the profitability and competitiveness of domestic exporters and import competing industries: productivity enhancement, infrastructure, constraints to business operations and production costs, including labour costs.

Die omgekeerde van die storie is waar wanneer die onderneming produkte invoer, of van ingevoerde insette gebruik maak.

  • As die rand appresieer teenoor die dollar, gee die onderneming minder rande vir elke dollar en ingevoerde produkte is goedkoper in rand-terme.
  • As die rand depressieer teenoor die dollar moet die ondernemning meer rande ruil vir elke dollar en die ingevoerde produkte word duurder.

Die punt van die storie is dat ‘n verandering in die wisselkoers sny altyd na twee kante toe. Iemand word tydelik bevoordeel en ‘n ander party tydelik benadeel.

Nuutste Ekonomiese Navorsing – Die Suid-Afrikaanse arbeidsmark, 1995-2013

Suid-Afrika staar verskillende uitdagings in die gesig, waarvan werkloosheid een van die belangrikste is. Die arbeidsmark is die onderwerp van menige studie en in hierdie weblog wil ons jou graag meer vertel van die nuutste werk deur Lyle, Kasongo, Moses and Yu wat onlangs by ERSA gepubliseer is.

Na 1994 is ʼn groot klomp nuwe wetgewing ingestel. Dit was gemik daarop om die onregverdighede van die verlede reg te stel en ʼn meer gelyke samelewing te bevorder. Die arbeidswette veral het ʼn nuwe minimum standaard van arbeidsvoorwaardes ingebring, en dit het ook die indiensneming van nie-blankes aangemoedig, en so beUnemployment 1agin met die regstelling en vermindering van die sosiale ongelykhede wat so inherent in die Suid-Afrikaanse samelewing is.

Verskeie studies het al gekyk na die oorspronklike impak van die nuwe arbeidswetgewing in die jare net na apartheid (die eerste 10 jaar of so), maar die nuutste navorsing het tot en met 2013 nagevors. Hulle stel voor dat die grootste uitdaging vir die SA-arbeidsmark die aanhoudende hoë vlakke van werkloosheid is wat aanhou om die SA-ekonomie te teister. Daar is menige redes wat hulle hiervoor aanvoer:

  • ʼn Onderwysstelsel wat deurlopend baie nuwe werknemers met onvoldoende opvoeding produseer. Die impak van die 1953 Bantu Opvoedingswet is nog nie heeltemal reggestel nie, en dit beteken elke jaar is daar nog baie onbevoegde jongmense wat die arbeidsmark betree.
  • Loonrigiditeit as gevolg van die nuwe arbeidsmarkwetgewing, wat bedoel was om werkers meer beskerming en regte te gee: Hierdie minimum loon wat baie keer bo die mark (market clearing) prysvlak is, beteken werkgewers kan nie soveel mense aanstel soos hulle dalk sou wou nie.
  • Onrealistiese reserwelone: Gegradueerdes verwag ʼn hoë salaris, en baie individue is huiwerig om die arbeidsmark te betree en werk te aanvaar as dit nie meer gaan wees as wat hulle sal kan verdien by die huis deur maatskaplike toelaes nie. Dit is veral die geval onder mense wat of baie kinders het, of baie ou mense het wat in hul huis bly.
  • ʼn Klein informele sektor met groot hindernisse tot toegang: Dit beteken dat die mense wat nie in die formele sektor werk kan kry nie, ook nie in die informele sektor werk kry nie as gevolg van slegte infrastruktuur en swak toegang tot kredietmarkte.
  • Stadige werksgroei: Die spoed waarteen nuwe werksgeleenthede in die ekonomie geskep word, is nie vinnig genoeg om aan al die nuwe werknemers werk te gee nie, en dit beteken dat werkloosheid aanhou groei ten spyte van meer werksgeleenthede wat nou beskikbaar is sedert 1994.

Langtermyn arbeidsmarktendense sedert 1994.

Die arbeidsmag het met meer as 8.5 miljoen mense gegroei sedert 1994.

Die arbeidsmag het met meer as 8.5 miljoen mense gegroei sedert 1994.

  • ʼn Verhoging in die aantal mense wat die arbeidsmark betree soos meer mense na 1994 begin werk soek het. Saam met die sterk groei in die bevolking, beteken dit die arbeidsmag het in 2014 meer as 22 miljoen mense gehad.
  • ʼn Verhoging in die aantal mense wat werk het, van ongeveer 9 miljoen in 1995 na 15 miljoen in 2014.
  • Aanhoudende hoë werkloosheid – met die ‘narrow definition’ koers wat gegroei het van 17% in 1995 na 25% in 2014.

Hoe lyk die SA arbeidsmark vandag?

  • Arbeidsmagdeelname: Swartmense maak die grootste deel van die arbeidsmag (76%) uit, met 46.4% van die totale arbeidsmag in Gauteng en die Wes-Kaap. Daar was ʼn afname in die aandeel mense wat glad nie skoolopleiding het nie, en 17% van die arbeidsmag het nou een of ander na-matriekkwalifikasie. Die arbeidsmag in stedelike gedeeltes het ook meer as verdubbel (van 7.5 na 15.5 miljoen mense).
  • Meer as 3.5 miljoen nuwe werkslgeleenthede is geskep.

    Meer as 3.5 miljoen nuwe werkslgeleenthede is geskep.

    Indiensneming: Meer as 3.5 miljoen nuwe werksgeleenthede is sedert 1994 geskep. Swartmense tel nou as 73% van almal wat werk het, en blankes net 13%. Die groei in swart-indiensneming is as gevolg van die beter opleiding wat swartmense nou ook kan kry, asook regstellende aksie-beleide. Dit het ook gehelp dat vroue se aandeel in indiensneming gegroei het van 39.1 na 43.9%. Daar was ook ʼn groot afname in die aandeel van mense wat geen opleiding het nie (8.1% na 2.4%) en jongmense (11.8% na 8.7%) in die arbeidsmark, terwyl mense bo 45 nou 28.9% van alle werkers is. Dit wys dat daar ʼn groei in vraag is na geskoolde arbeid van werknemers, en dit bevestig ook die regering se jeugloonsubsidie.

  • Werkloosheid: Werkloosheid het met amper 2.8 miljoen mense gegroei oor die tydperk; swartmense is steeds die bevolkingsgroep met die hoogste persentasie werkloosheid. Daar was wel ʼn afname in plaaslike werkloosheid, soos meer mense na stede beweeg het, terwyl werkloosheid onder die jeug steeds baie hoog is – meer as 49%. Die werkloosheidskoers tussen mans en vroue het ook verminder, terwyl blanke- en bruinwerkloosheid steeds die minste is, al het dit sedert 1994 toegeneem. A groot probleem is die toename in dié wat langtermyn werkloos is – soveel so dat 71% van mense onder 24 jaar nog nooit enige werk gedoen nie. Dit wys daarop dat daar aktiewe arbeidsmarkwetgewing nodig is om die jeug aan te moedig en te help om hul eerste werk te kan kry.

Samevatting

  • Die arbeidsmag en arbeidsmagdeelname het sterk gegroei sedert 1994.

    "In 2013 was meeste van die werkloos jong mense onder 30, swart mans, wat woon in die stedelike gedeeltes van Gauteng en nie volledige hoërskool opleiding het nie".

    “In 2013 was meeste van die werkloos jong mense onder 30, swart mans, wat woon in die stedelike gedeeltes van Gauteng en nie volledige hoërskool opleiding het nie”.

  • As gevolg van die stadige groei in werkskepping, beteken dit dat werkloosheid nie verminder nie, en sosiale ongelykhede is ook nie aansienlik verminder of verbeter nie.
  • Ras speel steeds ʼn baie groot rol in indiensneming, ten spyte van regstellende aksie-wetgewing of swart ekonomiese bemagtigingsinisiatiewe. Daar bly steeds aanhoudende ongelykhede tussen swart en ander rasse in Suid-Afrika.
  • As gevolg van strukturele verandering in die SA-ekonomie, ʼn skuif van die primêre sektor na tersiêre sektor-goedere en -dienste, was daar ʼn verhoging in die vraag na geskoolde arbeid in die tersiêre sektor. Dit mag die oorsaak ook wees dat die indiensneming van ouer mense ook vermeerder het as gevolg van hul ervaring en hoër vaardigheidsvlakke.
  • Die bevolking het meer opgevoed geword en geslagsgelykheidswetgewing het ook ʼn positiewe impak op vroue se indiensneming en lone gehad.