Die studiemateriaal verduidelik wat entrepreneurs doen, onderskei tussen bruto en netto wins en beskryf die faktore wat wins beïnvloed. Die rol van klein en medium-grootte ondernemings (KMOs) in die formele en informele sektore word bespreek en hulle belang vir werkskepping en bemagtiging word benadruk. Die idee van die belangrikheid van KMOs vir ekonomiese groei en werkskepping, en dat die staat KMOs moet steun, is egter iets waaroor ekonome verskil.
Aan die een kant argumenteer die Vryemarkstigting byvoorbeeld dat klein ondernemings die rugraat van enige ekonomie is. Clem Sunter skryf dat om die doelwitte van die Nasionale Ontwikkelingsplan te bereik – spesifiek om 5 miljoen nuwe werksgeleenthede teen 2020 te skep – beteken dat 1 miljoen nuwe ondernemings geskep moet word. Met die aankondiging van ‘n nuwe ministerie van KMOs verlede jaar het Pierre Heistein geskryf dat hy hoop dit is nie net verkiesingspraatjies nie en het hy uitgesien na al die maniere waarop die owerheid steun aan KMOs kan gee.
Aan die ander kant is daar navorsing wat wys dat KMOs nie die drywers van groei en indiensname is waarvan ons in die media lees nie. Andrew Kerr en sy mede-outeurs se navorsing op firma-vlak wys dat oor die periode 2005 tot 2011 het 10% van bestaande werksgeleenthede verlore gegaan soos wat ondernemings inkrimp of sluit. Die nuwe werksgeleenthede wat geskep is deur nuwe ondernemings, of ondernemings wat uitbrei, was ongeveer 9.5% van indiensname. Hulle vind dat grootter ondernemings het hoër koerse van netto werkskepping as klein ondernemings. Vir ondernemings met 0-19 werknemers is die bruto koers van werke wat verlore gaan, 4 persentasie punte hoër as die nuwe werke wat geskep word.
Dit beteken nie dat KMOs nie ‘n belangrike rol speel in die ekonomie nie, maar internasionaal is die fokus nie op die totstandkoming van nuwe KMOs nie; dit is eerder op hoe om KMOs te laat groei. In Foreign Policy maak Daniel Altman ‘n sterk saak uit: Please do not teach this woman to fish. Hy skryf dat ontwikkelende ekonomieë nie meer entrepreneurs nodig het nie, maar meer groot ondernemings en skaalvoordele. Op die Innovations for Poverty Action blog skryf Ariela Alpert en Sarah Craig:
SMEs are thought to be the backbone of many economies, and as a result governments and aid agencies spend billions of dollars on SME assistance each year. However, because little evidence exists on the actual barriers to growth and the most effective solutions to alleviate these constraints, SME policy is often based on theory and conjecture. To address this knowledge gap, the SME Initiative works with a network of over 60 influential researchers and decision-makers to set a policy-relevant research agenda, conduct cutting-edge research, and share findings and best practices to improve the way SME policy is implemented around the world.
Hulle rapporteer dan die resultate van verskillende studies oor KMOs van reg oor die wêreld, byvoorbeeld watter rol toegang tot finansiering speel.
Ons kort meer sulke navorsing in Suid-Afrika.