
Die studiemateriaal gee al die belangrike inligting:
- Die konsep van elastisiteit
- Pryselastisiteit van vraag
- Pryselastisiteit van aanbod
- Inkomste-elastisiteit van vraag
- Kruis-elastisiteit van vraag (tussen substitute en komplemente)
By elkeen is daar verduideliking van die berekeninge en voorstelling met grafieke.
Om so bietjie waarde toe te voeg vertel ons graag meer van ‘n paar navorsingstoepassings.
Wanneer daar ‘n verwantskap is tussen twee veranderlikes, is elastisiteit ter sprake – met hoeveel verander die een, in reaksie op ‘n toename of afname in die ander? So byvoorbeeld is daar heelwat navorsing oor uitvoer, of invoer en die wisselkoers. As die rand/dollar wisselkoers depresieer, neem uitvoer toe, maar met hoeveel? Net so kan mens ook vra wat die verwantskap is tussen die wisselkoers en hoeveel buitelandse toeriste ons ontvang. As die rand baie verswak, kom daar baie meer buitelandse toeriste na Suid-Afrika toe, of net bietjie meer?
Daar is ook interessante mikro-navorsing oor sigarette.Willem Boshoff (van Stellenbosch Universiteit) ondersoek die pryselastisiteit van vraag na sigarette in ‘n 2008 artikel in die SA Tydskrif vir Ekonomie. Hy verduidelik dat prys en inkomste kan die vraag na sigarette beïnvloed. Eenvoudige berekeninge vind die volgende pryselastisiteite:
Hy gaan dan verder en beraam ‘n regressiemodel wat ook mense se gesondheidsbewustheid in ag neem (hy kyk na die vraag na ligte sigarette) en die beperkinge wat die owerheid in 2001 in plek gestel het oor rook in openbare plekke.
Die resultate in tabel 4 wys dat verbruikers oor die periode meer sensitief geraak het vir prysverhogings – oor die volle periode van 1996 tot 2006 is die pryselastisiteit -0.16, maar vir die periode 2000 tot 2006 is dit -0.57. Die inkomste-elastisiteit lê tussen 0.5 en 0.7.
Die resultate in tabel 5 wys dat veranderings in inkomste en groter gesondheidsbewustheid het saam met hoër pryse gelei tot ‘n vermindering van sigaretverbruik.
Aan die einde van die artikel is daar ‘n belangrike punt: daar is nie data beskikbaar oor die verbruik van onwettige sigarette nie. As die hoeveelheid sigarette gevra afneem, beteken dit nie noodwendig dat almal ophou rook nie. Sommige van daardie verbruikers rook nou onwettige swartmark sigarette.
Jy kan die Working Paper weergawe van die artikel hier aflaai.