Werkloosheid en ekonomiese groei

Die handboek het ‘n goeie afdeling oor die maniere waardeur werkloosheid verminder kan word. Een is die vraagkant-benadering: as die totale vraag na goedere en dienste groei, sal meer mense indiensgeneem word. Dus, C, of I, of G, of (X-Z) moet toeneem, dan groei AD/ Y / BBP en indiensname sommer ook. Daar is ‘n kort verduideliking van die rol wat fiskale en monetêre beleid kan speel en van die Philipskromme.

Frederick Fourie
Prof Fourie

In ‘n interessante ECON3x3 artikel vra Prof Frederick Fourie of die plan om vir groei te wag, die beste plan is.

Hy wys dat die idee dat ekonomiese groei die werkloosheidsprobleem in Suid-Afrika sal oplos, oral in beleidsdokumente voorkom. Die Nasionale Ontwikkelingsplan het ‘n groei-doelwit van 5.4% per jaar gestel om werkloosheid beduidend te kan verminder. Prof Frederick argumenteer dat beleidmakers weet nie eintlik mooi hoe om die groeikoers te verhoog nie (ons gaan vir die gewone goeie planne van investering in onderwys en infrastruktuur, uitvoer ens) en Suid-Afrika se ekonomie was nog nie naby die hoë groeikoerse waarvoor die beleidsdokumente hoop nie. Die groei wat ons wel kry is ook ongelukkig nie baie arbeids- of indiensname-intensief nie. Die beramings kry ‘n indiensname-koëffisiënt van ongeveer 0.5. Met ander woorde, vir elke 1% wat die ekonomie groei, neem indiensname met 0.5% toe. Die sake word vererger deur die feit dat baie moeilik is om die indiensname-intensiteit van groei te verhoog. Mynbou en nywerhede in Suid-Afrika is baie kapitaal-intensief. Infrastruktuur-investering ook. Moderne nywerheidsproduksie word net meer kapitaal-intensief (dink robotte en algoritmes) en vereis hoë-vlak vaardighede, nie groot hoeveelhede ongeskoolde werkers nie.

Prof Fourie maak die saak dat hoewel ekonomiese groei in die formele sektor belangrik is, moet ons kyk na ‘n twee-ledige strategie waarvan die ander been informele mikro-ondernemings is. Dit beteken nie dat daar meer inisiatiewe moet wees om sulke KMOs deel te maak van die formele sektor nie – ‘n lewendige informele sektor kan werk, inkomste en menswaardigheid aan baie mense verskaf. Beleidmakers moet begin kyk na die struikelblokke wat die mikro-entrepreneur in die gesig staar en dit verwyder.