Die studiemateriaal gee ‘n goeie verduideliking van verbruik en die verskillende tipes goedere en dienste wat ons almal verbruik om behoeftes te bevredig. Die grootste deel van ons besteding is op nie-duursame goedere en op dienste. Behalwe dat dit sommer net interessant is om te weet, word inligting oor mense se verbruik ook op interessante maniere gebruik.
Statistiek Suid-Afrika gebruik bestedingsdata om prysstygings te “weeg”, wanneer die verbruikersprysindeks (VPI) bereken word. Dit is maklik om jou in te dink dat ‘n 10% styging in die prys van nuwe motors en ‘n 10% styging in die prys van hoender nie dieselfde geweeg kan word wanneer die verbruikersprysindeks bereken word nie. Die indeks is ‘n geweegde gemiddeld van prysstygings wat die deursnee huishouding in die gesig staar – nie baie huishoudings koop gereëld nuwe motors nie, maar almal eet heelwat hoender! Wanneer die inflasiekoers bereken word vanaf die VPI, moet dit dus die besteding van die gemiddelde huishouding weerspieël. Die tabel wys dat duursame goedere kry ‘n gwig van ongeveer 8%, nie-duursame goedere 35% en dienste 50%.
Die SA Audience Research Foudantion (SAARF) gebruik mense se verbruik as ‘n maatstaf van lewensstandaard. Hulle publiseer die resultate van die Living Standards Measurement (LSM) survey en dit identifiseer verbruikers volgens hulle verbruik. Kleinhandelaars en bemarkers gebruik dan weer die inligting.
Die opname vra vir mense watter produkte hulle besit, of watter dienste hulle gebruik en dit beskryf dan hulle lewensstandaard.
Let op hoe die lyste verander het tussen 1990 en 2000.