As deel van die vraagstukke van WAT en HOE om te produseer word daar ook verwys na die struktuur van produksie. Dit word geklassifiseer as primêre, sekondêre en tersiëre produksie. Die data bladsy het ‘n paar spreiblaaie met inligting oor hoe die struktuur van produksie in Suid-Afrika lyk.
Dit is treffend om te sien hoe die toegevoegde waarde in die primêre sektore (landbou en mynbou) afgeneem het. Vervaardiging, wat tipies tel as die belangrike deel van sekondêre produksie het oor die period ingekrimp. Handel en finansiële dienste het gegroei en ook die waarde toegevoeg deur die owerheid. In Ontwikkelingsekonomie word hierdie as ‘n natuurlike proses beskou, soos beskryf deur Rostow se model van die fases van ontwikkeling.
In navorsingskringe is daar baie geskryf oor die struktuur van ekonomieë en strukturele transformasie. Die tradisionele roete waarlangs ekonomieë ontwikkel is deur verstedeliking en nywerheidsontwikkeling. Onlangs het Dani Rodrik geskryf dat sg. “groei wonderwerke” al hoe meer skaars gaan word. Vervaardiging werk nie meer met reuse fabrieke vol semi-geskoolde werkers in een land nie. Die produkte wat ons graag wil verbruik is deel van waardekettings wat reg oor die wêreld versprei is (Ricardo Hausmann het weer ‘n interessante artikel hieroor). Produksie is kapitaal-intensief, werkers moet geskoold wees en dienste speel ‘n belangrike rol. Lande bereik nou die maksimumvlak van waarde toegevoeg in vervaardiging, voordat die land ryk geword het. Produksie deur multi-nasionale ondernemings het dan al weer aangeskuif na die volgende lae-koste bestemming. Dit vra dat die vraag oor hoe Afrika-lande gaan ontwikkel, as dit nie deur nywerheidsontwikkeling is nie. Lees ook Rodrik se Project Syndicate artikel.