Die studiemateriaal verduidelik mooi dat ‘n mark is enige plek waar kopers en verkopers, van enige iets, mekaar ontmoet om te verhandel. Mens kan basies onderskei tussen markte vir produksiefaktore en markte vir goedere en dienste, en daar is groothandel en kleinhandel.
Daar is natuurlik ‘n klomp interessante voorbeelde van ongewone markte. NPR se Planet Money het ‘n goeie een oor hoe dieretuine ruilhandel gebruik. Bedreigde spesies kan nie sommer net verkoop en gekoop word nie, maar dieretuine kan die diere uitleen of skenk. Dit is nie ‘n direkte ruilstelsel waarvolgens een panda soveel wêrd is soos een duisend skilpaaie nie. Die transaksies berus op goeie bande en vertroue om nou te gee en later weer gehelp te word.
Aan die ander kant van die spektrum kry mens hoë frekwensie elektroniese verhandeling van finansiële instrumente soos aandele binne sogenaamde “dark pools”. Lees meer oor HFT hier.
Op Tyler Cowan se Marginal Revolution blog hou hy daarvan om voorbeelde te gee van ongewone markte in alles:
- In Iran kan jong mans hulleself uitkoop uit twee jaar se verpligte militêre diens.
- ‘n Nuwe restourant in Amsterdam is net gemik op mense wat alleen uiteet.
- ‘n Hotel op die eiland van St Lucia fokus weer op kos, aktiwiteite en spa-behandelings vir sjokolade-liefhebbers. Ontbyt is sjokolade tee, met sjokolade muesli.
- Daar is ook die vraag oor of besprekings by ‘n eksklusiewe restourante gekoop en verkoop moet kan word.
Ek sê al lankal vir my haarkapper dat hy moet sy tydgleuwe verkoop – die tannies wat die kapsels elke week moet laat blaas, sal ‘n premie betaal!