Hoe word die werkloosheidskoers gemeet?

Die handboek gee die streng en uitgebreide definisies van werkloosheid en verduidelik dat die sensus, registrasie van werkloses by die Departement van Arbeid, en opnames soos die Kwartaallikse Arbeidsmagopname gebruik word om werkloosheid te bepaal. Dit laat ‘n paar interessante vraagstukke waaroor ekonome navorsing doen.

Die eerste gaan oor die meting van indiensname in die formele en informele sektor. QLFS syfers van September 2015 wys die bevolking van wat ‘n werkende ouderdom as 36.1 miljoen mense. Van hulle was 15.8 miljoen indiensgeneem en 69.1% van die indiensname was in die formele sektor. Die uitdaging is om die indiensname in die informele sektor te bepaal. In hierdie opsig is daar groot verskille tussen StatsSA se syfers en die van Adcorp. Maar akademiese navorsers het mooi hierna gekyk en wys op die probleme met Adcorp se metodes. Lees gerus:

Strict and broad rates of unemploymentDie tweede vraagstuk gaan oor die verskille tussen die streng en uitgebreide definisies van werkloosheid en wanneer iemand nie meer aktief werk soek nie en beskou word as ontmoedig. Ontmoedigde werkers word gereken as deel van die nie-ekonomies-aktiewe bevolking en word dus nie getel as werkloos nie. Volgens die QLFS syfers van September 2015 is die ontmoedigde werkers ongeveer 15% van die nie-ekonomies-aktiewe bevolking. Maar ss hulle ingesluit word by die arbeidsmag neem die werkloosheidskoers toe van 25.5% na ongeveer 33.6% – ‘n bepaald groter probleem.

In interessante navorsing, vra Posel, Casale & Vermaak of die mense wat nie werk soek nie, reg getel word. Hulle argument is dat baie mense nie aktief werk soek volgens die omskrywing van die amptelike opnames nie – hulle is nie besig om te registreer by agentskappe, te reageer op adevertensies of rond te vra by besighede nie. Hulle is egter nie onmoedigde werkers wat nie belangstel om te werk nie. Hulle is eerder passiewe werksoekers wat gebruik maak van sosiale netwerke: hulle wag om by familie of vriende te hoor van werksgeleenthede. In die NIDS data wat hulle ontleed het tot 60% van die werklose mense wat later werk gekry het, dit deur sosiale netwerke gekry!

As ons dus ontmoedigde soekers het, eerder as ontmoedigde werkers, is die werkloosheidsprobleem nog groter en meer belangrik as wat die amptelike syfers wys.