Hoe buigsaam is die arbeidsmark?

job-marketDie eenheid oor arbeidsverhoudinge gee ‘n mooi verduideliking van hoe die vraag na arbeid en aanbod van arbeid die ewewigsloon en indiensname bepaal. Die faktore wat die vraag en aanbod bepaal word ook omskryf. Die mark misluk wanneer daar ‘n oormaat vraag of aanbod is:

  • As daar ‘n oormaatvraag na geskoolde arbeid is behoort die loon te styg totdat meer mense in opleiding belê en daardie werke vul (of buitelanders kan die poste kom vul).
  • As daar ‘n oormaat-aanbod is van werkers (hulle is werkloos) behoort die loon te daal totdat ondernemings dit lonend vind om hulle indiens te neem.

Maar die mark kan misluk en die handboek gee agt moontlike redes daarvoor. Een van hulle is dat die arbeidsmark onbuigsaam is.

Die algemene siening is dat Suid-Afrika se arbeidsmark onbuigsaam en oneffektief is – hoë lone en wetgewing wat die moeilik maak om werkers in diens te neem en af te dank, beperk indiensname. Akademiese navorsing dui egter op ‘n meer ingewikkelde prentjie as dit. Nuwe werk deur Dr Dieter von Fintel vra hoe buigsaam is die arbeidsmark op die kort- en langtermyn.

Sy argument is dat mens nie na die hele land se arbeidsmark kan kyk nie, maar dat werkers kyk na werksgeleenthede en lone waar hulle bly. Dus, as die werkloosheidskoers hoog is waar jy bly, sal jy bereid wees om ‘n laer loon te aanvaar om ‘n werk daar te kry? Die data en analise word mooi in die artikel verduidelik en die bevindinge is die volgende:

  • dat werkers wel die omstandighede in die plaaslike arbeidsmark in ag neem – as daar min werkloosheid is, is die looneise hoog.
  • oor die korttermyn is lone nie buigsaam nie, maar oor die langtermyn wel.
  • as werkers nie aan vakbonde behoort nie, is lone meer buigsaam (selfs oor die korttermyn).
  • werkers by klein ondernemings (met minder as 5 werknemers) is baie sensitief vir wat in die plaaslike arbeidsmark gebeur.

Hierdie fyner analise van die arbeidsmark is duidelik belangrik vir verdere navorsing en vir beleidmakers. Die regering kan nie een beleid maak wat vir almal sal werk nie.