Geld en Bankwese

Die handboek gee ‘n kort verduideliking van die ontwikkeling van geld in Suid-Afrika en die geskiedenis van die bankwese, maar daar is baie interessante dinge in die veld wat mens kan bywerk. Byvoorbeeld, die geskiedenis van finansiële krisisse.

Internasionaal is die bekende voorbeelde:

  • Semper AugustusDaar was die tulpe-borrel van die 1630’s in Holland. The Economist skryf dat ‘n skaars soort tulp, Semper Augustus, het ongeveer 1,000 gulde gekos in die 1620s, maar net voor pryse geval het was dit ongeveer 5,500 gulde per tulp bol. Dit is min of meer wat ‘n luukse huis in Amsterdam op daardie stadium gekos het!
  • Die Suid-See krisis van die vroeë 1700s in Engeland was weer ‘n borrel in die prys van die aandele van die South Sea Company. Hier is die Wikipedia weergawe van die storie, maar daar is ook ‘n hele paar goeie boeke, bv. The great swindle: The history of the South-Sea bubble, deur Virginia Cowles.

Johan Fourie het ‘n lekker blog inskrywing oor Suid-Afrika se eerste finansiële krisis. Die bankrotskap van die familie besigheid, Gebroeders Van Reenen, het die BBP per capita na raming met 22% laat krimp tussen 1788 en 1793.

As jy meer wil weet oor die belangrikheid van finansiële ontwikkeling vir ekonomiese ontwikkeling, lees Proff Grietjie Verhoef, Lorainne Greyling en John Mwamba se ERSA Working Paper oor die verwantskap tussen spare en ekonomiese groei in die Kaapkolonie tussen 1850 en 1909.