Die kringloop van ekonomiese aktiwiteite is een van die belangrike begrippe in Ekonomie. Dit word op baie verskillende maniere voorgestel. Dit kan net die huishoudings en ondernemings voorstel, of die owerheid, finansiële sektor en buiteland kan bygewerk word. Dit maak nie saak hoeveel besonderhede gegee word nie, die basiese idee is dat dit vloei van produksiefaktore, goedere en geld in die ekonomie voorstel. Produksiefaktore word van die huishoudings na die ondernemings oorgedra en goedere en dienste van die ondernemings na die huishoudings. Betalings vir produksiefaktore en betalings vir goedere en dienste vloei in die teenoorgestelde rigting. Die kringloop is onderliggend aan ‘n paar belangrike idees, byvoorbeeld:
- In ‘n geslote ekonomie is die waarde van produksie = inkomste = besteding.
- Die inspuitings in die geld-goedere kringloop is: investering (I) owerheidsbesteding (G) en uitvoer (X).
- Die lekkasies uit die geld-goedere kringloop is: spare (S), belasting (T) en invoer (Z).
- In ‘n oop ekonomie is daar dus drie gapings wat in balans moet wees(I-S), (G-T) en (X-Z).
En vir die interessantheid:
Die ekonoom William (Bill) Philips het in 1949 ‘n masjien gebou wat die ekonomiese kringloop voorstel en die vloei van geld met gekleurde water wys. Dit staan bekend as die MONIAC (Monetary National Income Analogue Computer). Jy kan meer daaroor lees in Wikipedia en NZIER het ook ‘n goeie storie oor Philips en die “rekenaar”.
As jy graag die MONIAC in aksie wil sien, kyk hierdie cool video waar Cambridge ingenieurswese Prof Allan McRobie die masjien aan die werk kry en verduidelik hoe dit bereken wanneer die ekonomie in ewewig is en wat dan gebeur as fiskale beleid verander. Die MONIAC is nie net ‘n visuele voorstelling van die werking van die kringloop nie, dit is ‘n rekenaar wat nasionale rekeninge waardes kan bepaal!