Op aanvraag: Meer oor die vraagkant-ekonomie

Ons het ‘n navraag van Louise oor ‘n opdrag wat sy gekry het:

“Vraagkant-ekonomie is allereers ‘n manier om ‘n ekonomie van ‘n resessie te bevry en ekonomiese groei te stimuleer terwyl inflasie voorkom word.” Ontleed met die stelling hierbo in gedagte die effek van die vraagkant-benadering in die ekonomie en doen ‘n aanbieding van jou bevindings.

Die wegspringpunt is dat die ekonomie is in ‘n resessie en die vraagstuk is watter maatreëls gebruik kan word om die ekonomie te stimuleer. Die oplossing kan aan die vraagkant of die aanbodkant van die ekonomie gesoek word, maar haar opdrag is om spesifiek na die vraagkant te kyk. Tim Harford het onlangs ‘n baie goeie bespreking hiervan gegee in sy nuwe boek: The undercover economist strikes back. ue strikes backOns wil graag hier ‘n paar van sy idees deel.

Die vraagkant-benadering stel dat die waarde van die bruto binnelandse produk kan toegedeel word aan die elemente van totale vraag in die ekonomie: Y = C + I + G + (X – Z). C is finale verbruiksbesteding, I is investering (of dan bruto vaste kapitaalvorming deur die privaatsektor en die owerheid), G is die owerheid se verbruiksbesteding, X is uitvoer en Z is invoer. Om ekonomiese groei te stimuleer moet mens dink hoe die elemente van die totale vraag sou kon toeneem:

  • Verbruiksbesteding vind plaas uit daardie deel van verbruikers se na-belasting inkomste wat hulle nie spaar nie. Verbruikers sal dus meer bestee as belastingkoerse laer is en hulle het meer na-belastinginkomste in hulle sak, of as hulle minder spaar, of as hulle ontspaar en op krediet koop (en hulle sal dit makliker doen as rentekoerse laag is).
  • Investering hang van baie verskillende dinge af, maar die belangrikste is rentekoerse. As rentekoerse laag is, belê ondernemings in kapitaal.
  • Owerheidsbesteding word in die begroting besluit. As die Minister van Finansies ekonomiese groei wil stimuleer kan die owerheid besluit om meer te bestee. Die belangrikste punt is dat die owerheid meer moet bestee as wat hulle inkry as belasting. Die besteding is ‘n inspuiting in die ekonomiese kringloop, maar belasting is ‘n lekkasie. Om ‘n netto impak op die ekonomie te hê moet die begrotingstekort dus toeneem – die owerheid finansier daardie ekstra besteding met skuld.
  • Uitvoer is ‘n funksie van die buiteland se vraag na ons ekonomie se produkte. Daar is nie veel wat beleidmakers kan doen om uitvoer beduidend te verhoog nie (‘n depressiasie van die wisselkoers kan help, maar so plan het ook ander probleme).
  • Invoer hang af van inkomste en die ekonomie se invoergeneigdheid – of ons baie ingevoerde produkte gebruik en verbruik. Daar is maatreëls wat die owerheid kan gebruik om invoer te laat afneem (maar dit kan ook ander ongewenste gevolge hê).

Dus, om ekonomiese groei te stimuleer sal dit help as rentekoerse verlaag word, belasting verminder word en die owerheid meer bestee. Maar watter hiervan werk die beste?Dit hang af van die omstandighede. Spesifiek van rentekoerse.

As rentekoerse hoog is (daar is positiewe reële rentekoerse: rentekoers – inflasiekoers >0) is dit die beste om rentekoerse te verlaag om die ekonomie te stimuleer. Dit is dus die gebruik van monetêre beleid en in Suid-Afrika se geval sal die Reserwebank die repo-koers verlaag. Dan sal verbruikers goedkoper kan leen en bestee en die koste om te leen om te investeer is ook laer. As C en I toeneem sal die ekonomie groei. Die voordeel van monêre beleid is dat daar redelike kort sloerings is. Die Reserwebank se monetêre beleidskomittee vergader gereëld en wanneer rentekoerse verander pas die banke, huishoudings en ondernemings vinnig hulle planne en besluite aan.

Dit kan egter gebeur dat laer rentekoerse nie veel help om die ekonomie uit resessie te lig nie. As verbruikers en investeerders vertroue verloor gaan die laer rentekoerse hulle nie meer laat verbruik of investeer nie. Hulle neem ‘n wag-en-sien houding in en hou hulle ekstra geld onder die bed. Dit staan bekend as ‘n likiditeitslokval en die bekende voorbeeld is die Groot Depressie van die 1930’s. Toe het JM Keynes voorgestel dat die owerheid die leiding moet neem en G verhoog. Dus word fiskale neleid gebruik om die totale vraag te laat toe neem en as die owerheid bestee, insette koop en mense indiensneem het almal geld in hulle sak en dit help ook om vertroue te herstel.

 

Dit klink alles maklik gesê en gedaan, maar daar is talle ander vraagstukke wat hiermee verband hou. Onder andere, is die aard van die resessie belangrik – hoe vêr is die ekonomie van potensiële produksie af, of anders gestel, hoe groot is die uitsetgaping? Wat is die aard van die werkloosheid in die resessie – is dit alles siklies, of is dit struktureel? ‘n Groot deel van verbruikers en investeerders se reaksie op beleid het te doen met verwagtinge en vertroue:

  • Gaan hulle bestee en belê as rentekoerse verlaag word?
  • Gaan hulle bestee en belê as belasting verminder word?
  • As die owerheid nou meer bestee en skuld maak, beteken dit dat hulle iewers in die toekoms weer belasting sal moet verhoog – sê nou maar net dat verbruikers verwag dit en sny nou hulle besteding terug om te spaar vir daardie toekomstige belasting?
  • Sê nou maar dat die lae rentekoerse en owerheidbesteding lei tot inflasie?

Hierdie vraagstukke lê na aan die hart van die groot debatte wat in Makro-ekonomie gevoer word. Veral in die VSA word daar sedert die finansiële krisis van 2009 gestry oor die toepaslike beleidsreaksie. Rentekoerse is gesny tot by die sg. zero lower bound. Daar is ongewone monetêre beleid gebruik om meer geld in die stelsel te pomp – sg. quantitative easing. Aan die fiskale kant was daar stimuluspakkette van miljarde dollar. Sommige sê dit was te veel en dit skuif net die skuldplafon verder op. Ander reken daar is te min gedoen. As jy belangstel om meer oor hierdie debatte te lees, kyk gerus na Paul Krugman se blog by die New York Times (maar hy is een van die hedendaagse Keynesiane en nie na almal se smaak nie!)

Wat sou die toepaslike beleidsreaksie wees in die geval van ‘n resessie in Suid-Afrika? Daarvoor sal ons ‘n afsonderlike blad moet maak!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s