Op aanvraag: Die uitdagings wat besighede in die gesig staar

Ons het ‘n eerste navraag gekry vir die jaar. Esme se opdrag is as volg:

Besighede word voortdurend gekonfronteer met uitdagings vanuit die mikro-, en makro-omgewing. Tans word die meeste besighede geraak deur die resessie. Besighede moet by die uitdagings aanpas om vir die duur van die afswaai te kan oorleef. Gee ‘n oorsig oor die volgende 3 uitdagings:

  • Globalisering
  • Die behoud van werknemers eerder as besnoeiing;
  • Nuwe verbruikerswet van 2009.

Stel maniere voor, oor hoe ‘n besigheid by die uitdagings sal aanpas.

Ons het ‘n paar idees en hulpbronne.

Oor globalisering:

Dit word nog gereëld as ‘n “buzz word” gebruik, maar is eintlik ‘n idee so oud soos die berge. Mense dryf handel, belê op ander plekke of migreer na geleenthede toe – vandag gebeur dit net vinniger en op ‘n groter skaal as ooit. Daar is ‘n klomp pluspunte:

  • Internasionale handel maak dit moontlik om produkte van oor die hele wêreld te verbruik en dit verhoog ons almal se nut – ekonome praat van die “love of variety” effek. Omdat mededinging met die res van die wêreld se firma’s is, is produksie effektief en koste is laag.
  • Internasionale vloei van kapitaal beteken dat ontwikkelende lande spaargeld uit ryk lande kan trek. Buitelanders kan in ons maatskappye belê en die owerheid se skuld koop en ons kan die geld gebruik vir investering.
  • Internasionale migrasie beteken dat skaars menselike kapitaal reg oor die wêreld kan werk en beloon kan word.

Maar daar is natuurlik ook ‘n teenkant:

  • As plaaslike produsente met die hele wêreld meeding gaan die wat nie effektief is nie, bankrot speel en dit lei natuurlik tot werksverliese. ‘n Goeie voorbeeld is die SA pluimvee bedryf. Plaaslike hoenderboere kan nie meeding met die lae pryse van ingevoerde hoender uit Brasilië nie. Maar eerder as on hulle te laat ondergaan en nog meer mense werkloos te hê, het die regering ‘n belasting gehef op ingevoerde hoender. Die ingevoerde hoender + belasting kos dan dieselfde as SA hoender. Dit beskerm die bedryf en werksgeleenthede, maar die verbruikers betaal nou duurder vir hulle hoender.
  • As die ekonomie baie staatmaak op buitelandse kapitaalvloeie vir investering is ons natuurlik kwesbaar vir buitelanders se persepsies oor hoe goed en veilig hulle belegging is. As hulle bang raak en hulle geld onttrek lei ons effektebeurs verliese, die rand depressieer en rentekoerse moet verhoog word.
  • Die internasionale beweeglikheid van mense beteken ook partykeer dat ‘n “brain drain” plaasvind. Mense met skaars vaardighede wat ons hier nodig het, kry net beter geleenthede op ander plekke. Daar is voordele en nadele.

As mens dit dus van toepassing wil maak op besighede kan jy sê dat globalisering het voordele: jy kan insette, kapitaal en werkers van oral oor kry. Jy kan dalk  jou produk of diens oor die wêreld heen verkoop. Maar jy is in kompetisie met die hele wêreld en as jy nie produktief en mededingend is nie, is dit verby. Die manier om hierby aan te pas is ter gelyke tyd spesialisasie (wees so koste-effektief en mededingend as moontlik) en diversifikasie (van insette en markte, om minder kwesbaar te wees).

Daar is ook ‘n klomp interessante sienings oor wat globalisering beteken vir ontwikkelende lande:

  • Ricardo Hausmann het ‘n mooi verduideliking van moderne produksie. Hy sê dat lande nie meer meeding met finale produkte in uitvoermarkte nie. Produksie vind plaas in “global value chains”. ‘n Produk word in een of meer lande ontwerp en weer in ander vervaardig. Dit is soos Scrabble waar jy jou letters aanlas by lang woorde. Die tipe letters, of produktiewe vermoë van die ekonomie, gaan bepaal watter woorde jy help bou. Hier kan ons bekommerd wees oor SA as dit nie goed gaan met onderwys en opleiding nie en die krag aan en af is.
  • The Economist het ‘n klomp ekonome se menings gevra oor die groei wonderwerke wat sommige ontwikkelende ekonomieë beleef het. As die aard van vervaardiging verander, bv versplinter oor value chains, met hoë tegnologie wat vereis word, sal vandag se arm lande in die toekoms teen koerse van 7-9% per jaar kan groei soos wat Sjina gedoen het?
  • Hulle het ook ‘n mooi verduideliking dat globalisering lande se ekonomieë vinniger laat groei en dat armer lande die ryker lande inhaal (ekonome praat van “convergence”), maar as gevolg van bg. aard van moderne produksie verminder dit nie ongelykheid binne lande nie. Binne ontwikkelende ekonomieë is die verdeling van inkomste en welvaart meer ongelyk omdat daar so hoë opbrengs is vir die eienaars van kapitaal en skaars vaardighede.

Oor die behoud van werkers tydens ‘n resessie:

Wanneer ‘n ekonomie ‘n afswaaifase beleef en ondernemings se verkope en produksie afneem, is die loonrekening een van die veranderlike kostes wat hulle kan probeer sny. Dit beteken nie noodwendig dat werkers net afgedank word nie. Om tydens die resessie werkers af te dank beteken dat die onderneming weer nuwes moet soek wanneer dit begin beter gaan. Daar is soekkoste, en opleidingskoste by betrokke. Besighede kan dus probeer om werkers aan te hou terwyl hulle wag vir die ekonomie om te verbeter. Daar is baie opsies: hulle betaling vir oortyd verminder, hulle kan salarisse vries, of salarisse verminder. Hulle kan werkers op onbetaalde verlof stuur (die Engelse term is “furlough“). Die onderneming kan tydelik sluit, of die werkweek verkort. Hulle kan pakkette aanbied vir werkers wat aftree of bedank.

Watter opsies haalbaar is hang baie af van die arbeidswette van ‘n land. Hier is ‘n hele verduideliking vir die VSA. ‘n Onlangse Suid-Afrikaanse voorbeeld is die impak wat die 2014 stakings in die platinum mynbedryf op ander klein besighede gehad het. Lees hier wat het Reuters en Business Day geskryf.

Oor die nasionale verbruikerswet:

Dit is altd ‘n goeie ding om mense se regte te beskerm, maar dit is ook so dat die verbruikerswet die koste om besigheid te doen, kan verhoog. Hier is ‘n lekker opsomming.

Esme, ons hoop dit help.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s