Werkloosheid: 3 “diskoerse”

In die vierde termyn kyk die leerplan na hedendaagse ekonomiese vraagstukke: Werkloosheid, arbeidsverhoudinge en herverdeling.

south_africa_unemployment

Bron: Brookings: State of youth unemployment in SA

Werkloosheid, en armoede en ongelykheid – en die herverdeling wat nodig is om dit aan te spreek, is van die grootste uitdagings wat ons in Suid-Afrika in die gesig staar. Dit is ook een van die mees aktiewe navorsingsterreine en daar is baie bykomende hulpbronne beskikbaar.

Die handboek gee al klaar ‘n klomp belangrike inligting: hoe werkloosheid omskryf word, dit gemeet en die werkloosheidskoers bereken word. Dit verduidelik ook die kenmerke van werkloosheid in Suid-Afrika. Daar is heelwat oor die oorsake van werkloosheid en die faktore wat dit laat toeneem of afneem. Die impak van werkloosheid op die ekonomie en op individue word bespreek.

Die tweede deel van die hoofstuk gaan oor die maniere waarop werkloosheid aangespreek kan word – ‘n vraag- of aanbod-kant benadering en die rol van openbare-werkeprogramme.

As jy meer wil weet van die nuutste navorsing is die ECON3x3 blog die beste plek om te begin. Die belangrikste artikel om te lees is Prof Frederick Fourie se opsomming van sy navorsing oor die werkloosheidsdebat in Suid-Afrika. Sy siening is dat daar is drie hoof strome navorsing oor werkloosheid in SA – dié van makro-ekonome, dié van arbeidsekonome en dié van navorsers wat op armoede en ontwikkeling fokus – en die gevolg is dat die debat te gefragmenteerd is om die probleme aan te spreek.

Die arbeidsekonome bevind dat die arbeidsmark nie as ‘n geheel beskou kan word nie. Dit bestaan uit dele wat baie van mekaar verskil, bv. die verskille tussen die formele en informele arbeidsmark, of tussen stedelike en landelike gebiede. Daar is dan talle faktore wat dit vir mense moeilik maak om tussen hierdie segmente van die arbeidsmark te beweeg: lang afstande, hoë koste om werk te soek, min inligting oor werksgeleenthede, beperkte opleiding en werkservaring. Dus, om werkloosheid te verminder, moet hierdie strukturele beperkinge aangespreek word.

Navorsing oor ontwikkeling en armoede fokus weer op die wêreld van bestaans- en oorlewingsaktiwiteite wat saam met die formele en informele sektore voorkom. Hier is bevind dat werkloosheid veroorsaak armoede, en armoede ontmoedig mense om werk te soek en toe te tree tot die arbeidsmark. Op verskillende maniere word mense uitgesluit en gemarginaliseer en dit moet aangespreek word om werkloosheid te verminder.

Prof Fourie skryf dat baie makro-ekonome en arbeidsmarkontleders nie hierdie perspektiewe van strukturele beperkinge in ag neem nie. Hulle fokus op die formele arbeidsmark, die belangrikheid van vinniger ekonomiese groei, die skaarsheid van vaardighede en arbeidswetgewing.

Hy sien hierdie fokus op die formele arbeidsmark as ‘n beperking in die debat oor werkloosheid in Suid-Afrika – gaan lees gerus die laaste afdeling en samevatting van sy artikel.