Category Archives: Algemeen ekonomie

Nuutste Ekonomiese Navorsing – Die Suid-Afrikaanse arbeidsmark, 1995-2013

Suid-Afrika staar verskillende uitdagings in die gesig, waarvan werkloosheid een van die belangrikste is. Die arbeidsmark is die onderwerp van menige studie en in hierdie weblog wil ons jou graag meer vertel van die nuutste werk deur Lyle, Kasongo, Moses and Yu wat onlangs by ERSA gepubliseer is.

Na 1994 is ʼn groot klomp nuwe wetgewing ingestel. Dit was gemik daarop om die onregverdighede van die verlede reg te stel en ʼn meer gelyke samelewing te bevorder. Die arbeidswette veral het ʼn nuwe minimum standaard van arbeidsvoorwaardes ingebring, en dit het ook die indiensneming van nie-blankes aangemoedig, en so beUnemployment 1agin met die regstelling en vermindering van die sosiale ongelykhede wat so inherent in die Suid-Afrikaanse samelewing is.

Verskeie studies het al gekyk na die oorspronklike impak van die nuwe arbeidswetgewing in die jare net na apartheid (die eerste 10 jaar of so), maar die nuutste navorsing het tot en met 2013 nagevors. Hulle stel voor dat die grootste uitdaging vir die SA-arbeidsmark die aanhoudende hoë vlakke van werkloosheid is wat aanhou om die SA-ekonomie te teister. Daar is menige redes wat hulle hiervoor aanvoer:

  • ʼn Onderwysstelsel wat deurlopend baie nuwe werknemers met onvoldoende opvoeding produseer. Die impak van die 1953 Bantu Opvoedingswet is nog nie heeltemal reggestel nie, en dit beteken elke jaar is daar nog baie onbevoegde jongmense wat die arbeidsmark betree.
  • Loonrigiditeit as gevolg van die nuwe arbeidsmarkwetgewing, wat bedoel was om werkers meer beskerming en regte te gee: Hierdie minimum loon wat baie keer bo die mark (market clearing) prysvlak is, beteken werkgewers kan nie soveel mense aanstel soos hulle dalk sou wou nie.
  • Onrealistiese reserwelone: Gegradueerdes verwag ʼn hoë salaris, en baie individue is huiwerig om die arbeidsmark te betree en werk te aanvaar as dit nie meer gaan wees as wat hulle sal kan verdien by die huis deur maatskaplike toelaes nie. Dit is veral die geval onder mense wat of baie kinders het, of baie ou mense het wat in hul huis bly.
  • ʼn Klein informele sektor met groot hindernisse tot toegang: Dit beteken dat die mense wat nie in die formele sektor werk kan kry nie, ook nie in die informele sektor werk kry nie as gevolg van slegte infrastruktuur en swak toegang tot kredietmarkte.
  • Stadige werksgroei: Die spoed waarteen nuwe werksgeleenthede in die ekonomie geskep word, is nie vinnig genoeg om aan al die nuwe werknemers werk te gee nie, en dit beteken dat werkloosheid aanhou groei ten spyte van meer werksgeleenthede wat nou beskikbaar is sedert 1994.

Langtermyn arbeidsmarktendense sedert 1994.

Die arbeidsmag het met meer as 8.5 miljoen mense gegroei sedert 1994.

Die arbeidsmag het met meer as 8.5 miljoen mense gegroei sedert 1994.

  • ʼn Verhoging in die aantal mense wat die arbeidsmark betree soos meer mense na 1994 begin werk soek het. Saam met die sterk groei in die bevolking, beteken dit die arbeidsmag het in 2014 meer as 22 miljoen mense gehad.
  • ʼn Verhoging in die aantal mense wat werk het, van ongeveer 9 miljoen in 1995 na 15 miljoen in 2014.
  • Aanhoudende hoë werkloosheid – met die ‘narrow definition’ koers wat gegroei het van 17% in 1995 na 25% in 2014.

Hoe lyk die SA arbeidsmark vandag?

  • Arbeidsmagdeelname: Swartmense maak die grootste deel van die arbeidsmag (76%) uit, met 46.4% van die totale arbeidsmag in Gauteng en die Wes-Kaap. Daar was ʼn afname in die aandeel mense wat glad nie skoolopleiding het nie, en 17% van die arbeidsmag het nou een of ander na-matriekkwalifikasie. Die arbeidsmag in stedelike gedeeltes het ook meer as verdubbel (van 7.5 na 15.5 miljoen mense).
  • Meer as 3.5 miljoen nuwe werkslgeleenthede is geskep.

    Meer as 3.5 miljoen nuwe werkslgeleenthede is geskep.

    Indiensneming: Meer as 3.5 miljoen nuwe werksgeleenthede is sedert 1994 geskep. Swartmense tel nou as 73% van almal wat werk het, en blankes net 13%. Die groei in swart-indiensneming is as gevolg van die beter opleiding wat swartmense nou ook kan kry, asook regstellende aksie-beleide. Dit het ook gehelp dat vroue se aandeel in indiensneming gegroei het van 39.1 na 43.9%. Daar was ook ʼn groot afname in die aandeel van mense wat geen opleiding het nie (8.1% na 2.4%) en jongmense (11.8% na 8.7%) in die arbeidsmark, terwyl mense bo 45 nou 28.9% van alle werkers is. Dit wys dat daar ʼn groei in vraag is na geskoolde arbeid van werknemers, en dit bevestig ook die regering se jeugloonsubsidie.

  • Werkloosheid: Werkloosheid het met amper 2.8 miljoen mense gegroei oor die tydperk; swartmense is steeds die bevolkingsgroep met die hoogste persentasie werkloosheid. Daar was wel ʼn afname in plaaslike werkloosheid, soos meer mense na stede beweeg het, terwyl werkloosheid onder die jeug steeds baie hoog is – meer as 49%. Die werkloosheidskoers tussen mans en vroue het ook verminder, terwyl blanke- en bruinwerkloosheid steeds die minste is, al het dit sedert 1994 toegeneem. A groot probleem is die toename in dié wat langtermyn werkloos is – soveel so dat 71% van mense onder 24 jaar nog nooit enige werk gedoen nie. Dit wys daarop dat daar aktiewe arbeidsmarkwetgewing nodig is om die jeug aan te moedig en te help om hul eerste werk te kan kry.

Samevatting

  • Die arbeidsmag en arbeidsmagdeelname het sterk gegroei sedert 1994.

    "In 2013 was meeste van die werkloos jong mense onder 30, swart mans, wat woon in die stedelike gedeeltes van Gauteng en nie volledige hoërskool opleiding het nie".

    “In 2013 was meeste van die werkloos jong mense onder 30, swart mans, wat woon in die stedelike gedeeltes van Gauteng en nie volledige hoërskool opleiding het nie”.

  • As gevolg van die stadige groei in werkskepping, beteken dit dat werkloosheid nie verminder nie, en sosiale ongelykhede is ook nie aansienlik verminder of verbeter nie.
  • Ras speel steeds ʼn baie groot rol in indiensneming, ten spyte van regstellende aksie-wetgewing of swart ekonomiese bemagtigingsinisiatiewe. Daar bly steeds aanhoudende ongelykhede tussen swart en ander rasse in Suid-Afrika.
  • As gevolg van strukturele verandering in die SA-ekonomie, ʼn skuif van die primêre sektor na tersiêre sektor-goedere en -dienste, was daar ʼn verhoging in die vraag na geskoolde arbeid in die tersiêre sektor. Dit mag die oorsaak ook wees dat die indiensneming van ouer mense ook vermeerder het as gevolg van hul ervaring en hoër vaardigheidsvlakke.
  • Die bevolking het meer opgevoed geword en geslagsgelykheidswetgewing het ook ʼn positiewe impak op vroue se indiensneming en lone gehad.

Die Minister moet Woensdag net een ding doen

Die begrotingsrede word elke jaar as ‘n balanseringstoertjie beskryf: daar word dalk bietjie meer bestee op onderwys of gesondheidsdienste en bietjie minder op verdediging, of aksynsbelasting word verhoog, maar daar is ook verligting vir persoonlike inkomstebelasting-betalers. Hierdie jaar, tydens sy eerste Begrotingsrede, het Mnr Nhlanhla Nene net een ding om te doen: hy moet buitelandse beleggers gerusstel dat Suid-Afrika se staatsfinansies in ‘n volhoubare posisie is.

3 gapings

Drie gapings tussen die lekkasies en inspuitings van die ekonomiese kringloop

Hoekom?

Buitelandse beleggers finansier ons tekorte. In Suid-Afrika verbruik ons meer as wat ons produseer. As ‘n land, is ons oortrokke. Die drie gapings is:

  • Ons investeer meer as wat ons spaar.
  • Die owerheid bestee meer as sy inkomste.
  • Ons invoer is meer as ons uitvoer.

Uitgedruk as persentasies van BBP, was die verskille (in 2013) tussen spare en investering = -5.6%, owerheidsinkomste en owerheids-besteding = -4.7% en dit gee saam die verskil tussen invoer en uitvoer = -10.3%. Dus word ongeveer 10% van die BBP gefinansier deur buitelandse beleggers. Of anders gestel, sonder hulle sal almal hulle gordels 10% stywer moet trek.

So hoekom is die Begroting so belangrik?

Die begrotingstekort is een van die gapings en dit word deels gefinansier deur buitelanders wat Suid-Afrikaanse staatseffekte koop (en ook deur buitelandse skuld wat in dollar uitgereik word). Die rente op die staatskuld is ‘n eerste las teen die owerheid se inkomste. As buitelanders sou bekommerd raak oor of die regering hulle skuld kan terugbetaal, vereis hulle ‘n hoër rentekoers vir die risiko wat hulle neem.

‘n Onvolhoubare posisie kan soos volg lyk: Owerheidsbesteding neem baie vinniger toe as owerheidsinkomste, daar is ‘n groot begrotingstekort en die owerheid moet meer leen, die rente op die staatskuld raak baie, dit neem ‘n groot deel van die inkomste op maar omdat ander besteding nie afneem nie groei die tekort verder en daar moet nog meer geleen word, die land se kredietgradering verswak en die rentekoerse op staatskuld styg, maar daar moet nog meer geleen word en so gaan dit aan tot by die sogenaamde fiskale afgrond.

Daar is navorsers wat sê die owerheid se loonrekening en sosiale oordragbetalings ons op die langtermyn tot by so afgrond kan bring. (Lees meer wat Prof Jannie Rossouw van Wits skryf en ook Frans Cronje van die SAIRR.)

Maar ons is darem nie by daardie punt nie.

In die nadraai van die 2008/09 finansiële krisis het die Suid-Afrikaanse ekonomie stadiger groei, belasting-inkomste het afgeneem en owerheidsbesteding het gegroei. Die tekort-tot-BBP en Staatskuld-tot-BBP verhoudings het verswak. Sedert 2014 volg die owerheid egter ‘n konsolidasieprogram wat groei in besteding beperk en poog om belastinginkomste te verhoog. Daar word beraam dat die 2014/15 begrotingstekort op ongeveer 3.9% van BBP te staan sal kom. Die staatskuld-tot-BBP verhouding was 45.9% in 2013/14. Hierdie is nie Griekeland nie.

So wat moet die Minister alles doen en sê?

Die feit dat daar nie ‘n groot fiskale krisis is nie, maak dit moeilik. Dit is nie nodig om ‘n groot nuwe plan op die tafel te sit nie. Hy wil die tekort verder verminder en die skuld-tot-BBP verhouding stabiliseer, maar om dit te doen moet hy beleggers oortuig dat besuiniging van besteding en ‘n bietjie meer belastinginkomste die deurslag gaan gee. Die Medium Term Budget Policy Statement (MTBPS) sê presies wat nodig is:

  •  Die plan was om nie-rente besteding te verlaag met R5.7 miljard in 2014/15 en dan R10.1 miljard in 2015/16 en R15.5 miljard in 2016/17.
  • Nuwe belasting voorstelle moet R12 mijard se bykomende inkomste inbring in 2015/16.

Almal wag natuurlik om te hoor of die Minister meer gaan vertel oor die werk van die Davis belastingkommissie en intussen is daar heelwat voorstelle oor hoe om die R12 miljard in te kry.

    • Alex Smith skryf dat om 60c by die brandstofheffing te voeg behoort ‘n bykomende R13.5 miljard per jaar in te bring. Op die manier kry die owerheid ‘n deel van die voordeel van ‘n laer olieprys en die verbruiker betaal darem steeds minder vir brandstof as in die dae van $110 per vat ru-olie. Dit is natuurlik maklik en goedkoop om in te vorder, maar regressief.
    • ‘n Verhoging van BTW is ‘n soortgelyke opsie. Jac Loubser reken dat ‘n 0.5 persentasie punt verhoging van die BTW koers kan R10 miljard se bykomende inkomste genereer.
  • Belasting voorstelIn Prof Jannie Rossouw se werk oor die fiskale afgrond, ondersoek hy ‘n voorstel om die rykes wat meer as R1 miljoen en R2 miljoen per jaar verdien, swaarder te belas. Volgens die berekeninge kan dit ‘n bykomende R7.5 miljard inbring.

So wat kan skeef loop?

Op ‘n baie praktiese vlak hang die sny van besteding hoofsaaklik af van die owerheid se loonrekening. Die plan is dat die aantal staatsamptenare nie toe moet neem nie, vakante poste se geld word gespaar en met loononderhandelinge kan die owerheid net die inflasiekoers +1 persentasie punt verhoging aanbied. Die plan kan hier staan of val.

Op ‘n meer makro-vlak kan dit gebeur dat die ekonomie stadiger groei as wat die owerheid beraam (bv. as gevolg van die elektrisiteitskrisis). Dit sal beteken dat minder belasting ingekry kan word uit die gewone belastingbronne. Dan is die tekort groter en die skuld meer. Maar as die ekonomie dalk (deur een of ander wonderwerk) beter vaar, los die probleem homself op.

Op ‘n beleidsvlak kan buitelanders dalk bekommerd wees oor die goed wat nie in die Begroting is nie. In die staatsrede het die President meer gepraat oor die Vryheidsmanifes as oor die Nasionale Ontwikkelingsplan. Dit behels idees rondom ‘n groter rol vir die owerheid in die ekonomie. Dinge soos grondhervorming,  nasionale gesondheidsversekering, of aktiewe nywerheidsbeleid gerig op werkskepping impliseer reuse, onvolhoubare owerheidsbesteding.

Dit is voorstelle en bekommernisse oor voorstelle waaroor die Minister van Finansies geen beheer het nie.

Valentynsdag en Ekonomie

Eintlik moet ek ‘n paar ernstige weblogs skryf oor rentekoerse, armoede en beurtkrag, maar dit behoort alles nog volgende week met ons te wees, so die week word afgelsuit met ‘n paar skakels na interessante Valentynsdag stories met ‘n Ekonomie perspektief.

  • Valentyn PMKFosslien het die beste grafieke van die 14 maniere waarop ‘n ekonoom sy of haar liefde kan betuig.
  • Marginal Revolution University het cool video’s wat verduidelik hoe internasionale markte werk sodat vars rose teen bekostigbare pryse beskikbaar is in ysige Noord-Amerikaanse stede op 14 Februarie.
  • Marginal Revolution blog het ‘n interessante post oor Japanese mans wat gekant is teen wat hulle noem die romantic-industrial complex. Hulle staan bekend as die “Revolutionary Alliance of Men That Woman Are Not Attracted To” en beplan protes-aksies.

Inflasie – waar is jy?

Inflasie – waar is jy?

Dit mag dalk snaaks wees om te dink dat mens ooit na inflasie sal verlang. Hoe kan ʼn prysverhoging ʼn goeie ding vir verbruikers wees? Dit beteken my reeds klein maandelikse salaris kan nou net minder brood, melk of bier koop soos die jaar aangaan.

AFR InflasieInflasie is die koers waarmee die prys vir dienste en goedere vermeerder, en amper soos die lirieke van daardie bekende John Mitchell-lied, met inflasie “you don’t know what you’ve got ‘til its gone”.

Waarop spandeer mense geld?

Inflasie word uitgewerk deur ʼn gewig te gee aan die verskillende produkte en dienste wat huishoudings van gebruik maak.

Hier in Suid-Afrika het ons steeds inflasie. Pryse is tans steeds besig om maandeliks te verhoog, veral onder kositems (melk, eiers en kase se pryse het met 12% in 2014 gestyg), alkoholiese drankies (sterk alkoholiese drankies se pryse het met 10.9% gestyg), waterdienste (gestyg met 8.5%) en boeke (gestyg met 11.4% oor 2014)(vir meer inligting sien StatsSA). Maar vir ons is daar tans geen gevaar (beslis nie in die nabye toekoms nie) dat mnr Mitchell se lied gaan geld wanneer dit by inflasie kom nie. As gevolg van ʼn groeiende aanvraag vir goedere en dienste, ʼn afhanklikheid van invoerprodukte en dus ook ʼn swak rand, die wêreldwye verhoging in kospryse en ʼn bottelnek as gevolg van elektrisiteit en beperkings en ʼn tekort aan opgeleide werkers, kan ons eintlik maar verseker wees dat inflasie in SA vir nog ʼn heelwat langer tydperk by ons gaan wees. Maar, moenie te teleurgesteld wees nie – dink net bietjie aan wat alles kan gebeur wanneer inflasie, soos ʼn ou vriend, verdwyn.

Inflasiekoerse

Die inflasiekoers in die VSA, VK, EU en China sedert 2007.

Dit is tans die situasie wat ons sien in die ontwikkelde wêreld. In Europa, Brittanje en die VSA het inflasie stadig maar seker verdwyn. Vir ʼn lang tydperk het sentralebanke probeer om die inflasiekoers by ʼn mikpunt van 2% te hou deur die rentekoers te verander en daardeur mense aan te moedig om meer geld te spandeer of meer te spaar. Maar nou is die inflasiekoers onder hierdie mikpunt.

Hierdie lae inflasiekoers kan lei tot die gevaarlike moontlikheid van deflasie – wanneer pryse nie meer styg nie, maar daal. Dit klink miskien soos goeie nuus vir die verbruiker – dit is mos lekker as die nuwe kar wat ek wil koop nou minder geld gaan kos as wat ek verwag het? Maar dink net bietjie oor wat van die ander gevolge daarvan mag wees. As almal dink dat die pryse more, of volgende week gaan goedkoper wees as vandag, dan gaan almal wag voordat hulle enige iets koop (dit maak mos meer sin want dan spaar jy geld). Maar, as gevolg daarvan, begin besighede om minder produkte te maak, jou salaris hou op om te groei, belastinginkomste daal en die regte waarde van enige skuld groei. Dit is wat in Japan gebeur het sedert 1990.

Dit is ʼn skrikwekkende situasie – wanneer verbruikers en besighede meer onseker raak oor die toekoms, beteken dit dat die groeikoers gaan val, en werkloosheid vermeerder. Tog is daar soms tye wanneer deflasie ʼn resultaat is van goeie dinge wat in die ekonomie plaasvind. As besighede meer produktief word, beteken dit hulle kan meer produkte verskaf teen ʼn goedkoper prys, en dit beteken die regte/ware inkomste van verbruikers verhoog. Deflasie saam met ʼn meer produktiewe ekonomie met meer uitsette is ʼn goeie ding. Salarisse sal nie val nie en besighede raak meer optimisties oor die toekoms (meer mense sal bereid wees om geld te leen vir beleggings). Maar, dit is nie die situasie wat ons tans in die ontwikkelde wêreld nie sien.

Inteendeel, in daardie lande, as gevolg van ʼn verskeidenheid van redes wat ons laas week in die post oor Sekulêre Stagnasie behandel het, het die groeikoers gedaal as gevolg van ʼn tekort aan vraag in die ekonomie. Daar bestaan dus ʼn uitsetgaping – die ekonomie kan meer produkte en dienste verskaf as waarvoor daar aanvraag is op die huidige prysvlakke. Dit beteken besighede moet pryse en salarisse begin verminder – wat net die totale vraag verder verminder (as jou salaris gesny word, het jy minder geld om aan produkte en ander dienste te spandeer). Enige skuld wat jy het, maak net die situasie erger, want as pryse en inkomste val, word die ware skuld wat jy moet terugbetaal meer. Bv. jy skuld iemand R1 000, maar nou het jou salaris geval na R50, en daardie R1 000 raak moeiliker om af te betaal. So, mense sny terug op uitgawes sodat hulle hul skuld kan afbetaal. Maar, dan val pryse weer en die hele situasie word net erger!

DeflationarySpiralSo, wat is die oplossing? Omdat die rentekoers nie laag genoeg kan daal om mense aan te moedig om geld te spandeer of te leen nie, moet sentralebanke ʼn ander manier kry om die probleem te hanteer, anders is daar die risiko van deflasie. As jy enigsins bietjie nuus lees, sou jy al baie gehoor het van “Quantitative Easing” – een poging van die sentralebanke om meer geld in die ekonomie te sit en daarmee die prys van bates te verhoog. Die VK, VSA en EU het al “QE”-programme begin vanaf die begin van die resessie in 2007, maar die inflasiekoers is nou nog baie laag. Onlangs het die ESB (Europese Sentrale Bank) aangekondig dat hulle met ʼn nuwe QE-program gaan begin, en elke maand 60bn Euro-effekte koop tot en met September 2016.

ʼn Alternatiewe oplossing is dalk om eerder te fokus op die fiskale beleid. John Maynard Keynes het gesê dat wanneer daar ʼn vraagtekort is, is monetêre beleid minder effektief en die regering moet eerder intree en die totale vraag in die ekonomie probeer verhoog. Wanneer daar lae rentekoerse en lae inflasie is, dan moet die regering eerder die inisiatief neem, geld leen en begin spandeer. Dit is amper soos die “helicopter drop”-oplossing wat Milton Friedman ook genoem het – waar die regering geld moet druk en dan net deur middel van ʼn helikopter verprei oor die land. In vandag se wêreld kan die regering begin deur geld om nuwe infrastruktuur ontwikkelings te spandeer.

HKPolities is dit ʼn moeilike ding om te doen. Hoe kan ons die regering toelaat om hul skuld te vermeerder en meer geld te spandeer wanneer slegte skuld die rede was vir die ekonomiese resessie? In die VSA word enige idees van nuwe uitgawes sterk bestry deur die Republikeinse Party. In die EU kan kleiner lande ook nie bekostig om meer geld te spandeer nie, en groter lande wil ook nie.

So miskien is al oplossing vir die regerings in die ontwikkelde wêreld om aan te hou met hul monetêre beleid en probeer om uitgawes te stimuleer – maar, terwyl die demografiese probleem van ʼn lae populasiegroeikoers ʼn realiteit bly, gaan dit net beteken lae inflasie en ʼn lae groeikoers vir die toekoms. Die alternatief is vir die regering om geld te leen en te spandeer. As werkloosheid vermeerder, en inflasie laag bly, mag dit dalk die enigste opsie oor wees om totale vraag in die ekonomie te vermeerder.

Vir meer leesstof oor deflasie, kyk gerus na hierdie briljante artikel van die Economist.

Handige Suid-Afrikaanse data

GDP growth by BERAs jy opsoek is na lekker grafieke van die nuutste ekonomiese data moet jy die Buro vir Ekonomiese Ondersoek se maandelikse “Economic snapshot” in die hande kry.

Laai Februarie se verslag hier af.

Dit gee al die nuutste hoogtepunte:

  • Verbruikersprysinflasie is bietjie laer en op 5.3% (jaar-tot-jaar) in Desember 2014.
  • By die Januarie vergadering van die Monetêre beleidskomittee is die repo-koers onveranderd gelaat.
  • Die staafgrafiek van die ekonomiese groeikoers wys dat in 2014 het netto-uitvoer nie veel van ‘n bydra gemaak tot groei nie.

Daar is afdelings vir die besigheidsomgewing, arbeid en finansiële markte.

Ongelykheid en “lui arm mense”

Met die wêreld se beleidmakers en sakeleiers wat hierdie week in Davos saamtrek word daar onderandere op die ongelyke verdeling van inkomste en welvaart gefokus. Byvoorbeeld het Oxfam ‘n verslag uitgebring wat aandui dat ongeveer die helfte van die wêreld se welvaart deur 1% van die wêreld se mense besit word. Vanoggend was dit ook die onderwerp waaroor luisteraars op RSG saamgepraat het en Kobus Bester het met Prof Raymond Parsons gesels.

Prof Parons het natuurlik ‘n klomp sinvolle goed gesê oor ongelykheid, oor Piketty se boek Capital in the 21st Century en oor hoe Suid-Afrika die Nasionale Ontwikkelingsplan moet implimenteer om ongelykheid aan te spreek. (Sien ook ‘n weblog van 2014 hier).

Dit is egter die luisteraars se sms boodskappe wat my ontstel en bekommer het en hierdie vinnige weblog noodsaak. Die strekking van talle van die boodskappe was dat arme mense moet ophou klae oor ongelykheid en dat hulle arm is omdat hulle lui is om te werk. Dit is belangrik om sulke sienings aan te vat. Mens kan begin deur net na die syfers te kyk. In Suid-Afrika is die mediaan maandelikse salaris van ‘n rekenmeester met 5 jaar ervaring ongeveer R42000 – dit is 14 keer meer as die skoonmaker in sy kantoor wat R3000 per maand verdien. Hier is groter vraagstukke ter sprake as luiheid.

ongelykheidDaar is baie hieroor geskryf, spesifiek na aanleiding van Piketty se boek, Capital. The Economist het ‘n lekker bondige verduideliking van waaroor dit gaan en ek haal graag aan:

Mr Piketty derives a grand theory of capital and inequality. As a general rule wealth grows faster than economic output, he explains, a concept he captures in the expression r > g (where r is the rate of return to wealth and g is the economic growth rate). Other things being equal, faster economic growth will diminish the importance of wealth in a society, whereas slower growth will increase it. But there are no natural forces pushing against the steady concentration of wealth. Only a burst of rapid growth (from technological progress or rising population) or government intervention can be counted on to keep economies from returning to the “patrimonial capitalism” that worried Karl Marx.

Die infografieka wys ook mooi hoe die inkomste van die rykste 10% in verskillende lande hoog was, bietjie afgeneem het en onlangs weer toeneem.

Moet nou nie dink dat ek maak nou hier ‘n argument vir rewolusie, of ‘n wêreldwye belasting op die superrykes nie. Progressiewe belastingstelsels het ‘n plek en sosiale veiligheidsnette is belangrik, maar die groot uitdaging is om ekonomiese groei meer inklusief te maak. Prof Frederick Fourie verduidelik dat ekonomiese groei in Suid-Afrika nie inklusief is nie – wanneer die ekonomie groei trek die eienaars van kapitaal en opgeleide menselike kapitaal die voordeel daarvan. Ricardo Hausmann verduidelik dat die oplossing is om mense te laat inskakel by netwerke wat hulle produktief maak.

Wat dink jy? Is ongelykheid ‘n probleem? Hoe kan ons dit aanspreek?

Ek dink hierdie gaan ‘n belangrike onderwerp wees vir nog baie Grensnut weblogs.

Opdatering: Verlede week het NPR se Planet Monet blog ‘n interessante artikel gehad. Hulle het gevra hovel meer of minder geld mense in die VSA sou hê as die inkomsteverdeling dieselfde gebly het as in 1979. Daar is ‘n treffende grafiek wat wys met hoeveel die rykste 1% se inkomste sou moes afneem. Kyk gerus.

Privatisering van Eskom?

Met al die probleme wat Eskom ondervind hoor mens so af en toe die mening dat hierdie openbare onderneming dalk eerder geprivatiseer moet word. Daar is verskillende voorstelle, maar die argument is dat ʼn geprivatiseerde Eskom meer effektief bestuur sal word. Markkragte, “harde” begrotingsbeperkings en fokus op ʼn goeie opbrengs vir aandeelhouers sal die ligte aan hou. Daar is ʼn kans dat dit in die praktyk so kan werk, maar sal dit werk in teorie? Dit hang af van mededinging.

Ekonomie handboeke verduidelik dat markkragte werk die beste wanneer daar volmaakte mededinging is. Die vereistes daarvoor is onder andere dat daar baie kopers en verkopers van die produk is, dat hulle identiese produkte verkoop, dat hulle nie saamspan nie, dat daar vrye toetrede tot en uittrede uit die mark is, en geen owerheidsinmenging nie. In die volmaak mededingende mark is die prys wat gevra word gelyk aan die ekstra inkomste as een ekstra eenheid van die produk verkoop word, en dit is gelyk aan die ekstra koste van daardie eenheid. Die volmaak mededingende mark is dus nie iets wat jy elke dag sien nie. Dit is egter ʼn lekker teoretiese maatstaf om die regte wêreld teen te meet.

In die regte wêreld beteken die aard van elektrisiteitsvoorsiening oor ʼn netwerk dat Eskom ʼn natuurlike monopolis is. Om krag op te wek en te versprei vereis reuse kapitaalinvestering en daar is skaalvoordele in produksie: as die kragstasies en netwerk eers gebou is, is die ekstra koste om nog krag op te wek, of die ekstra koste om nog ʼn verbruiker by die netwerk te voeg, baie laag. Daar is dus van nature net een groot onderneming wat die mark bedien.

natuurlike monopolieSo hoe werk die mark wanneer daar ʼn natuurlike monopolis is? Dit kan met behulp van ʼn grafiek verduidelik word. Die volmaak mededingende uitkoms sou by punt A wees waar die grensinkomstekromme die grenskostekromme sny. Let op dat die skaalvoordele beteken dat die kostekrommes ʼn baie plat verloop het. Die aard van elektrisiteitsvoorsiening is dat dit goedkoper word op groot skaal. ʼn Groot hoeveelheid word geproduseer teen ʼn lae prys. By punt A is die gemiddelde inkomste per eenheid egter laer as die gemiddelde koste per eenheid. Klein mededingers sal ʼn verlies lei en uit die mark tree totdat net die natuurlike monopolis oor is. Die natuurlike monopolis se ewewig is egter by punt B waar die grensinkomste en grenskoste krommes sny. Daar word nou ʼn kleiner hoeveelheid geproduseer en teen ʼn hoër prys verkoop. Die natuurlike monopolis maak ʼn lekker wins.

Ons moet dus mooi dink oor die voordele en nadele van Eskom in privaat hande teenoor Eskom as ʼn openbare onderneming. As geprivatiseerde onderneming gaan dit waarskynlik beter bestuur word, maar elektrisiteit gaan teen ʼn hoër prys voorsien word aan die huishoudings en ondernemings wat kan betaal. As ʼn openbare onderneming kan die staat sorg dat daar meer elektrisiteit gelewer word teen ʼn laer prys – as daardie prys laer is as die gemiddelde koste sal die verskil elk geval op ʼn manier gefinansier moet word – deur hoër tariewe, of deur ander belastings.

Hierdie is natuurlik ‘n eenvoudige verduideliking. Jy kan aanvoer dat Eskom se mark betwisbaar is – sonkragplase of die sonkragpanele op jou dak bied alternatiewe – maar dit is nog beperk. Jy kan ook sê dat so geprivatiseerde natuurlike monopolie uit die aard van die saak gereguleer gaan word (soos deur NERSA) om laer pryse en toegang tot elektristeit te verseker. Dalk kan daar mededinging wees in opwekking, maar die verspeidingsnetwerk bly in openbare hande?  Daar is navorsing oor al sulke opsies, maar die belangrikste vraag om te vra is, wat wil jy bereik?

Om op te som:

Openbare onderneming

Privaat natuurlike monopolis

Voordele Deur die staat (belastingbetaler) se steun word meer elektrisiteit aangebied teen ʼn laer prys.

Dink aan die gratis elektrisiteits-toekenning van armlastige huishoudings, of goedkoop elektrisiteit vir sekere nywerhede.

En ander doelwitte kan ook nagejaag word, soos voorkeur-aankope by plaaslike KMOs, BEE indiensname.

Effektiewe voorsiening van elektrisiteit.
Nadele Word nie baie effektief bestuur nie, met al die gevolge wat ons nou beleef. Die prys van elektrisiteit gaan hoër wees – vir ʼn private onderneming is wins die doel.

En dit gaan voorsien word aan die huishoudings en ondernemings wat kan betaal.

Ander sosiale doelwitte gaan nie nagejaag word nie.