Werkloosheid in Suid-Afrika

Statistieke Suid-Afrika het hierdie week bekend gemaak dat die werkloosheidskoers weer ‘n rekord hoogtepunt gehaal het.

Ek het gedink dit is ʼn goeie idee om onself net weer te herhinner hoe ons hier gekom het.

Met die instelling van die kwartaallikse arbeidsmagopname in 2008 was die werkloosheidskoers 23,2%. Dit was na die middel-2000s wat die ekonomie sterk gegroei het en met die aanvang van die wêreld finansiële krisis. Kort daarna het die sogenaamde verlore dekade van die Zuma jare begin. Die ekonomie het stadig gegroei en die werkloosheidskoers het stadiaan gestyg. Teen Januarie 2019 was dit op 27,6% en het in die kwartaal daarna gespring na 29%. Toe die Covid-19 pandemie tref in die eerste kwartaal van 2020 was dit op 30,1%. In 2021 het die ekonomie begin herstel, maar werkloosheid het aanhou toeneem. Vanaf 32,6 na 34,4, na 34,9% in die derde kwartaal.

Oor die loop van die eerste drie kwartale van verlede jaar is ongeveer 713 000 minder mense indiensgeneem. As mens dieper kyk is daar eintlik 946 000 minder mense formeel indiensgeneem, maar daar word effens daarvoor opgemaak deur toename in informele indiensname, indiensname in die landbou en private huishoudings. Oor die drie kwartale het werkloses toegeneem met ongeveer 400 000 mense en in September was ʼn totaal van 7,6 miljoen mense werkloos. ʼn Verdere 3,8 miljoen mense tel as ontmoedigde werkers en hulle getalle het oor die drie kwartale met ongeveer 730 000 gegroei.

Gister is die syfers vir die vierde kwartaal van 2021 bekendgemaak. Volgens die sogenaamde eng definisie staan werkloosheid op 35,3%. As mens bietjie dieper delf is daar tog interessante inligting en dalk so bietjie hoop.

Ons weet dat die ekonomie het in 2021 met 4,9% gegroei, maar dit was ongelukkig sogenaamde werklose groei. As mens vergelyk tussen Desember 2020 en Desember 2021 is daar ongeveer 480 000 minder mense wat indiensgeneem is. Die skokkende feit is dat die verliese van formele werke veel groter is. Ongeveer 724 000 minder mense is formeel indiensgeneem. Daar was wel ʼn toename in indiensname in die informele sektor, landbou, en private huishoudings.

Wanneer ons die derde en vierde kwartaal van 2021 vergelyk was daar wel ʼn toename in indiensname, al het die werkloosheidskoers ook toegeneem. Formele indiensname het byvoorbeeld met 142 000 werke toegeneem. Die breë sektore wat die werk geskep het was private huishoudings, handel, gemeenskaps- en sosiale dienste, landbou, mynbou en die finansiële wêreld.

Die werkloosheidsyfer het toegeneem omdat meer mense tot die arbeidsmark toegetree het. Mense wat in September getel is as onmoedigdes wat nie meer werk soek nie, of aangedui het dat hulle nie ekonomies aktief is nie, het weer begin soek en so is hulle by die werkloses by getel.

Dit is die ligpunt. Toe die ekonomie sterk gegroei het, het meer mense weer begin werk soek. Hulle was nie meer heeltemal so hopeloos nie. En daar is werk geskep, dit is net nog heeltemal te min.

Hulpbronne: Statistieke Suid-Afrika se QLFS webblad gee die aanbieding wat hulle gemaak het met mooi grafieke in. Jy kan ook die QLFS Trends excel aflaai en self na die syfers kyk.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s