Wat sal ekonomiese groei dryf?

Ons weet dat die ekonomie het met 1,2% gegroei in die tweede kwartaal. Ekonome se voorspellings van die groeikoers vir die hele jaar is uiteenlopend. Johan Els van Old Mutual voorspel 5,5% groei vir 2021, die Reserwebank het in Juliemaand gesê 4,2% en Investec reken dit kan 3,9% wees.

Prof Raymond Parsons maak die punt dat ons eintlik glad nie bekoomerd moet wees oor groei hierdie jaar nie. Die Covid-19 pandemie was ʼn vraag- en aanbodkant skok vir die ekonomie en selfs net ʼn gedeeltelike terugkeer na normaal gaan ʼn stewige groeikoers oplewer. Die moeilikheid is 2022 se groei. Waar sal die groei vandaan kom?

Bron: StatsSA

As ons kyk na hoe verskillende sektore gevaar het sedert die vierde kwartaal van 2020 en in die eerste en tweede kwartaal van hierdie jaar was die presteerders, landbou, mynbou, handel, spyseniering en akkommodasie, en vervoer en kommunikasie. Vervaardiging het aanvanklik sterk herstel, maar toe skaars gegroei in die eerste kwartaal en gekrimp in die tweede. Finansiële en sake-dienste het ook gekrimp in die afgelope kwartaal. Wanneer die relatiewe grootte van die sektor in ag geneem word is landbou en mynbou se bydraes tot die groeikoers baie min. Konstruksie het geen bydra gemaak tot groei hierdie jaar nie.

Aan die bestedingskant van die BBP het die 1% groei in die eerste kwartaal van huishoudings en uitvoer af gekom. In die tweede kwartaal het amper net uitvoer bygedra tot die 1,2% groeikoers. Investering het gekrimp in die eerste kwartaal en het ʼn 0,1 persentasiepunt bydra gemaak tot groei in die tweede kwartaal.

So as ons vra waar sal volgende jaar se groei vandaan kom het ons baie min beheer oor wat met uitvoer gaan gebeur en ons kan net hoop vir die beste vir die internasionale ekonomie. Hopelik sal verbruikers bevoordeel word deur hierdie jaar se 5% groei. Mense moet weet hulle gaan hulle werke behou, en salaris kry voordat hulle opgehoopte spaargeld bestee op uiteet, klere en vakansies. FNB en die BEO se verbruikersvertroue-indeks het in die derde kwartaal effens verbeter, maar staan steeds op -10. Besighede sal ook bevoordeel word deur goeie groei hierdie jaar, maar onlangs het RMB en die BEO se sakevertroue-indeks afgeneem en dit staan op 43 punte.

Dit bring ons terug na die ou storie. Ekonomiese aktiwiteite gaan eers waarlike herstel as meer mense ingeent is en die inperkings gelig word. Investering gaan eers toeneem as daardie lank beloofde hervormings sigbaar word.

Lewer kommentaar