Moet Suid-Afrika ooit die Olimpiese Spele aanbied?

Terwyl ons almal voor die TV sit en die Olimpiese Spele geniet is dit dalk tyd om te praat oor of dit vir ʼn stad die moeite wêrd is om dit aan te bied. Die koste en die voordele moet opgeweeg word. Gelukkig het ekonome ook al hieroor navorsing gedoen. Robert Baade en Victor Matheson het in 2016 ‘n artikel hieroor in die Journal of Economic Perspectives gepubliseer met die titel: Going for gold: The Economics of the Olympics.

Dit is ‘n duur storie om die Spele aan te bied

Daar is drie groot kategorieë van uitgawes:

  • Die eerste is algemene infrastruktuur vir die atlete en toeriste wat gaan kyk. Die IOK vereis ʼn minimum van 40 000 hotelkamers vir toeskouers en ʼn Olimpiese dorp wat 15 000 atlete en amptenare kan akkommodeer. Daarmee saam moet vervoerfasiliteite vir al die mense in plek wees.
  • Tweede is daar die gespesialiseerde sport-infrastruktuur. Min stede het alles, veral as daar ook plek moet wees vir baie toeskouers.
  • Dan is daar die bedryfskoste waarvan sekuriteit ʼn groot en belangrike deel is.

Dit is moeilik om die presiese koste te bepaal want soos meeste bouprojekte gaan dit oor die begroting en baie keer is daar vermorsing en korrupsie ter sprake.

Die beste raaiskote is dat London 2012 het ongeveer 11,4 miljard dollar gekos het en Rio 2016 min of meer 11,1 mijard dollar. Dit klink baie, maar is dit dalk nie die geld wêrd nie?

Rol die geld weer in?

Oor die korttermyn is daar borgskappe, kaartjieverkope, en uitsaairegte, maar hoe vergelyk dit met die koste? Die eerste belangrike ding om te weet is dat al die inkomste na die IOK toe gaan. Hulle deel dit dan met die plaaslike organiseringskomittee. Die syfers wys dat London 2012 ongeveer 11,4 miljard dollar gekos het om aan te bied. Onthou, ʼn miljard is ʼn duisend miljoen. Aan die inkomste kant het die uitsaairegte 713 miljoen dollar ingebring, kaartjieverkope 988 miljoen dollar, lisensies 119 mijoen, internasionale borge 300 miljoen, en plaaslike Britse borge 1150 miljoen dollar. Al te saam net minder as ʼn derde van die koste.

Die bou-program vir die spele kan ook ʼn positiewe ekonomiese impak hê en meeste impakstudies wat voor die Spele gedoen word dui op ʼn groot hoeveelheid nuwe besteding en werksgeleenthede. Meeste akademiese studies wat gedoen word na die Spele wys egter dat die impak baie klein was.

Maar wat dan van die “voel goed”-effek wat later toerisme en investering moet trek? Opnames wys dat mense is trots daarop om die Spele aan te bied, maar dit skakel nie om in baie geld nie.

Hoe gebeur dit dat die vooruitskattings so optimisties en verkeerd is?

Een rede is dat impakstudies ignoreer die substitusie-effek. Dit gebeur wanneer plaaslik inwoners geld bestee om die Spele by te woon, maar dit vervang ander besteding soos uiteet of vakansie hou. Dit laat die impak van die Spele groot lyk, maar die netto besteding is maar dieselfde.

ʼn Ander rede is die verdringings-effek wanneer plaaslike toeskouers juis wegbly omdat dit Olipiese Spele hulle stad te besig en te duur maak.

En dan kan dit ook wees dat die verkeerde bestedingvermenigvuldiger gebruik word in die berekening van die impak. Die ekstra besteding van die spele word dalk nie plaaslik vermenigvuldig nie, maak lek weg na die res van die land en die wêreld.

Watter getalle ook al genoem word, skuif maar die desimale punt een plek na links.

Maar wat van die langtermyn voordele?

Een van die veronderstelde langtermynvoordele daarvan om die Spele aan te bied is die nalatenskap van die sportfasiliteite, maar meeste studies wys dat dit is ongelukkig wit olifante. Om ʼn stadion later te omskep in ʼn woonstelblok is gewoonlik duur.

Die investering in infrastruktuur is ʼn beter belegging, maar daar is nie bewyse dat dit ʼn beter opbrengs gee as om in elkgeval te belê in ʼn beter vervoernetwerk nie. Dit is nie nodig om die Spele aan te bied om dit te doen nie.

Of die Spele ʼn stad op die kaart plaas is moeilik om te bepaal. Rio en London was klaar op die kaart, en ek weet nie of mens kan sê Barcelona was ʼn versteekte juweel nie. Navorsing wys dat om die Spele aan te bied kan help om later toeriste te trek, maar dit is verseker nie die goedkoop manier om dit te doen nie.

Of die aanbied van die Spele lei tot ʼn toename in uitvoer en ekonomiese groei in die algemeen, is nie duidelik nie. Studies het bevind dat daar nie ʼn verskil is tussen die makro-ekonomiese prestasies van lande wat die Spele aanbied en die wat aansoek gedoen het, maar nie die bod om aan te bied, wen nie.

Hoe kan die Spele meer volhoubaar aangebied word?

Jy sou dink dat ek gaan voorstel dat ons maar die spele moet afskaf – dit is te groot en te duur. Maar, nee, glad nie. Ek dink wel dat ʼn ontwikkelende land soos Suid-Afrika, moet nie probeer om dit aan te bied nie. Ons kan ons beperkte hulpbronne beter gebruik.

Maar ek het darem ook voorstelle oor hoe ryk lande dit meer volhoubaar kan aanbied. Een gaan oor hervorming van die IOK, byvoorbeeld, om die koste en voordele beter te verreken in die bodproses, en om volhoubaarheid ʼn belangrike kriteria te maak. Dit is tans aan die gang. ʼn Ander voorstel is om die bouprogram kleiner te maak. Stede wat die Spele al aangebied het, kan weer die geleentheid kry en van die fasiliteite weer gebruik. Dit is nou die geval in Tokyo waar van die 1964 fasiliteite opgeknap is en weer gebruik word. In die bod vir 2024 het Los Angeles voorgestel dat hulle universiteitskoshuise wil gebruik eerder as om ʼn nuwe Olimpiese dorp te bou. Dalk kan die somer Spele tussen 4 stede roteer in die toekoms?

Dit is baie belangrik om die aanbied van die Spele ekonomies volhoubaar te maak, want dit is vir my baie lekker om dit te kyk.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s