Basiese inkomste-toelaag

Ek het vanmiddag oor RSG Spektrum ‘n punt probeer maak oor die nuwe voorstelle vir ‘n basiese inkomste-toelaag, maar sal dit graag meer duidelik probeer stel as wat  lewendig op die lug oorgekom het!

Ekonomiese navorsing wys dat as jy ʼn humanitêre krisis wil verlig, is die beste manier om kontant te gee:

  • Kospakkies, koopbewyse ens. is nie so effektief nie.
  • Kontant het nie moeilike logistiek of baie oorhoofse koste nie en kan na bankkaarte of selfone gestuur word.
  • Wanneer arm mense ‘n bietjie meer geld kry, koop hulle ‘n bietjie meer van die dinge wat vir hulle waardevol is: kos, gesondheidsdienste, onderwys.

In Suid-Afrika kry ongeveer 18 miljoen mense kry ʼn oordragbetaling en dit kos R188 miljard per jaar  (3,5% van BBP). Suid-Afrika het die tweede hoogste proporsie van huishoudings wat ʼn oordragbetaling kry, in die wêreld.

Die vrae wat baie mense vra is:

  • wil Suid-Afrika vir nog mense ‘n toelaag gee, is daar nie ‘n beter manier nie?
  • en as ons wil, kan ons dit bekostig?

Die ekonomiese krisis van die Covid-19 pandemie en inperking noodsaak dalk ‘n toelaag. Ekonomiese groei en werkskepping is beter oplossings as ‘n toelaag, maar ons weet dat die ekonomie gaan hierdie jaar krimp. Selfs wanneer die ekonomie teen lae koerse groei skep dit nie baie werk nie: vir elke 1 persentasiepunt groei van die ekonomie is daar ʼn 0,5 persentasiepunt groei van indiensname. Wanneer mens kyk na die eienskappe van die huishoudings wat in Suid-Afrika in kroniese armoede leef sien jy ook dat hulle op baie maniere uitgesluit is van die arbeidsmark, dat dit onwaarskynlik is dat hulle die voordeel sal kry van ekonomiese groei. Hulle word vasgevang deur armoede. Hulle sit in tradisionele en landelike gebiede, afgesny van die ekonomie en werksgeleenthede. Baie het nie die eienskappe wat nodig is om mee te ding in die stedelike arbeidsmark nie: hulle het nie werkservaring nie, hulle is swak opgelei (Matriek tel in die formele, stedelike arbeidsmark), en hulle het nie sosiale kapitaal nie – ʼn netwerk waardeur hulle werk kan soek en stad toe trek nie. Hulle kan nie die koste van werksoek of mikro-sakegeleenthede dra nie. Groei is eenvoudig nie ʼn korttermynoplossing vir die nood wat hulle in die gesig staar nie.

Maar kan ons die toelaag bekostig wat die nood kan help verlig?

Die nuutste ANC voorstel is ‘n toelaag van R500 pm vir mense tussen die ouderdom van 19 en 59, wat nie kwalifiseer vir ander oordragbetalings nie. Dit is teen ʼn koste van R198 miljard per jaar en sal die besteding op oordragbetalings verdubbel. Hierdie tipe geld is nie in die staatskas nie.

Bietjie minder is dalk moontlik, maar nie sonder om baie moeilike keuses te maak nie. Claire Bisseker gee ʼn goeie verduideliking hiervan in die Financial Mail:

  • Om vir 10 miljoen werlose mense R350 per maand te gee sal ongeveer R42 miljard per jaar kos.
  • Om dit te finansier is daar opsies:
    • Sny die staat se salarisrekening met 6,5%, of
    • Verhoog BTW van 15% na 16,5%.

Maar om salarisse te sny is nie maklike politieke ekonomie nie en om BTW te verhoog sal juis die armes swaarder tref. Die staat kan ook na hoë-inkomste verdieners kyk, maar met belastingveerkragtigheid (tax buoyancy) wat die laaste drie jaar afneem, is dit nie duidelik vir hoeveel hulle nog sal instaan nie.

So om op te som: ‘n basiese-inkomste toelaag is ‘n goeie idee om die mense te help wat die swaarste getref word deur die Covid-19 pandemie, maar dit is bykans onmoontlik om uit te voer.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s