Nog bietjie ekonomiese geografie

Ons leer altyd vir studente dat Ekonomie beantwoord die groot vrae van WAT, HOE en VIR WIE om te produseer, maar partykeer maak dit ook saak WAAR geproduseer en verbruik word. Die premier van Gauteng het vandag aangekondig dat die hele provinsie na vlak-3 inperking moet beweeg al is Ekurhuleni ‘n pandemie brandpunt. Daarteenoor het die premier van die Vrystaat pandemonium veroorsaak toe sy voorgestel het dat Mangaung dalk op vlak-4 inperking moet bly terwyl die res van die provinsie na vlak-3 beweeg.

My storie oor die impak wat verskillende vlakke van inperking op verskillende plekke op die ekonomie sal hê is vandag ‘n Netwerk 24 potgooi. Luister dit hier.

Of lees gerus hier meer:

Hoekom is die groot stede so belangrik?

Die stede is ekonomiese agglomerasies – daar is ʼn opeenhoping van ekonomiese aktiwiteite. Die besighede in stede deel gespesialiseerde verskaffers en kry die voordele van ekonomieë van skaal. Mense bly in stede omdat daar meer en beter werksgeleenthede is. Almal leer bymekaar en “idees is in die lug”. Stede is waar ekonomiese groei gebeur.

Hoe groot deel maak die verskillende stede uit van Suid-Afrika se ekonomie?

As ons die bruto toegevoegde waarde van produksie as maatstaf gebruik is die stad van Johannesburg die grootste rolspeler. Daardie ekonomie maak 13,4 % van die Suid-Afrikaanse ekonomie uit. Kaapstad is die tweede grootste op 9,7%. Maar ons weet natuurlik dat Gauteng eintlik een groot mega-stad word so wanneer mens die Ekurhuleni (8%), die suide van Gauteng (Sedibeng is 1,7%) en die Wes-Rand (2,2%) saam met Tswane (9,0%) by tel, maak Gauteng 34,4% van Suid-Afrika se ekonomie uit. Dan volg eThekwini (Durban) met 8,8%. Nelson Mandela Baai (2,9%), Buffalo City, Mangaung, Emalahleni en Polokwane.

Wat sal die gevolge wees van verskillende vlakke van inperking?

Dit die ekonomie aan bande lê. Hierdie ekonomieë werk omdat hulle in interaksie is. Mense bly en werk op verskillende plekke. Produksie en verkope is op verskillende plekke. Dit sal nie sin maak vir ʼn maatskappy om sy aktiwiteite te hervat as al sy werkers nie tot by die werk kan kom nie, of as sy verskaffer van insette nog onder ʼn strenger vlak van inperking is en nog nie produksie aan die gang kon kry nie. Die kenmerk van produksie vandag is waardekettings met baie skakels wat versprei is oor klomp plekke en verbind word deur “just-in-time” logistiek. As een deel van die ketting aan bande gelê word, staan die res ook stil.

‘n Lekker voorbeeld is Sasolburg en Vanderbijlpark. Hulle is weerskante van die Vaalrivier in verskillende provinsies, maar funksioneer as een ekonomie. Om verskillende vlakke van inperking te hê sal albei ekonomieë tot stilstand bring.

Verskillende sektore is ook verskillend versprei oor die land. Watter invloed kan dit hê?

Ons weet dat mynbou vind plaas waar die hulpbron is en landbou waar die regte klimaat is, maar vervaardiging en ook dienste het belangrike ekonomiese geografie eienskappe. Navorsers bereken ʼn sogenaamde liggingskwosiënt. Dit stel die grootte van ʼn sektor in ʼn stad relatief tot die grootte van daardie sektor in die hele land se ekonomie. As die liggingskwosiënt groter is as een, word dit geïnterpreteer dat die stad ʼn mededingende voordeel het in daardie sektor, relatief tot die res van die land. Die syfers is baie en net ʼn kort uittreksel daaruit wys dat die volgende sektore belangrik is die volgende stede.

Kaapstad, Nelson Mandela Baai, eThekwini, Ekurhuleni en Johannesburg het ʼn mededingende voordeel in vervaardiging. Nelson Mandela Baai en Buffalo City is bekend vir elektriese- en vervoertoerusting. eThekwini het mededingende voordeel in onder andere tekstiel en klere, hout en papier, en petroleum produkte, chemiese produkte, rubber en plastiek. In Ekurhuleni is dit metaalprodukte en masjinerie, elektriese produkte en toerusting. Al die groot stede het mededingende voordeel bo die res van die land in die vervoer- en kommunikasie-sektore. In die tersiêre sektor is Johannesburg sterk in Bankwese en versekering en Kaapstad in besigheidsdienste.

Verskillende vlakke van inperking kan beteken dat waardekettings tussen sektore/ bedrywe in die verskillende stede gebreek word.

Kan sulke verskille in inperking daartoe lei dat maatskappye skuif?

Nie sommer oor die korttermyn nie. Daar is ʼn groot stuk vastekoste in waar ʼn maatskappy geleë is en ek glo meeste hoop dat die impak van die Covid-19 pandemie en die inperkings tydelik sal wees. Daar is wel navorsing wat wys dat maatskappy oor die medium termyn skuif – hulle is “footloose”. Daar is bewyse dat soos wat die koste van huur in Suid-Afrika se stede toegeneem het en die koste van vervoer gedaal het, het uitvoerders stadigaan verder van hawens af gevestig. Hoë tegnologie dienste-maatskappye is ook van die wat makliker wegskuif uit die groot sentra na enige plek met ʼn vinnige internet verbinding en ʼn lekker omgewing.

 

Dus, ek sal al baie bly wees as my koffiewinkel en haarkapper hier in Potchefstroom verligting kry van die inperkingsmaatreëls. Maar, soos wat die data wys, as die metro-stede op vlak 4-inperking bly sal ons nie kan sê dat daar veel gedoen is om die hele Suid-Afrikaanse ekonomie oop te maak en aan die gang te kry nie.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s