Besoedeling

In gister se Beeld skryf Elize Tempelhoff dat die Sentrum vir Omgewingsregte verdoemende getuienis aan die Minister van Omgewingsake, Boubou en Visserye voorgelê het waarin verduidelik word hoe Eskom se Kendal steenkoolkragstasie die inwoners van Ogies en omliggende streke vergif.

In Ekonomie dink ons hieraan as die geval van ‘n negatiewe eksternaliteit. Daar is ‘n vraag na elektrisiteit en die aanbod opgewek deur die kragstasie. Die aanbodkromme is die grenskoste van ‘n eenheid elektrisiteit en omvat die koste van die produksiefaktore. Handboeke verwys ook hierna as die privatekoste wat Eskom in ag neem wanneer hulle besluit hoeveel om te produseer. Eksternaliteit

Maar die opwekking van elektrisiteit gaan gepaard met besoedeling van stofdeeltjies en swaeldioksied. Dit hou ‘n koste vir die gemeenskap in – mense se gesondheid word negatief beïnvloed. Daardie impak word deur die sosiale kostekromme voorgestel. Die gemeenskap se koste van ‘n eenheid elektrisiteit is hoër as die privatekoste vir Eskom.

Ons noem hierdie verskil ‘n eksternaliteit, want die negatiewe impak op die gemeenskap is ekstern tot die prysstelsel. Die negatiewe impak wat die besoedeling het op mense se gesondheid vorm nie deel van Eskom se koste of van die prys van elektrisiteit nie. As Eskom die sosiale koste in ag sou neem, sou hulle minder elektrisiteit opwek en dit teen ‘n hoër prys moes verkoop.

Die onderliggende probleem is dat inwoners nut kry uit skoon lug, maar dat hulle dit nie besit  nie, en dus nie die reg om dit te besoedel, kan verkoop nie. As skoon lug ‘n prys gehad het sou Eskom dit moes “koop” en dit sou deel geword het van hulle koste en produksiebesluite.

Dus probeer beleidmakers om eerder die probleem te ondervang met regulering. Kendal-stasie moet aan lisensievoorwaardes voldoen oor die uitlaatgasse wat vrygestel kan word. Maar effektiewe regulering is nie maklik nie. Veilige perke moet vasgestel word en gemonitor word en oortredings moet beboet word. Die berig verduidelik dat Eskom reeds ‘n waarskuwingsnota van die Groen Skerpioene gekry het en dat hulle strafregtelik aangekla kan word en ‘n boete van tot R5 miljoen kan kry – die lisensie vir Kendal-stasie kan selfs opgeskort word. Die Minister het egter die waarskuwing opgeskort en bestudeer nou Eskom se redes waarom hulle nie aan die lisensievoorwaardes kan voldoen nie. Eskom verduidelik dat ‘n staking in 2018 skade aangerig het wat nou stadigaan herstel word. Intussen gaan die besoedeling voort.

As jy nog meer wil leer oor die versteekte koste van besoedeling kyk die puik video van Marginal Revolution University.

Opdatering op 21 Mei 2020: Eskom word gedwing om die eenhede by Kendal wat die besoedeling veroorsaak, te sluit vir herstelwerk. Lees meer hieroor by BusinessLive.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s