Ek het ‘n podsending opgeneem vir Netwerk 24 en paar dinge te sê gehad oor die impak van die Covid-19 pandemie op die ekonomie en die President se sosio-ekonomiese hulppakket. Hier is deel van die storie.
Die sosiale en ekonomiese hulppakket doen sekere dinge reg, maar dit is minder duidelik of dit werk gaan skep.
Onlangse navorsing deur ekonome by die Universiteit van Kaapstad wys dat ons aan Suid-Afrika se sosiale struktuur moet dink in terme van vyf groepe:
- Kroniese arm mense (50%),
- Dié wat in en uit armoede is (“transient poor”) (13%),
- Mense wat uit armoede is, maar nog kwesbaar is (14%),
- Die middelklas (19%), en
- Die elite (4%).
Die Covid-19 pandemie het verskillende gevolge vir die verskillende groepe en elk benodig spesifieke soorte hulp.
- Kroniese arm mense kry 54% van hulle inkomste uit oordragbetalings en 37% uit werk. Ongeveer 56% van hulle woon in tradisionele landelike gebiede en het ontoereikende toegang tot basiese dienste. Onder kroniese arme mense is 54% ekonomies-onaktief, en 31% is indiensgeneem. Van daardie wat indiengeneem is, is ongeveer 55% in die formele sektor indiensgeneem. Vir hierdie huishoudings beteken die Covid-19 pandemie en die inperking, ʼn verlies aan hulle inkomste uit tydelike werke en mikro-ondernemings. Dit is hulle wat voedselnood kan ervaar. Die hulppakket se kospakkies en sosiale toelae is op hulle gemik en as die lewering daarvan goed gaan, behoort dit hulle baie te help.
- Die mense wat in en uit armoede is en die kwesbare groep het ʼn ander dinamiek. Veel meer van hulle bly in dorps- en stedelike gebiede. Ongeveer 70% van hulle inkomste kom van ʼn werk af. Meer as 50% van hulle is ingediengeneem of self-indiengeneem. Die gedeelte van die hulppakket wat op werkgewers gerig is, moet help om hierdie mense se lone en salarisse te beskerm en eindelik hulle werksgeleenthede.
Waar die besonderhede van die hulppakket onduidelik is, is by die R100 miljard vir werkskepping. Die President het net verwys na Uitgebreide openbare werke, maar nie meer besonderhede gegee nie.
Om te besef hoe moeilik die uitdaging van werkskepping is, help dit om na navorsing oor werkloosheid in Suid-Afrika te kyk.
- Die toename in werkloosheid sedert 1995 is gedryf deur veranderinge in die struktuur van die ekonomie (landbou en mynbou het minder arbeid begin gebruik), deur toename in die kapitaal-intensiteit van produksie, en meer vroue in die arbeidsmag.
- Daar is nie duidelike bewyse dat vakbonde, minimumlone of oordragbetalings werkloosheid laat toeneem nie. In bedrywe waar toename in lone nie verband hou met toenames in produktiwiteit nie, was die groei in indiensname min.
- Die meerderheid van werkloses (breë definisie) het nog nooit ʼn formele werk gehad nie.
- Hulle word vasgevang deur armoede. Hulle sit in tradisionele en landelike gebiede, afgesny van die ekonomie en werksgeleenthede (hulle het nie die eienskappe wat nodig is om mee te ding in die stedelike arbeidsmark nie).
- Hulle het nie werkservaring nie.
- Hulle is swak opgelei (Matriek tel in die formele, stedelike arbeidsmark)
- Hulle het nie sosiale kapitaal nie – ʼn netwerk waardeur hulle werk kan soek en stad toe trek nie.
- Hulle kan nie die koste van werk soek of mikro-sakegeleenthede dra nie.
Daar is geen korttermynoplossing hiervoor nie.