Die Wêreldbank se Data blog het onlangs interessante stukkies inligting en grafieke uit die laaste 10 jaar se Ontwikkelingsekonomie-navorsing gepubliseer.
Onder andere sluit dit die sg. ongelykheid-olifantgrafiek in wat jy hier bo kan sien. Dit lyk so bietjie soos die buitelyn van ‘n olifant! Die vertikale-as is die groeikoers in reële inkomste en die horisontale-as wys die inkomsteverdeling in blokke van 10 persentasiepunte (of dan persentiele). Hoe jy dit lees:
- Die Sjinese middelklas wat tussen die 50ste en 60ste persentiel van die inkomsteverdeling lê (m.a.w. meer as 50% van die wêreld se bevolking is armer as die Sjinese middelklas), se inkomste het tussen 1988 en 2008, met meer as 70% gegroei.
- Die storie lyk anders vir die Amerikaanse laer-middelklas. Hulle is relatief ryk want meer as 80% van die wêreld se bevolking is armer as hulle, maar hulle inkomste het skaars met 10% gegroei tussen 1988 en 2008.
- Die heel rykes is sommer af van die grafiek af en hulle inkomste het baie vinnig gegroei oor die tydperk!
Agter hierdie is ‘n storie van globalisering en die sg. polarisering van die arbeidsmag. Baie interessante vraagstukke.
Kyk ook sommer na al die ander stories en grafieke. Dit wys o.a. dat privaatskole is nie net vir rykmense nie, baie kinders gaan skool toe, maar leer min, en mikro-finansiering van kleinskaalse entrepreneurs is nie altyd die antwoord op alle ontwikkelingsuitdagings nie.