Die 2016 Begrotingsrede

Pravin-Gordhan

Fiskale disipline in aksie: Minister Gordhan vlieg ekonomiese klas van die Kaap na Johannesburg na afloop van die Staatsrede

Woensdagmiddag lewer Minister Pravin Gordhan die Begrotingsrede in die Parlement en dit word alom beskryf as een van die belangrikste begrotings sedert 1994. Daar is baie sinvolle vooruitskouings en ontledings beskikbaar en ek wil nie weer dieselfde goed as almal anders sê nie – doen sommer net ‘n Google soektog vir “Budget speech” of “Begroting 2016”. Ek dink daar is ‘n behoefte aan ‘n Q&A wat so bietjie deur die klankgrepe sny.

Hoekom is die 2016 Begroting so belangrik?

Omdat die ekonomie baie stadig groei is die owerheid se finansies onder druk en die begroting is die een kans wat die Minister het om almal te oortuig dat daar ‘n plan is en dat dit weer sal goed gaan.

Onthou, die owerheid bestee meer as sy belastinginkomste en die verskil word geleen. Wanneer die ekonomie stadig groei is daardie belastinginkomste nog kleiner as beplan, want werkers kry nie verhogings  nie en ondernemings maak nie groot wins nie. Selfs al bly besteding dieselfde, moet daar dus meer geleen word. Daardie “almal” wat die Minister moet oortuig van sy plan is dus eerstens die beleggers wat staatskuld koop en die kredietgraderings-agentskappe. Hulle wil sien dat die owerheid se besteding en belasting volhoubaar is – dat hulle kan aanhou om vir ons geld te leen teen billike rentekoerse, want ons sal kan aanhou terugbetaal.

Om die staatsfinansies op ‘n volhoubare koers te hê beteken eenvoudig dinge soos:

  • besteding moet nie baie vinniger as belastinginkomste groei nie.
  • die rente op die staatskuld moet nie ‘n te groot deel van besteding word nie.
  • die owerheid moet  nie geleende geld gebruik om lopende uitgawes soos salarisse te betaal nie.
  • die begrotingstekort as persentasie van BBP moet nie te groot wees nie.
  • die staatskuld as persentasie van BBP moet nie groot wees nie.

Die proses om dit alles reg te kry is eintlik al sedert 2014 aan die gang en word duidelik uitgespel in die medium-termyn bestedingsraamwerk. Ek het ook al daaroor geskryf voor verlede jaar se “mini”-begroting.

Die gevoel is egter dat die saak nou meer dringend is vir ‘n aantal redes. Die ekonomie groei nog stadiger as wat die 2015 beramings was. Dit beteken dat die Minister se inkomste beramings te hoog was en dat hy minder belasting gaan inkry as beplan. Al die ander maatstawwe wat uitgedruk word as ‘n persentasie van BBP lyk ook slegter as die BBP nie eintlik groei nie. Tergelyke tyd is daar inflasiedruk en die Reserwebank wat die repo-koers verhoog, en dit rem groei nog verder. Die gebeure rondom die afdanking van Minister Nene het ‘n gevoel van beleidsonsekerheid laat posvat. Om verdere onsekerheid hok te slaan moet Minister Gordhan ‘n ooglopend goeie begrotingsrede lewer dat almal kan sien die beleidmakers het dinge onder beheer.

So wat staan die Minister te doen?

Almal besef dat die Minister moet besteding besnoei en belasting verhoog. Die spekulasie gaan oor hoe hy dit gaan doen.

Sommige ekonome voel dat goeie fiskale beleid nie die nuus moet haal nie. Daar is mos ‘n medium-termyn bestedingsraamwerk wat beteken dat ons reeds weet wat die plan is. Enige aankondigings wat Woendag gemaak word moet dus klein wees en die boeke net-net balanseer. Met so siening sal die Minister ook ‘n “pro-poor” benadering volg. Hy sal nie die oordragbetalings na die heel armes sny nie en hy gaan besteding op basiese dienste probeer handhaaf. Hy gaan meer sê oor besparingsmaatreëls en die staat wat in die algemeen die gordel stywer moet trek. Dan sal hy belasting inkrementeel verhoog op diegene wat (relatief gesproke) dit kan bekostig om te betaal. En natuurlik gaan die brandstofheffing en sondebelasting op. Dus ‘n klomp klein besparings oor ‘n breë front en ‘n klomp klein belastinggapings wat toegemaak word. Niks dramaties nie, maar alles nodig.

Ander voel weer dat hierdie nie net die Minister van Finansies se laaste kans is nie, maar eintlik Suid-Afrikaanse beleidmakers se laaste kans is om goeie, geloofwaardige beleid te maak (dit moet opmaak vir al die sondes van die Zupta bedeling!). Hulle reken dat beleggers en die kredietgraderingsagentskappe wil nou groot planne sien wat die staatsfinansies op ‘n volhoubare koers sal sit en die ekonomie weer aan die gang sal kry – as dit nie gebeur nie, word ons afgegradeer na rommelstatus! Hulle dink aan beduidende inperking van besteding (sny die kabinet, skuif die Parlement), groter belastingverhogings, groot planne om te belê in infrastruktuur en onderwys, en privatisering. Almal het natuurlik hulle voorkeure en saal ook idees op wat buite die begroting en die Minister se portefeulje lê, soos arbeids-wetgewing, of ontwikkeling van kleinsake.

Die Minister gaan waarskynlik die middeweg neem: ‘n groot storie vertel van uitdagings in die internasionale ekonomie, binnelandse beperkinge en die visie van die Nasionale Ontwikkelingsplan, terwyl hy prakties gesproke ‘n klomp klein aanpassings maak wat besteding besnoei en belasting verhoog.

Maar hoe gaan hy dit doen dat ons hom glo?

Dit is die groot uitdaging. Ons het al baie gehoor van die groot planne vir infrastruktuur investering en die belangrikheid van mense-kapitaal. Daar was al twee ander begrotings wat die gordel stywer moes trek en besteding op voertuie en onthaalkostes sny. Wat gaan 2016 se beloftes anders maak?

Ons kan hoop vir “leierskap”, die krag van die Minister se persoonlikheid, of sy invloed in die kabinet. Sommiges sal redeneer dat EFF lawaai, ‘n moontlike nuwe werkersparty en studenteprotes die regerende party geen keuse laat as om te “deliver” nie. Ander praat graag van ‘n ekonomiese CODESA en sosiale ooreenkoms tussen die regering, besigheid en arbeid wat saamwerk om die NOP te implimenteer.

As ek die Minister was sou ek die volgende aanslag volg:

  • Sê maar reguit dat die Begroting niks kan doen vir ekonomiese groei of werkskepping in 2016 nie – ander dinge gaan dit bepaal.
  • Daar is ook nie geld vir groot nuwe planne wat groei potensiaal bou binne die 3-jaar periode van die bestedingsraamswerk nie.
  • Ons gaan aanhou om te doen wat ons doen – en dit is grootliks die regte goed soos besteding op infrastruktuur en onderwys – maar ons moet dit beter en meer koste-effektief doen. Om meer geld in dié dinge in te stoot gaan elkgeval nie nou help nie. Die uitdagings wat daar wel is, is nie dinge wat die Begroting of fiskale beleid kan oplos nie.
  • Meeste bestedingsitems kan nie nou dramaties gesny word nie. Om belasting dramaties te verhoog gaan ook niks help met groei of vertroue nie. Die aanpassings wat gemaak word is dus noodwendig klein en “piecemeal”.
  • Wat ons wel sinvol kan doen is om planne wat al lank bespreek word, en potensieël groot bestedingsimplikasies het, op die rak te sit totdat die ekonomie eendag weer vinniger groei. Niemand mag weer iets sê oor kernkragstasies, of nasionale gesondheidsversekering, of gratis hoër-onderwys nie.

En dan kan ons maar net hoop vir die beste: soos dat die wêreld-ekonomie weer begin groei, die President nie met die media praat nie, die plaaslike verkiesings klaar kom en die betogers huis toe gaan.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s