Die Minister moet Woensdag net een ding doen

Die begrotingsrede word elke jaar as ‘n balanseringstoertjie beskryf: daar word dalk bietjie meer bestee op onderwys of gesondheidsdienste en bietjie minder op verdediging, of aksynsbelasting word verhoog, maar daar is ook verligting vir persoonlike inkomstebelasting-betalers. Hierdie jaar, tydens sy eerste Begrotingsrede, het Mnr Nhlanhla Nene net een ding om te doen: hy moet buitelandse beleggers gerusstel dat Suid-Afrika se staatsfinansies in ‘n volhoubare posisie is.

3 gapings

Drie gapings tussen die lekkasies en inspuitings van die ekonomiese kringloop

Hoekom?

Buitelandse beleggers finansier ons tekorte. In Suid-Afrika verbruik ons meer as wat ons produseer. As ‘n land, is ons oortrokke. Die drie gapings is:

  • Ons investeer meer as wat ons spaar.
  • Die owerheid bestee meer as sy inkomste.
  • Ons invoer is meer as ons uitvoer.

Uitgedruk as persentasies van BBP, was die verskille (in 2013) tussen spare en investering = -5.6%, owerheidsinkomste en owerheids-besteding = -4.7% en dit gee saam die verskil tussen invoer en uitvoer = -10.3%. Dus word ongeveer 10% van die BBP gefinansier deur buitelandse beleggers. Of anders gestel, sonder hulle sal almal hulle gordels 10% stywer moet trek.

So hoekom is die Begroting so belangrik?

Die begrotingstekort is een van die gapings en dit word deels gefinansier deur buitelanders wat Suid-Afrikaanse staatseffekte koop (en ook deur buitelandse skuld wat in dollar uitgereik word). Die rente op die staatskuld is ‘n eerste las teen die owerheid se inkomste. As buitelanders sou bekommerd raak oor of die regering hulle skuld kan terugbetaal, vereis hulle ‘n hoër rentekoers vir die risiko wat hulle neem.

‘n Onvolhoubare posisie kan soos volg lyk: Owerheidsbesteding neem baie vinniger toe as owerheidsinkomste, daar is ‘n groot begrotingstekort en die owerheid moet meer leen, die rente op die staatskuld raak baie, dit neem ‘n groot deel van die inkomste op maar omdat ander besteding nie afneem nie groei die tekort verder en daar moet nog meer geleen word, die land se kredietgradering verswak en die rentekoerse op staatskuld styg, maar daar moet nog meer geleen word en so gaan dit aan tot by die sogenaamde fiskale afgrond.

Daar is navorsers wat sê die owerheid se loonrekening en sosiale oordragbetalings ons op die langtermyn tot by so afgrond kan bring. (Lees meer wat Prof Jannie Rossouw van Wits skryf en ook Frans Cronje van die SAIRR.)

Maar ons is darem nie by daardie punt nie.

In die nadraai van die 2008/09 finansiële krisis het die Suid-Afrikaanse ekonomie stadiger groei, belasting-inkomste het afgeneem en owerheidsbesteding het gegroei. Die tekort-tot-BBP en Staatskuld-tot-BBP verhoudings het verswak. Sedert 2014 volg die owerheid egter ‘n konsolidasieprogram wat groei in besteding beperk en poog om belastinginkomste te verhoog. Daar word beraam dat die 2014/15 begrotingstekort op ongeveer 3.9% van BBP te staan sal kom. Die staatskuld-tot-BBP verhouding was 45.9% in 2013/14. Hierdie is nie Griekeland nie.

So wat moet die Minister alles doen en sê?

Die feit dat daar nie ‘n groot fiskale krisis is nie, maak dit moeilik. Dit is nie nodig om ‘n groot nuwe plan op die tafel te sit nie. Hy wil die tekort verder verminder en die skuld-tot-BBP verhouding stabiliseer, maar om dit te doen moet hy beleggers oortuig dat besuiniging van besteding en ‘n bietjie meer belastinginkomste die deurslag gaan gee. Die Medium Term Budget Policy Statement (MTBPS) sê presies wat nodig is:

  •  Die plan was om nie-rente besteding te verlaag met R5.7 miljard in 2014/15 en dan R10.1 miljard in 2015/16 en R15.5 miljard in 2016/17.
  • Nuwe belasting voorstelle moet R12 mijard se bykomende inkomste inbring in 2015/16.

Almal wag natuurlik om te hoor of die Minister meer gaan vertel oor die werk van die Davis belastingkommissie en intussen is daar heelwat voorstelle oor hoe om die R12 miljard in te kry.

    • Alex Smith skryf dat om 60c by die brandstofheffing te voeg behoort ‘n bykomende R13.5 miljard per jaar in te bring. Op die manier kry die owerheid ‘n deel van die voordeel van ‘n laer olieprys en die verbruiker betaal darem steeds minder vir brandstof as in die dae van $110 per vat ru-olie. Dit is natuurlik maklik en goedkoop om in te vorder, maar regressief.
    • ‘n Verhoging van BTW is ‘n soortgelyke opsie. Jac Loubser reken dat ‘n 0.5 persentasie punt verhoging van die BTW koers kan R10 miljard se bykomende inkomste genereer.
  • Belasting voorstelIn Prof Jannie Rossouw se werk oor die fiskale afgrond, ondersoek hy ‘n voorstel om die rykes wat meer as R1 miljoen en R2 miljoen per jaar verdien, swaarder te belas. Volgens die berekeninge kan dit ‘n bykomende R7.5 miljard inbring.

So wat kan skeef loop?

Op ‘n baie praktiese vlak hang die sny van besteding hoofsaaklik af van die owerheid se loonrekening. Die plan is dat die aantal staatsamptenare nie toe moet neem nie, vakante poste se geld word gespaar en met loononderhandelinge kan die owerheid net die inflasiekoers +1 persentasie punt verhoging aanbied. Die plan kan hier staan of val.

Op ‘n meer makro-vlak kan dit gebeur dat die ekonomie stadiger groei as wat die owerheid beraam (bv. as gevolg van die elektrisiteitskrisis). Dit sal beteken dat minder belasting ingekry kan word uit die gewone belastingbronne. Dan is die tekort groter en die skuld meer. Maar as die ekonomie dalk (deur een of ander wonderwerk) beter vaar, los die probleem homself op.

Op ‘n beleidsvlak kan buitelanders dalk bekommerd wees oor die goed wat nie in die Begroting is nie. In die staatsrede het die President meer gepraat oor die Vryheidsmanifes as oor die Nasionale Ontwikkelingsplan. Dit behels idees rondom ‘n groter rol vir die owerheid in die ekonomie. Dinge soos grondhervorming,  nasionale gesondheidsversekering, of aktiewe nywerheidsbeleid gerig op werkskepping impliseer reuse, onvolhoubare owerheidsbesteding.

Dit is voorstelle en bekommernisse oor voorstelle waaroor die Minister van Finansies geen beheer het nie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s